Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Burger King kry dalk nié ’n nuwe baas

Die Mededingingskommissie wil nie toelaat dat die bemagtigingsgroep Grand Parade Investments (GPI) sy belang in Burger King Suid-Afrika en sy vleisverwerkingsaanleg Grand Foods Meat Plant verkoop nie.

Burger King se Whopper-burger.

Die transaksie sal die bemagtigingsaandeelhouding in die ondernemings tot 0% afbring van die huidige 68%, is die kommissie se mening.

GPI het aanvanklik ’n ooreenkoms met ’n private ekwiteitsfonds, ECP Africa, bereik om Burger King SA en Grand Foods aan ECP Africa te verkoop.

Burger King het meer as 90 kitskosrestaurante in Suid-Afrika en Grand Foods voorsien die hamburgervleis vir Burger King.

Maar die kommissie het Dinsdagmiddag aangekondig hy het gevind die nuwe eienaars word nie deur enige voorheen benadeelde persone of werkers besit nie.

Hoewel die transaksie nie mededinging in die betrokke sektor sal verhoed of verminder nie, wil die kommissie die transaksie op grond van die openbare belang verbied.

Die voorgestelde transaksie sal ’n aansienlik negatiewe invloed op die bevordering van ’n groter verspreiding van eienaarskap hê, en daarom kan die kommissie dit nie regverdig nie.

GPI kon nie vir kommentaar bereik word nie en het ook nog nie enigiets oor die kommissie se besluit op die JSE se Sens-nuusdiens uitgereik nie.

Die maatskappy het waarskynlik nou ’n kans om sy saak voor die Mededingingstribunaal, wat die finale besluit moet neem, te stel, of om te besluit om die transaksie met ECP Africa aan te pas of te kanselleer.

Dis die tweede terugslag vir GPI met dié transaksie, want weens die invloed van die regering se Covid-19-inperking moes hy die prys vir die verkoop verlede jaar reeds afwaarts aanpas. Die hersiende aanbod vir Burger King en Grand Foods is in September verlede jaar met 15% teenoor die aanvanklike prys afwaarts aangepas.

GPI sou nou R570 miljoen vir Burger King kry en R23 miljoen vir Grand Foods.

Gegewe die onsekerheid in die mark het Mohsin Tajbhai, uitvoerende hoof van GPI, verlede jaar nog gesê die laer verkoopprys is steeds billik.

GPI se aandeelprys op die JSE was Dinsdag 1,6% laer op R3,05.

Meer oor:  Burger King  |  Grand Parade Investments  |  Gpi  |  Restaurante  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.