Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Brait se stemme verkeerd getel op vergadering

Die beleggingsmaatskappy Brait het beleggers ingelig die stemme is verkeerd getel op sy onlangse jaarvergadering, waar 29,9% teen sy grootste aandeelhouer, Christo Wiese, se heraanstelling as nie-uitvoerende direkteur gestem het.

Brait besit beleggings in die gimnasiumgroep Virgin Active, die Suid-Afrikaanse kosvervaardiger Premier, wat handelsname soos Snowflake, Iwisa en Blue Ribbon besit, asook die Britse kleinhandelaars Iceland en New Look. 

Die bekende sakeman Christo Wiese het in 2011 die grootste aandeelhouer in Brait geword toe hy 34,6% bekom het. Hy is 'n nie-uitvoerende direkteur. Foto: Jaco Marais

Brait het Woensdag aangekondig hy is bewus gemaak van “onopsetlike foute” wat ingesluip het in die samestelling van die stemresultate deur sy oordragsekretaris, Computershare, wat gegrond word op die steminstruksies wat elektronies van Strate ontvang is. (Strate doen die elektroniese vereffening van finansiële instrumente in Suid-Afrika.)

“Soos standaardpraktyk is, het die maatskappy op die resultate van die stemmery staatgemaak wat aan hom verskaf is deur Computershare en dit is in die aanvanklike verklaring vervat.”

Die aanvanklike verklaring is op 31 Julie uitgereik.

Daarin was dit opsigtelik hoe groot die persentasie was wat teen Wiese gestem het vergeleke met die ander direkteure. Die nuwe persentasie stemme is nog hoër op 30,8%.

Omdat dit 'n gewone resolusie is, is dit egter nie afgekeur nie. 

Geen verandering in goedkeuring

Die verandering in die stemme het nie enige resolusie omgekeer nie. Dié resolusie oor Wiese se herverkiesing en al die ander gewone resolusies is steeds goedgekeur met die hersiene stemresultate.

Die resultaat van die enigste resolusie wat nie goedgekeur is nie, 'n buitengewone resolusie, bly onveranderd. Dié resolusie was reeds voorheen afgekeur omdat 75% benodig word vir goedkeuring.

Dit blyk uit die nuwe verklaring meer stemme is nou ingesluit as wat in die vorige een getoon is. ’n Ontleding van die aankondiging toon die persentasies verskil op tien resolusies.

Netwerk24 het in die meegaande tabel die groter verskille uitgelig.

Dit sluit in die persentasie stemme vir die direkteure Jabu Moleketi, onafhanklike nie-uitvoerende voorsitter; Chris Seabrooke; Herman Troskie en Wiese.

Die ander groot verandering in die stempersentasie is op die gewone resolusie om die direksie se magtiging te hernuwe om gewone aandele uit te reik en die buitengewone resolusie om die direksie magtiging te gee om statutêre voorkoopregte terug te trek. 

Die maatskappy het voor die jaarvergadering ’n gewone resolusie oor ’n nuwe aandeelplan teruggetrek wat hy in werking wou stel vir sy adviseurs Brait Advisory Services UK Bpk. en Brait South Africa en hul onderskeie beleggingspanne. Die resolusie is teruggetrek ná terugvoer van aandeelhouers.

Redes vir teenkanting

Die naasgrootste aandeelhouer ná Wiese is die pensioenfonds vir staatsamptenare wat deur die Openbare Beleggingskorporasie bestuur word, gevolg deur Allan Gray.

Allan Gray se Leonard Kruger het gesê die batebestuurder het kliënte aanbeveel om teen die resolusie oor voorkoopregte te stem, maar dit is nie spesifiek tot Brait nie.

“Dit is ’n redelik tegniese resolusie, maar as dit goedgekeur word, sal dit direkteure toelaat om nuwe aandele uit te reik met ’n regte-uitgifte sonder dat dit aan bestaande aandele eerste aangebied word. Om vanselfsprekende redes stem ons altyd teen sulke resolusies om ons kliënte te beskerm teen die risiko van ’n swaar afslag-regte-uitgifte waar hulle nie die geleentheid kry om deel te neem nie.”

Hy het gesê Allan Gray het soos verlede jaar weer kliënte aanbeveel om teen Wiese as ’n direkteur te stem. “Ons maak nie die rede openbaar nie.”

Jan Meintjes, portefeuljebestuurder van Denker Capital, meen die groot teenkanting teen Wiese as direkteur gaan oor die gebrek aan vertroue wat minderheidsaandeelhouers in hom het. 

Ook Old Mutual Investment Group se verslag oor hoe namens kliënte gestem is, toon hulle het teen Moleketi, Seabrooke en Wiese gestem.

Die stem teen hulle hou verband daarmee dat hulle op te veel direksies dien. Old Mutual het ook verlede jaar teen Seabrooke en Wiese gestem.

Die OBK het nie op vrae gereageer oor die stemmery nie. Sy verslag oor hoe hy verlede jaar gestem het, toon hy het teen Troskie gestem omdat sy onafhanklikheid bevraagteken word omdat hy reeds 12 jaar op die direksie is.

Die OBK het ook teen die direksie se magtiging om gewone aandele uit te reik en die voorkoopregte wat teruggetrek kan word, gestem.

Brait se aandeelprys loop deur en het begin Augustus sy laagste vlak in ’n dekade bereik. Die aandeelprys het Vrydag 2% laer op R13,15 gesluit wat steeds rondom die laagste vlak in tien jaar is.

Brait

Meer oor:  Allan Gray  |  Brait  |  Obk  |  Old Mutual  |  Christo Wiese  |  Stemmery  |  Jaarvergadering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.