
Corona is reeds minstens sewe jaar in Suid-Afrika beskikbaar.
Suid-Afrikaners het in die tweede kwartaal dubbeld soveel Brutal Fruit gedrink as in dieselfde kwartaal van 2018.
Anheuser-Busch InBev (AB InBev), wat SAB in Suid-Afrika bedryf, verklaar nie presies waarom dié vrugte-alkoholdrankies soveel aftrek gekry het nie. Die maatskappy glo wel sy syfers is aangehelp deurdat die Paasnaweek vanjaar in April geval het eerder as in Maart.
Die tweede kwartaal was wêreldwyd AB InBev se beste kwartaal in vyf jaar wat die volume groei in sy verkope betref. Die bierreus het altesame 2,1% méér bier en koeldrank verkoop vir ’n totaal van meer as 146 miljoen hektoliter net in een die een kwartaal.
Die maatskappy sê in Suid-Afrika het Corona ook puik gevaar, met “trippelsyfergroei” in verkope. Spesifieke syfers vir elke streek word nie gegee nie. Corona is al nagenoeg sewe jaar in Suid-Afrika te koop, maar verkope het skerp begin klim nadat AB InBev vir SABMiller in 2016 oorgekoop en dié groep se verspreidingsnetwerk begin benut het.
Corona, ’n Mexikaanse bier, is een van die Groot Drie wêreldbiere in AB InBev se stal, saam met Budweiser en Stella Artois.
Die drie se gekombineerde inkomste het in die eerste ses maande van AB InBev se boekjaar, tot einde Junie, verkoopsgroei van 8,2% aangeteken, maar buite hul onderskeie tuislande was groei 12,4%.
Drie jaar ná die verkryging van SABMiller het AB InBev nou al sinergieë en kostebesparings van $3,151 miljard bewerkstellig, baie na aan die verwagting dat dit binne drie jaar $3,2 miljard sal beloop.