Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Brait val 26% ná skuldeisers winkelgroep oorneem

Die Suid-Afrikaanse beleggingsgroep Brait, waarvan die sakeman Christo Wiese die grootste aandeelhouer is, se aandeelprys op die JSE het Maandagmiddag met 26% getuimel nadat ’n plan aangekondig is wat skuldeisers beheer oor sy Britse winkelgroep New Look gaan gee.

Christo Wiese
Christo Wiese, wat die grootste aandeelhouer in Brait is, einde Januarie 2018 in die parlement toe terugvoer oor die ineenstorting van Steinhoff gegee is. Foto: Nellie Brand-Jonker

Die Londense Evening Standard berig skuldeisers van New Look is reg om beheer oor te neem van die sukkelende klerewinkelgroep in ’n poging om sy skuldlas van meer as £1 miljard te verminder en sy deure oop te hou.

Dié koerant haal die maatskappy se uitvoerende hoof, Alistair McGeorge, aan wat sê herfinansiering sal die groep se toekoms beveilig en sy wins verbeter.

New Look het verlede jaar reeds 86 van sy 593 winkels in Brittanje gesluit.

Brait, wat tans 90% van New Look besit, se belang kan tot 18% verminder word as die skuldplan goedgekeur word.

Brait se aandeelprys het aanhou val nadat hy net ná 10:00 Maandagoggend op die JSE aangekondig het New Look het in beginsel ’n ooreenkoms met krediteure bereik om sy balansstaat te herstruktureer.

Die transaksie sal New Look se langtermynskuld wesenlik van £1,35 miljard tot £350 miljoen verminder.

Dit sal sy jaarlikse rente betaalbaar van £80 miljoen tot sowat £40 miljoen verminder.

Die val in Brait se aandeelprys kom nadat Brait gesê het wat die impak van die transaksie op sy netto batewaarde per aandeel gaan wees omdat die waarde van die skuldbriewe wat hy tans hou, drasties gaan daal.

Brait het reeds in die verslagtyd tot einde 30 September 2017 sy aandeelhouding en belegging in New Look ten volle afgeskryf.

Ná die transaksie sal sy aandeelhouding in New Look tussen 18% en 30% beloop.

New Look het toestemming gekry om tussentydse finansiering van £80 miljoen in te samel om die onderneming op kort termyn te ondersteun sodat die transaksie in werking gestel kan word.

Die tussentydse finansiering word deur Brait en sekere krediteure ondersteun.

New Look sal ook ondersteun word deur £150 miljoen se kapitaal in te samel deur nuwe skuldbriewe uit te reik. Dit sal aangewend word om die oorbruggingslening te herfinansier en bykomende likiditeit te verskaf om beleggings in die onderneming te versnel om sy groei en wins te verhoog.

Brait hou tans 18,2% van die skuldbriewe. Einde September was die waarde van die skuldbriewe sowat R2 miljard (£111 miljoen). Die skuldbriewe wat Brait tans hou, sal vir £45 miljoen se nuwe skuldbriewe verruil word.

Dít gaan Brait se netto batewaarde per aandeel met R2,20 verlaag vergeleke met 30 September 2018.

Brait sal ook tussen £9 miljoen en £33 miljoen as onderskrywer moet verskaf vir die transaksie afhangende van hoeveel van die ander krediteure aan die herstrukturering deelneem. Dit gaan uit sy kontantbronne in pond gefinansier word.

Die transaksie sal na verwagting tussen April en Junie vanjaar afgehandel word.

New Look het ’n moeilike 2018-boekjaar gehad en die bestuurspan is besig met ’n omkeerplan om sy wins te herstel.

Daar was aanvanklik ’n verbetering, maar laat in November en in Desember het die groep weer die wind van voor gekry toe minder mense sy winkels besoek het en sy mededingers promosies gehou het om verkope te stimuleer. Sy vergelykende verkope in Desember was amper 6% laer.

Sy bedryfswins vir die volle boekjaar gaan laer wees as wat aanvanklik verwag is.

Die maatskappy sê die bykomende onsekerhede wat Brexit skep, is een van die redes waarom hy sy skuld nou wil herstruktureer.

Die transaksie is onderhewig aan ’n aantal voorwaardes, goedkeurings en ander onsekerhede.

Sy aandeelprys was net voor 17:00 26% laer op R23,40. Dit het kort daarna effens herstel en was 21% laer vir die dag op R25. 

Brait
Die grafiek van Iress toon Brait se aandeelprys het Maandag 14 Januarie so geval tot R25 na sy aankondiging oor die plan om New Look se skuld te herstruktureer.


Meer oor:  Brait  |  New Look  |  Christo Wiese  |  Herstrukturering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.