Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bouers angstig vir somer, vlak 1
Afrimat se konstruksie-indeks (ACI) vir die tweede kwartaal het skerp gedaal weens die Covid-19-inperking wat die bedryf tot stilstand gebring het.

Somer bring dalk groei in die boubedryf, maar eers moet die regering vlak 1 van die inperking in werking stel.

Afrimat se konstruksie-indeks (ACI) vir die tweede kwartaal het skerp gedaal weens die Covid-19-inperking wat die bedryf tot stilstand gebring het.

Die ACI, wat die ekonoom dr. Roelof Botha namens die konstruksiegroep Afrimat opstel, het tot ver onder die basisvlak van 100 getuimel. Dit volg op die eerste kwartaa,l waarin die ACI vir die eerste keer sedert die bestaan van die indeks tot onder 100 geval het.

Voor die pandemie het die boubedryf met lae vlakke van vertroue, hoë rentekoerse, dalende openbare besteding aan infrastruktuur en ’n pap ekonomie te kampe gehad.

Met die streng inperking van April tot Junie het die bedryf bykans tot stilstand geknars.

Dit word bevestig deur die groeisyfers vir die tweede kwartaal wat vroeër die week uitgereik is en wat wys die konstruksiebedryf het die swakste van al die subsektore in die ekonomie gevaar. Dit het teen meer as 30% gekrimp vergeleke met ’n jaar gelede.

Die stelselmatige verligting van die inperkingsreëls het wel tot ’n V-vorminge herstel vir die meeste sektore gelei, sê Botha. Dit word veral gesien in kleinhandelverkope van algemene boumateriaalhandelaars, wat in Junie 2% beter verkope gehad het as ’n jaar gelede teen huidige pryse. Dieselfde tendens geld kleinhandelverkope by ysterwarewinkels, waar verkope in Junie 4% beter was as ’n jaar gelede.

Die volume van boumateriaal wat vervaardig is, bly egter gedemp. ’n Betekenisvolle herstel word eers in die derde kwartaal verwag.

Kontrakteurs en bouers is onder groot druk om verlore boutyd in te haal en ’n skuif na vlak 1 van die inperking kan volgens Botha die weg baan vir ’n sterk vierde kwartaal vir die konstruksiesektor.

As die somer aanbreek, is dit volgens Botha ook makliker vir werkgewers om oortyd toe te laat, want die binneland geniet in Desember byna 14 uur daglig.

Botha beklemtoon die skerp insinking van die ACI in die tweede kwartaal moenie as ’n tendens beskou word nie. Die ACI het al van die begin van 2018 begin stabiliseer ná ’n teleurstellende insinking in die laaste paar jaar van oudpres. Jacob Zuma se regering.

Hoewel die konstruksiebedryf tans net 3% regstreeks tot die bruto binnelandse produk bydra, is dit ’n deurslaggewende bedryf om ander ekonomiese aktiwiteite moontlik te maak.

konstruksie

Faktore wat volgens Botha goeie belofte inhou vir die bedryf, is:

  • Die rentekoers, wat tot die laagste vlak in verskeie dekades gedaal het, sal die koste van kapitaal nog vir die volgende paar jaar laag hou. Studies deur prof. Ilse Botha van die Universiteit van Johannesburg wys dat ’n gemiddelde reële prima uitleenkoers van 3,7% teenoor die 6% van voor die Reserwebank se ingryping, oor die volgende twee jaar meer as R100 miljard tot huisleningswaarde kan bydra; en
  • Die regering se infrastruktuurprogram het 51 strategies belangrike projekte wat versnel sal word om die nodige goedkeuring te kry. Bouwerk daaraan kan al voor einde Oktober begin, en R340 miljard is daarvoor geoormerk.

Konstruksie is die mees arbeidsintensiewe sektor in die ekonomie, en die groot prioriteit vir bekostigbare behuising het die potensiaal om die bedryf se voorsieningsketting nuwe energie te gee. Dit is nie van invoer afhanklik nie, so plaaslike ondernemings trek voordeel daaruit, sê Botha.

Syfers uit die jongste ACI vir die tweede kwartaal:

  • Voltooide bouplanne volgens waarde val met 90,5%
  • Goedgekeurde bouplanne volgens waarde val met 73,1%
  • Verkope van boumateriaal val met 43,2%
  • Kleinhandelverkope van hardeware val met 24,6%
  • Salarisse en lone in die boubedryf val met 24,2%
  • Werkgeleenthede in die boubedryf val met 6,2%
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.