Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Brugkontrak ‘gaan nie oor Aveng se geldprobleme’

Dis glad nie toevallig dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) sy kontrakteurs vir die Mtentu-brug op die Wildekuspad op 14 Januarie terug op die bouperseel wou kry nie.

’n Argitekvoorstelling van die Mtentu-brug op die N2 aan die Wildekus.

Op dié dag sou ’n force majeure-klousule in die kontrak van krag word. Ingevolge die klousule mag die kontrak deur enige party gekanselleer word indien die werk of ’n groot deel van die werk vir 84 aaneenlopende dae gestaak word weens omstandighede buite hul beheer.

Werk moes op 22 Oktober 2018 gestaak word weens geweld deur lede van die gemeenskap wat aangedring het dat hulle by die projek aangestel word. Volgens Sanral se eie getuienis was van die mense selfs met aanvalsgewere bewapen. Force majeure is toe verklaar.

Indien werk op 14 Januarie hervat is, sou die force majeure-tydperk onderbreek gewees het.

Die gesamentlike vennootskap van Aveng en Strabag International (die ASJV), wat R1,6 miljard sou verdien deur die brug te bou, het dié week bekend gemaak die kontrak is gekanselleer omdat dreigemente van geweld steeds voortduur.

Vusa Mona, Sanral se kommunikasiehoof, het egter te velde getrek teen die ASJV en verseker dat die perseel veilig is.

“Die regering op sowel nasionale as plaaslike vlak het alles wat nodig was gedoen om te verseker dat dit vir die kontrakteur veilig was om terug te keer na die perseel,” sê Mona.

Hy sê ná “uitgerekte onderhandelinge” met die gemeenskap, mense wat die versoekskrif opgestel het en ander plaaslike belanghebbendes is ’n skikking op 9 Januarie vanjaar bereik.

Die kontrakteur is nie deursigtig oor die ware redes waarom die perseel verlaat word nie, maar Sanral vermoed die welbekende finansiële uitdagings van Aveng het daartoe bygedra.
Vusa Mona, Sanral se kommunikasiehoof

“Daar is ooreengekom op ’n proses om alle oorblywende probleme op te los. Daar is ook ooreengekom om enige toekomstige probleme op te los sonder om die werk te onderbreek, en dis ooreengekom dat konstruksie aan die brug onverhinderd sou kon hervat van Maandag 14 Januarie 2019 af.”

Hy het ook gesê: “Die kontrakteur is nie deursigtig oor die ware redes waarom die perseel verlaat word nie, maar Sanral vermoed die welbekende finansiële uitdagings van Aveng het daartoe bygedra.”

Diana Neumüller-Klein, Strabag se hoof van korporatiewe kommunikasie en beleggersverhoudinge, het in reaksie hierop gesê die opskorting het niks te make met “enige lid van ASJV se finansiële vermoë om hul verpligtinge na te kom nie”.

Neumüller-Klein sê ingevolge die kontrak is Aveng en Strabag “gesamentlik én afsonderlik” onder verpligting teenoor Sanral. Dit impliseer as die een nie die werk weens finansiële probleme kon doen nie, sou die ander een dit moes oorneem.

“Die maatskaplike onrus, oproerigheid, betogings en dreigemente van geweld het meegebring dat die ASJV toegang tot die perseel geweier is, asook die vermoë om veilig met die projek voort te gaan.”

Sy sê Sanral het sélf die “erns en ongeëwenaarde aard van die situasie” erken.

“Die ASJV het ten alle tye beklemtoon dat die force majeure-gebeurtenis nie op ’n einde beskou kan word nie totdat werk veilig hervat kan word, sonder gereelde of voortgesette bedreiging van personeel of die onderbreking van bedrywighede.”

Neumüller-Klein verwerp Sanral se stelling dat die ASJV die perseel of die kontrak “verlaat” het. “Die ASJV het die kontrak beëindig, soos hy geregtig was om te doen.”

In nog ’n kinkel in die kabel sê Neumüller-Klein Sanral se reaksie op die ASJV se beëindiging van die kontrak was om sélf ook die kontrak op te skort, en nie om die ASVJ se reg om dit te doen, te betwis nie.

Die kontrak bevat geen klousules oor boetes onder dié omstandighede nie. Inteendeel, ASJV kan ’n eis teen Sanral instel vir koste wat voortspruit uit die beëindiging van die kontrak. “Sanral sal ongetwyfeld ’n eis vir skadevergoeding probeer instel, wat die ASJV sal teenstaan.”

Sy sê die kontrak sluit omvattende voorskrifte vir dispuutresolusie in, tot selfs in die hooggeregshof. “Die ASJV is vol vertroue dat die feite sy posisie reg sal bewys.”

Meer oor:  Aveng  |  Strabag  |  Sanral  |  Boubedryf  |  Infrastruktuur  |  Brug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.