Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Britse saak oor versekering help SA ondernemings

’n Hofuitspraak in Brittanje gaan plaaslike toerismeondernemings dalk help in hul stryd om vergoeding van hul versekeraars te kry vir die tyd wat hulle weens die Covid-19-pandemie nie kon sake doen nie.

Toerisme-ondernemings kon nie sake doen weens die inperking nie, maar versekeraars skop vas teen uitbetalings. Foto: Pixabay

Brittanje se Financial Conduct Authority (FCA) het ’n toetssaak na die hooggeregshof van Engeland en Wallis gebring oor die bewoording van polisse wat ondernemings teen die onderbreking van hul bedrywighede, ook weens oordraagbare siektes, beskerm.

Soos in Suid-Afrika het versekeraars in Brittanje geweier om die eise van honderde ondernemings uit te betaal omdat hulle aangevoer het die onderbreking is nie deur die Covid-19-pandemie veroorsaak nie, maar deur die inperkings wat die regering opgedwing het.

Nog ’n vraagstuk was of die siekte in die omgewing van die onderneming uitgebreek het – baie polisse spesifiseer ’n siekte moes naby die versekerde perseel (1 myl, 25 myl of net “in die omgewing”) uitgebreek het.

Luidens die regsfirma Fenchurch Law het die uitspraak korte mette gemaak van dié redenasies.

Die hof het bevind die nasionale voorkoms van Covid-19 was die enigste rede waarom ondernemings nie kon sake doen nie. Die hof het ook bevind ondernemings hoef nie te bewys dat Covid-19 in hul onderneming of in die nabye omgewing van die onderneming voorgekom het nie, volgens nog ’n regsfirma, Herbert Smith Freehills.

Die uitspraak, waarin 21 sinsnedes uit verskillende polisse ontleed is, word deur Suid-Afrika se Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) as belangrik beskou, ook omdat plaaslike versekeraars dit as ’n toetssaak beskou.

Die FSCA het voorheen skerp kritiek op die plaaslike bedryf uitgespreek en versekeraars beveel om uit te betaal as ondernemings dekking teen pandemies gehad het ingevolge hul polis teen die ontwrigting van hul bedrywighede.

Baie versekeraars het egter vasgeskop en gesê hulle wil hê die hof moet bepaal hoe die bewoording van polisse geïnterpreteer moet word. Daar was reeds ’n hofuitspraak teen Guardrisk, ’n filiaal van Momentum, wat deur die hooggeregshof in Kaapstad beveel is om die restaurant Café Chameleon se eis uit te betaal, maar die versekeraar appelleer teen die uitspraak.

Santam, Hollard, Guardrisk en Old Mutual Insure het intussen ingestem om tydelike finansiële hulp aan polishouers te bied, maar dit het ondernemings nie gepaai nie.

Die FSCA sê nou hy sal wag totdat al die hofsake teen versekeraars afgehandel is “om te bepaal of dit die nodige wetlike sekerheid oor alle aspekte van polisse vir sake-ontwrigting se bewoording verskaf”.

Indien daar ná die regsproses steeds vrae is, sal die FSCA met die versekeringsbedryf in gesprek tree, luidens sy verklaring.

Versekeraars het reeds alle bewoording wat dekking teen pandemies kan bied, uit nuwe polisse verwyder.

Meer oor:  Fsca  |  Santam  |  Sake-Onderbreking  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Korttermynversekering  |  Versekeraars  |  Pandemie  |  Versekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.