Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bosasa-likwidasie ‘kan nekslag vir kinderhawe wees’

Die likwidasie van African Global Operations (AGO), voorheen bekend as Bosasa, plaas die toekoms van ’n Oos-Kaapse toevlugsoord vir babas en peuters in die gedrang.

AGO was die grootste skenker vir die Zanethemba-welsynstigting se Baby Haven in Port Elizabeth, sê Catherine van Rensburg, direkteur van die stigting.

Die toevlugsoord bestaan sedert 2008, met Bosasa wat van 2009 tot en met twee jaar gelede, elke maand R35 000 geskenk het.

Catherine van Rensburg, direkteur van die Zanethemba-welsynstigting se Baby Haven in Port Elizabeth.

In 2017 is die bedrag tot R20 000 per maand verminder, maar Dinsdag het Van Rensburg die nuus gekry dat die stigting voortaan niks meer van AGO sal ontvang nie.

“Ons is ingelig dat hulle ons nie verder kan ondersteun nie weens die likwidasie.”

AGO het Maandag aangekondig dat hy vrywillige likwidasie aanvaar nadat twee banke gesê het hulle gaan teen 28 Februarie alle bande met hom verbreek. Dit volg op die onlangse opspraakwekkende getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Daar is beweer dat die maatskappy miljoene rande se omkoopgeld en ander geskenke aan amptenare en politici gegee het.

Van Rensburg sê hulle is platgeslaan oor die verlies en bekommerd oor hoe hulle die maandelikse uitgawes van sowat R65 000 sal kan dek.

“Dit is natuurlik ’n baie stresvolle situasie. Hier is personeel wat staatmaak op salarisse, kinders om te voed, doeke om te koop en huur om te betaal.”

Die oord bied ’n veilige hawe vir kinders onder die ouderdom van ses jaar. Die kinders word of deur die hof in die sorg van die stigting geplaas, of dit dien as tydelike tuiste vir “weggooi”-babas en -kinders.

“Die kinders is gewoonlik vir ’n minimum van drie maande by ons, maar hulle kan ook tot ’n jaar of twee by ons woon. Dit hang af van die hof of van wanneer ’n kind aangeneem word.”

Daar is ses versorgers wat na 12 kinders kan omsien.

“As dit gebeur dat ons weens ’n tekort aan geld net na ses kinders sal kan omsien, beteken dit ons sal personeel moet verminder. Dit is iets wat tot elke prys vermy moet word.”

Die stigting se beplande hulp-krisissentrum om voor en ná geboorte berading aan jong ma’s te gee, is vir eers uitgestel.

Die stigting kan vir die volgende twee maande nog sy finansiële verpligtinge nakom, maar daarna is die toekoms onseker.

“Ons het ander skenkers en ons is dankbaar vir elke skenker en fondsinsameling. Maar ons het skenkers nodig wat op lang termyn kan help om die oord se deure oop te hou.”

Enigiemand wat wil help, kan Van Rensburg kontak by catherine@zanethemba.org.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.