Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Brexit: Nissan skrap glo plan vir Britse X-trail

Nissan gaan glo nie meer sy nuwe modelle X-trail en Qashqai in Engeland bou soos byna drie jaar gelede belowe is nie.

Sky News het Saterdag eerste hiervoor berig en sê die maatskappy pak die skuld op die risiko dat Brittanje die Europese Unie op 29 Maart sonder enige handelsooreenkoms gaan verlaat. Sonder ’n handelsooreenkoms sal in- en uitvoertariewe tussen Brittanje en die res van Europa geld.

Nissan se X-Trail word tans net in Japan vervaardig.

Nissan het in Oktober 2016 – ná die Brexit-referendum – aangekondig dat hy sy fabriek in Sunderland in die noordooste van Engeland gaan uitbrei om die X-trail te kan vervaardig. Op die oomblik word die X-trail slegs in Japan vervaardig.

Volgens Sky en ander bronne is daar sprake daarvan dat Nissan ’n ooreenkoms met die Britse regering gesluit het waarin die regering belowe het hy sal die maatskappy teen handelstariewe beskerm.

Tot dusver het Nissan nog nie op die gerugte gereageer nie. Aan The Guardian het ’n woordvoerder gesê: “Ons reageer nie op gerugte en bespiegelings nie.”

Nissan se Sunderland-fabriek, wat in 1986 sy deure oopgemaak het, is die grootste motorfabriek in Europa, volgens The Guardian.

Nagenoeg 6 700 mense werk by Sunderland, wat ook Nissan se grootste fabriek in Europa is. Dit vervaardig sowat 2 000 motors per dag.

Die nuus kom kort nadat die Europese Unie ’n vryehandelsooreenkoms met Japan gesluit het, wat invoertariewe op motors teen 2027 tot 0% sal verminder, van die huidige 10%, berig die BBC.

Die Franse motorvervaardiger Renault is ’n groot aandeelhouer in Nissan. Gegewe die onsekerheid oor die Renault-Nissan-vennootskap is dit ’n ope vraag of Nissan dalk ’n fabriek in Frankryk sal bou. Carlos Ghosn, voormalige voorsitter van Nissan, is sedert November in ’n Japanse tronk, waar hy in afwagting op ’n verhoor oor finansiële misdade aangehou word. Hy was ook tot onlangs toe die uitvoerende hoof van Renault.

Die Nissan-besluit kan dalk nie nét voor die Brexit-deur gelê word nie. Motorverkope is wêreldwyd onder druk – China het byvoorbeeld onlangs die eerste jaardaling in motorverkope in 20 jaar aangekondig, van 6%, en motorverkope in Europa het in 2018 met slegs 0,1% gegroei, volgens die bedryfsligaam ACEA, berig Wheels24.

Sedert die dieselskandaal by Volkswagen, BMW en verskeie ander Europese motorvervaardigers is Europeërs lugtig vir dieselvoertuie.

Bronne: Reuters, Wheels24, The Guardian, Sky News, BBC

Meer oor:  Nissan  |  Brexit  |  Motors  |  Motorvervaardigers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.