Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bridge House begin aanlyn skool vir gr. 10 en 11

Te midde van die koronaviruspandemie het die gesogte private skool Bridge House en die tegnologiemaatskappy Digemy ’n nuwe aanlyn hoërskool gestig vir leerlinge in gr. 10 en 11.

ConnectEd is ’n nuwe aanlyn hoërskool vir leerlinge in gr. 10 en 11.

ConnectEd open in 2021 sy virtuele deure en sal onderrig eksklusief aanlyn aanbied met geen fisieke klaskamers nie.

Die skool volg die kurrikulum van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) met Engels, Afrikaans, wiskunde of wiskunde geletterdheid en lewensoriëntering as verpligte vakke.

Volgens Kobus Louw, uitvoerende hoof van Digemy, word ConnectEd se platform gedryf deur “neurowetenskaplike algoritmes wat die gapings in die kennis van elke student kan identifiseer” waarvolgens hul leerplan dan aangepas word.

Die onderwysers van Bridge House, ’n private skool vir sowat 800 seuns en meisies in Franschhoek, verskaf die inhoud van die lesse.

Daar sal ook van die leerlinge verwag word om tot ’n groot mate selfstudie toe te pas met bykomende meesterklasse wat aangebied sal word om hul “kennis van die wêreld daarbuite” te verbreed.

Weens die pandemie moes baie ouers skielik tuis instaan as onderwysers.

Namate die staat van inperking voortgeduur het, en met geen teken dat die virussiekte besig is om te verdwyn nie, het baie ouers besluit om hul kinders permanent tuis te onderrig.

Kinders met spesiale behoeftes, leerprobleme, angsversteurings of aandagafleibaarheid kan ook voordeel trek uit tuisonderrig.

Daar bestaan reeds verskeie platforms wat tuisonderrig bied, wat beteken ConnectEd is geensins uniek in daardie opsig nie.

Dit bied wel die geleentheid vir leerlinge om toegang te kry tot Bridge House se “baanbrekerswerk, en dinamiese en vooruitdenkende” onderrigmodel, sê David Clark, skoolhoof.

“Met ConnectEd sal leerlinge genoegsame ondersteuning ontvang tydens elke stap van hul akademiese reis.”

ConnectEd kos ook minder as die helfte as wat ouers van leerlinge jaarliks aan Bridge House moet betaal.

Klasgeld by ConnectEd kos R55 000 vir die jaar per graad, teenoor die meer as R126 000 wat Bridge House per jaar vir gr. 10- en 11-leerlinge vra.

ConnectEd se maandelikse bedrag beloop R5 670 teenoor R12 340 by Bridge House.

Ander verskaffers van aanlyn onderrig, soos Impaq, vra tussen R10 900 en R16 400 per leerling per jaar.

ConnectEd beplan om ander grade in 2022 te verwelkom.

Meer oor:  Connected
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.