Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Brexit-ramp vir Volkswagen op die nipper gekeer

Suid-Afrikaanse motorvervaardigers is maar een groep wat ’n sug van verligting slaak nadat Suid-Afrika ’n ooreenkoms met Brittanje bereik het oor handel ná ’n Brexit.

Volkswagen SA sou een derde van sy produksie kon verloor sou Suid-Afrika en Brittanje nie ’n nuwe handelsooreenkoms vir post-Brexit gesluit het nie.

Thomas Schaefer, voorsitter en besturende direkteur van die Volkswagen-groep Suid-Afrika (VWSA), sê met dié ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Brittanje is die gevaar wat ’n wegbreking van Brittanje uit die Europese Unie sonder ’n ooreenkoms vir Suid-Afrika en vir die voertuigvervaardigingsbedryf inhou, afgeweer.

Volgens hom sou dit rampspoedig wees vir VWSA omdat die vervaardiger sowat 55 000 van die voertuie wat hy jaarliks by sy fabriek in Uitenhage bou, na Brittanje uitvoer. VWSA sou dus een derde van sy produksie kon verloor sou Suid-Afrika en Brittanje nie ’n nuwe handelsooreenkoms vir post-Brexit gesluit het nie.

Verlede jaar was Brittanje volgens volume die topbestemming vir Suid-Afrikaanse voertuiguitvoer. In waarde was dit die tweede (R17,2 miljard) naas Duitsland (R57,6 miljard), blyk uit die jongste Automotive Export Manual.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het in September gesê danksy die nuwe ooreenkoms sal handel tussen Suid-Afrika en Brittanje voortgaan sonder enige onderbreking, ongeag die Brexit-uitkoms.

Brittanje is een van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote. In 2018 het bilaterale handel tussen die twee lande R142 miljard beloop, het die minister gesê.

Dit is Suid-Afrika se vierde grootste mark vir uitvoer, ná China, Duitsland en Amerika, en is die sewende grootste verskaffer van ingevoerde goedere.

Schaefer sê hoewel die ooreenkoms goeie nuus is vir die motorbedryf, is daar nog baie hindernisse, soos probleme met Transnet se onmededingende diens en elektrisiteitsvoorsiening, wat die voertuigvervaardigingsbedryf in die gesig staar.

Tydens ’n sloerstaking by onder meer die Port Elizabeth-hawe ’n paar maande gelede, is net ses vraghouers met onderdele vir die VW-fabriek per uur van skepe afgelaai, pleks van die 25 wat per uur afgelaai moet word.

Hawens in Maleisië hanteer dubbel soveel vraghouers as Suid-Afrika in dieselfde tydperk.

Dit is ’n uitdaging vir ’n land soos Suid-Afrika wat meeding met die VW-fabriek in Pamplona, Spanje, wat dieselfde motors bou, sê hy.

Schaefer verduidelik Volkswagen wys produksievolumes aan verskillende aanlegte wêreldwyd toe volgens die koste per motor. Die presiese koste van ’n voertuig in die Uitenhage-fabriek word maandeliks gemonitor en vergelyk met wat dit kos om dieselfde voertuig in Spanje te bou.

As die Suid-Afrikaanse fabriek nie kostemededingend is nie, sal die volgende volume aan Spanje toegewys word. Die klein marge wat Suid-Afrika bo Spanje het, kan vinnig verdwyn as veel meer van dié soort probleme voorkom, sê hy.

Hoewel VW se Uitenhage-fabriek van beurtkrag vrygestel is, is kragstuwings ’n probleem. Dit kom gemiddeld een keer per week voor en ontwrig die robotte in die bakwerk-afdeling van die fabriek.

“As daar ’n elektrisiteitstuwing is in die 30 sekondes wat die robot sweiswerk aan die bakwerk doen, kom alles tot stilstand. Ter wille van veiligheid moet alles van voor begin en al die bakwerk wat in die sweisproses was, kan verlore wees. Dit beloop miljoene se verliese,” sê Schaefer.

Meer oor:  Volkswagen  |  Brexit  |  Uitvoer  |  Handel  |  Motors  |  Motorvervaardigers  |  Motorvervaardiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.