Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Buitensporige’ prys sink Shoprite se plan
Christo Wiese Foto: Jaco Marais

Dit is die “buitensporige” prys van die transaksie wat die Shoprite-groep met die maatskappye van Christo Wiese, voorsitter, beoog het, wat die transaksie nou gekelder het.

Só het ontleders Maandag gesê nadat Shoprite die transaksie van R3,3 miljard gekanselleer het ingevolge waarvan hy 20 miljoen gewone aandele aan een van Wiese se maatskappye (Titan) sou uitreik om sodoende ’n ander klas aandele wat spesiale stemreg het en ook deur ’n maatskappy van hom (Thibault) gehou word, te kanselleer.

Lees ook Wiese se reaksie hieronder.

Evan Walker, portefeuljebestuurder van 36ONE, wat sterk teen die transaksie gekant was, sê: “Dit is ’n groot oorwinning vir die minderheidsaandeelhouers. Uiteindelik het die groter instellings hul kritiek uitgespreek.”

Walker het voorheen gesê die aandele het “geen waarde vir enige ander aandeelhouer as Wiese nie”.

“Dit het geen ekonomiese waarde vir minderheidsaandeelhouers nie. As Wiese dit in die ope mark aan iemand kon verkoop, is hy welkom.”

Netwerk24 het onlangs berig ontleders hou asem op vir die omsendbrief oor die transaksie omdat hulle graag wil sien hoe die waarde daarvan bepaal is.

Ek sou graag wou sien hoe Shoprite by die voorgestelde waarde van die transaksie uitgekom het.
Jan Meintjes

Jan Meintjes, ’n portefeuljebestuurder van Denker Capital, het Maandag gesê: “Dit is jammer dat die transaksie van die baan is voordat die omsendbrief uitgekom het. In beginsel sou dit definitief in Shoprite se belang gewees het om die aandeelhouding-struktuur te vereenvoudig met gelyke stemreg vir aandeelhouers, maar die koste om dit te bereik, ten gunste van Wiese, was vir talle aandeelhouers die probleem.

“Ek sou graag wou sien hoe Shoprite by die voorgestelde waarde van die transaksie uitgekom het.”

Die omsendbrief sou einde Mei uitgereik word, maar Shoprite het op 23 Mei aangekondig dit kom eers later.

Tumisho Motlanthe, ’n aandele-ontleder van Coronation, het voorheen gesê hul siening is dat die Wiese-transaksie nie gunstig vir minderheidsaandeelhouers sal wees nie.

“Hoewel die uitgestelde aandele (spesiale stemaandele) wesenlike stemreg het, het dit nie enige ekonomiese belang nie. Daarom is dit onduidelik op grond waarvan die R3,3 miljard-waardasie vir die aandele bepaal is.”

Ook Casparus Treurnicht, portefeuljebestuurder van Gryphon Batebestuur, het voorheen gesê hy wou “die volle waarheid” in die omsendbrief sien van die waardasie.

Robert Lewenson, hoof van aangeleenthede oor korporatiewe beheer van Old Mutual Investment Group, sê: “Ons het aan die direksie gesê hoewel ons in beginsel dit ondersteun dat die uitgestelde aandele gekanselleer word, is die voorgestelde bedrag na ons mening buitensporig en ons sou nie die besluit goedkeur nie.”

Wiese het voorheen gesê die R3,3 miljard is wat hy bereid was om te aanvaar vir die feit dat hy die beherende aandele en beheerstem in die groep prysgee.

Dit beteken Wiese sal nou met die huidige aandeelhouerstruktuur van gewone aandele en die uitgestelde aandele (met die spesiale stemreg) voortgaan om 42,8% se stemreg te hou. Die uitgestelde aandele hou 32,3% se stemreg. Wiese het ook gewone aandele gehou wat normale stemreg dra.

Hy sou ná die transaksie 17,8% se gewone aandele en ewe veel stemreg gehad het.

Christo Wiese 100% tevrede

Niks verander nie en hy is tevrede met die uitkoms, het Christo Wiese, voorsitter van die Shoprite-groep, by navraag gesê.

Wiese het by navraag oor hoe hy voel oor die transaksie wat gekanselleer is, gesê: “Geen kommentaar nie behalwe wat hulle in die Sens-verklaring gesê het, dat die terugvoering was dat daar breë ondersteuning was.”

Hy het bygevoeg: “Ons het doelbewus die perk baie hoog gestel. Só ’n besluit moet deur 75% van die aandeelhouers goedgekeur word, maar die maatskappy het besluit as hulle ’n aanduiding kry van 15% plus van die aandeelhouers (dat hulle dit nie gaan goedkeur nie) dan behou hulle hul die reg voor om te onttrek, en ons het gesê dit is 100% reg.

“Dit is nie ’n transaksie wat enigsins moet lyk of dit afgedwing word nie.

“(So) dit is 100%, dit verander niks nie, en ek is heeltemal tevrede met die uitkoms.”

Oor die ontleders wat gesê het dit is ’n buitensporige prys, het hy gesê Shoprite het kundiges gevra om ’n billike waardasie te doen en die prys was binne die raamwerk. “Trouens, as ek reg is, was dit aan die lae kant (van die waardasie. So die ontleders wat praat oor die prys, maak hul eie somme en dis hul reg om dit te doen.”

Meer oor:  Shoprite  |  Christo Wiese  |  Markus Jooste  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.