Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bottelnek by hawe pynig boubedryf

Die slegte weer vroeër die week het bygedra tot die reeds bestaande opeenhopings in die Kaapse hawe, en rolspelers in die Wes-Kaapse boubedryf kla nou dat vertragings tot verdere verliese in die bedryf lei.

Die stormweer van die afgelope week het dit vir Transnet moeilik gemaak om die agterstande in die Kaapse hawe weg te werk. Foto: TNPA

Paulo Giannini van TM Building Supplies sê handelaars ondervind nou tekorte aan boumateriaal wat ingevoer word, soos sekere soort riffelplate, laaghoutbord, asook ysterware soos spykers.

Die hele waardeketting in die boubedryf, van invoerders tot vervaardigers, kleinhandelaars en bouers, het moontlik al tot 33% van hul sake verloor weens die probleme in die hawe sedert die begin van die inperking, meen Giannini.

Hy gee toe baie van dié boumateriaal kan plaaslik vervaardig word. “Maar kapitalisme se basiese reëls is dat die beste produk, die beste diens en die beste prys bepaal wie die markleier is, selfs as dit ingevoer is en daar heffings op is om die plaaslike markte te beskerm.”

Stormweer, rowwe seetoestande en deinings van meer as 9 m het veral Maandag die beweging van vragskepe in en uit die Kaapse hawe ontwrig, het Transnet bevestig. Teen Dinsdag was daar agt houervragskepe wat buite die hawe wag vir vasmeerplek, met ’n gemiddelde wagtyd van nege dae weens die slegte weer én Covid-19 inperkings, het David Davids van Transnet Port Terminals (TPT) in die hawe se jongste nuusbrief laat weet.

Transnet verwag die agterstand sal teen die tweede week van Augustus eers weggewerk kan word, het Davids gesê. Daar is ses skofspanne wat dag en nag by die houerkaai werk om dit reg te kry. By die kaai vir algemene vrag werk TPT teen 82% van sy bedryfsvermoë, met twee vasmeerplekke en vier skofte, het Sipho Khanyile van TPT gesê. Daar is een skip buite die hawe wat wag vir vasmeerplek by die algemene kaai, en die gemiddelde wagtyd is tans twee dae.

Mpumi Dweba-Ketana, hawebestuurder van Transnet National Ports Authority in Kaapstad. Foto: TNPA

Transnet National Ports Authority, verantwoordelik vir marienedienste in die hawe, werk tans met 87% van sy personeel en alle mariene loodse is terug aan diens, het Mpumi Dweba-Ketana, hawebestuurder, gesê.

Leë koelvraghouers kom egter te stadig die hawe binne, volgens Glen Steyn, navorsingsekonoom van die Wes-Kaapse regering se eenheid om rompslomp te verminder.

Dit belemmer tans die vrugte- en wynuitvoerbedryf.

Volgens Transnet is die hawens in Port Elizabeth en Ngqura ook weens die sterk winde ontwrig.

Teen Vrydag het TPT se dagverslag soos gepubliseer op sy webblad aangedui dat tot tien vragskepe wag om vasmeerplek te kry, terwyl minstens vier skepe langer in die hawe moes bly voordat hulle kon vertrek.

In TPT se verslag oor vasmeerplek vir invoervrag is gemeld dat vier vragskepe vertraag is deur windtoestande en opeenhopings, en nog ses weens ’n kombinasie van opeenhopings, digte mis en wind.

Meer oor:  Kaapse Hawe  |  Selfdoen  |  Covid-19  |  Konstruksie  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Hawens  |  Boubedryf  |  Vlak 3  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.