Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bosasa: Waarskuwing oor ‘verdoeseling’

Die “verdoeseling” van beweerde korrupsie en geldwassery by Bosasa, wat nou as African Global Operations (AGO) bekend staan, is in volle gang.

Só lui ’n gedeelte van ’n uiters vertroulike brief wat Woensdagaand omstreeks 23:00 aan die Meester van die Hooggeregshof gestuur is. In die brief word onder meer verwys na meer as R200 miljoen wat stelselmatig uit Bosasa-rekeninge na private bankrekeninge van Bosasa-direkteure en dié van Gavin Watson, uitvoerende hoof, “gefiltreer” is.

Netwerk24 het die brief eksklusief bekom.

Gavin Watson, destydse uitvoerende hoof.Foto: Webblad van Bosasa

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het intussen die likwidateur van die AGO vir afskrifte van dokumente van die maatskappy gevra.

Die geld wat uit AGO se rekening na private rekeninge oorbetaal is, sluit glo vet bonusse van tussen R5 miljoen en R6 miljoen aan direkteure in, het ’n ingeligte bron aan Netwerk24 gesê. Dit is na bewering ’n poging om geld uit die onderneming te tap voordat dit gelikwideer word.

Watson wou nie kommentaar lewer op die bewerings nie.

“Jy kan skryf oor my net wat jy wil,” het hy Vrydag gesê.

Die Meester het Cloete Murray van Sechaba Trust Vrydagoggend as likwidateur van AGO aangestel nadat die onderneming Maandag aangekondig het dat hy genoop is om vir vrywillige likwidasie aansoek te doen.

Dit volg nadat twee banke – FNB en Absa – aangedui het dat hulle teen 28 Februarie alle bankrekeninge van die maatskappy gaan sluit uit vrees vir skade aan hul reputasie.

Na verwagting sal 4 500 AGO-werknemers en 3 100 kontrakteurs hul werk verloor.

AGO se direkteure wou glo nie gehad het Murray moet as die likwidateur aangestel word nie. Hulle het ’n ander kandidaat in gedagte gehad.

Werknemers van Bosasa staan gister buite die maatskappy se hoofkantoor in Krugersdorp.Foto: Ntwaagae Seleka, News24

In die brief pleit die skrywer, wat aan Netwerk24 bekend is, dat die Meester nie AGO se keuse vir likwidateur, wat vir ’n onderneming in Pretoria werk, moet aanstel nie.

“Die personeel is ongelukkig in ’n posisie waar hulle bang is om die instruksies wat hulle ontvang, te bevraagteken . . .”

Volgens die skrywer van die vertroulike brief word personeel “gedwing” om sekere dokumente te onderteken.

Toe die beweringe oor die miljoene rande se transaksies en die beweerde verdoeseling daarvan aan Papa Leshabane, uitvoerende direkteur en woordvoerder van AGO, gestel is, het hy Netwerk24 na die likwidateur verwys.

Watson het alle navrae na óf Leshabane óf die likwidateur verwys.

Murray het gesê hy dra geen kennis van enige sodanige bewerings nie. Hy is pas as likwidateur aangestel. Murray het egter gesê dat hy Vrydagoggend ’n forensiese rekenmeester aangestel het “wat deur elke bankstaat sal gaan”.

Hy het ook bevestig dat die AGO-direksie ontbind het.

Vroeër is berig dat die SAID kort ná 12:00 op die omstrede dienstemaatskappy op Krugersdorp toegeslaan het en glo op dokumentasie en rekenaars beslag gelê het.

Die SAID kan nie praat oor Vrydagoggend nie, behalwe om te sê dat ons die gebeure voor die Zondo-kommissie fyn dophou.
Viwe Mlenzana, waarnemende hoofbeampte van wetstoepassing by die SAID.

Murray het enige beslaglegging ontken.

“Dit was nie ’n lasbrief om beslag te lê op enigiets nie. Die SAID het vanoggend ingevolge die Wet op Belastingadministrasie gevra vir sekere inligting. Hulle wil afskrifte hê van die maatskappy se rekords. Ons het daartoe ingestem.

“Hulle het nie beslag gelê op rekenaars of dokumente nie, ek weet nie waar daardie inligting van die media vandaan kom nie,” het hy gesê.

Viwe Mlenzana, waarnemende hoofbeampte van wetstoepassing by die SAID, het Vrydag aan Philda Essop gesê die SAID is nie in die posisie om spesifieke inligting en besonderhede oor die sake van belastingbetalers bekend te maak nie.

“Wat ek kan bevestig, is dat ons landwyd besig is met verskeie wetstoepassingsaksies vanweë die werk wat ons doen deur ons span in die nuwe eenheid teen sluikhandel-eenheid.

“Ons volg wenke op en volg gebeure soos die verskeie kommissies van ondersoek wat tans in die openbare domein aan die gang is. Belastingbetalers is ook verplig om jaarliks hul belastingopgawes in te dien en ons tree op as ons enige misdadige aktiwiteite optel.

“Die SAID kan nie praat oor Vrydagoggend nie, behalwe om te sê dat ons die gebeure voor die Zondo-kommissie fyn dophou.”

* Watson is sedert 1999 Bosasa se grootbaas.

Sy naam is sedert Januarie vanjaar in die nuus nadat die vorige bedryfshoof, Angelo Agrizzi, voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig het.

Agrizzi het onder meer getuig Watson het opdrag gegee vir talle omkooptransaksies.

Dit blyk uit inligting van die nasionale tesourie dat Bosasa tussen 2004 en 2019 ’n geraamde R12 miljard van verskillende staatsdepartemente gekry het, het die nuuswebwerf News24 berig.

Dié bedrag word as konserwatief beskou en kan heelwat meer wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.