Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Burger King al weer baasloos in SA

Onstabiliteit by Grand Parade Investments duur voort nadat Prabashinee Moodley as uitvoerende hoof bedank het - die derde hoof in minder as drie jaar.

Prabashinee Moodley het al Vrydag 7 Desember as uitvoerende hoof en direkteur van Grand Parade Investments (GPI) bedank, maar die maatskappy, franchisehouer van die kitskosreus Burger King in Suid-Afrika, het aandeelhouers eers Maandagaand daarvan ingelig.

Moodley se bedanking is nog een in ’n reeks van bedankings deur topbestuurders van die maatskappy die afgelope jare en is olie op die vuur van klagtes deur ’n groep besorgde minderheidsaandeelhouers oor die leierskap-onstabiliteit by GPI.

GPI
Prabashinee Moodley, wat pas as uitvoerende hoof van Grand Parade Investments bedank het.

Die rede wat GPI Maandagaand in ’n Sens-verklaring vir Moodley se bedanking gegee het, is dat sy besluit het om van haar posisie afstand te doen “weens die huidige marksentiment jeens die kitskosrestaurantbedryf gegewe haar passie en kundigheid in voedseldiens en kleinhandel”.

Moodley was skaars ses maande in die pos nadat sy in Julie aangestel is in die plek van Tasneem Karriem, wat self onverwags in Junie bedank het nadat sy ook nie eens ’n jaar in die posisie was nie.

Karriem was die eerste vroulike uitvoerende hoof by die maatskappy en een van net enkele vroue wat in Suid-Afrika hoof is van ’n JSE-genoteerde maatskappy. In Junie het sy egter saam met Shaun Barends, die finansiële direkteur, bedank.

Karriem het vir Alan Keet as uitvoerende hoof opgevolg wat self net ’n kort rukkie in die posisie was totdat hy in Maart 2017 bedank het.

Moodley het dubbele burgerskap vir Suid-Afrika en Amerika en was voorheen in senior poste by McDonald’s - Burger King se groot internasionale mededinger - en by Dunkin’ Brands. Sy het ’n MBA in internasionale finansies en bemarking wat sy in 2008 behaal het.

GPI se direksie het in die Sens-verklaring gesê hulle sal binnekort ’n aankondiging oor Moodley se opvolger maak.

Hassen Adams, uitvoerende voorsitter en medestigter van die maatskappy, het as uitvoerende hoof waargeneem nadat Karriem bedank het, maar het onlangs siek geword.

GPI het ook intussen ’n bedryfshoof aangestel - Mohsin Tajbhai.

GPI se aandeelprys was Maandagaand byna 1% hoër op R3,19, maar dis nog ver van die hoogtepunte van meer as R6 wat dit in 2014 behaal het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.