Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Burger King maak ná 6 jr. wins, en nou’s daar spek

Burger King in Suid-Afrika is vir die eerste keer winsgewend.

Grand Parade Investments (GPI), wat die meesterlisensie vir dié Amerikaanse burgerfranchise hou, het Vrydag bekend gemaak die franchise is nou stewig in die swart – die eerste keer sedert GPI die Whopper in 2013 Suid-Afrika toe gebring het.

Die Whopper word al hoe gewilder in Suid-Afrika, wys Burger King se syfers.

Burger King het in die jaar tot einde Junie R1,015 miljard uit verkope laat inrol, ’n stewige 34,2% meer as in die vorige boekjaar.

Daarvan is R11,7 miljoen wins, teenoor die verlies van R27,1 miljoen in die vorige jaar. Dit kom neer op ’n styging van R38,8 miljoen in Burger King se wesensverdienste.

Altesame 18,5 miljoen mense is bedien, vergeleke met 15,6 miljoen in die vorige jaar. Daar is nou 86 Burger King-takke landwyd.

Vergelykbare verkope – dus by takke wat ook in die vorige jaar oop was – het met 10,3% gestyg. Tien nuwe takke het in die jaar geopen, maar vier verliesmakende restaurante is gesluit.

Danksy die styging in verkope het die gemiddelde inkomste per restaurant met 14,3% tot R911 000 in 2018 tot R1,042 miljoen vanjaar gestyg.

Burger King het aangekondig hy gaan ook begin om spekburgers te verkoop, ’n groot skuif vir ’n maatskappy wat uit die Kaapse Vlakte se Moslem-gemeenskap ontstaan het.

Mohsin Tajbhai, uitvoerende hoof, sê egter dis ’n handelsbesluit. Landwyd is minder as 10% van Burger King se klante Moslems.

Burger King se biefburgers bly steeds ten volle halaal. Sekere takke sal ook ten volle halaal bly en nié spekburgers aanbied nie aangesien spek nie in dieselfde kombuis verwerk kan word ingevolge godsdiensvoorskrifte nie.

Tajbhai sê die tweeledige model sal glad nie hul halaal-status in gedrang bring of hul Moslem-klante benadeel nie.

Die groep sê dit was in die huidige mark geen grap om sy inkomste en markaandeel te laat groei nie, maar hy het sy oog fyn op sy spyskaart se pryse gehou.

Die erge inflasie op vleispryse en ook koeldrank met suiker in, is nou iets van die verlede. Tussen Julie 2017 en Mei 2018 het bief 29% duurder geword en koeldrank met suiker in 27% duurder, maar Burger King kon nie dié verhogings in pryse weerspieël nie.

Danksy laer kostestygings vanjaar kon Burger King se ebitda-winsgrens van 6,6% in die vorige jaar tot 8,6% vanjaar verhoog word. (Ebitda is verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings.)

Volgens Tajbhai word nagenoeg 8% tot 10% van alle maaltye nou afgelewer deur onder meer Uber Eats en Mr D Foods. Die groep is egter eers sedert Julie ingeskakel by dié kosafleweraars.

In syfers
  • Wesensverdienste: Verander van ’n verlies van 11,18c in 2018 tot ’n wins van 8,19c per aandeel

  • Bedryfswins uit voortgesette bedrywighede: Styg met 104% tot R44,2 miljoen
  • Inkomste: Styg met 28% tot R1,4 miljard
  • Netto wins uit voortgesette bedrywighede: Styg met 308% tot R72,9 miljoen
  • Netto verlies vir die jaar: Verminder van R49 miljoen tot R36 miljoen (dit sluit die beëindigde bedrywighede se verlies van R106 miljoen in)
  • Geen dividend is verklaar nie

Tata, Dunkin’

GPI, wat sy sukses met Burger King wou opvolg met oliebolle en roomys, het Dunkin’ Donuts en Baskin-Robbins Suid-Afrika in Februarie ná verliese van miljoene rande gelikwideer.

Die afskrywing van dié beleggings het bygedra tot die groep se aansienlik beter syfers.

Dobbel

GPI het sy eerste suksesse in die dobbelbedryf gemaak as bemagtigingsvennoot van die GrandWest-casino. Hy het ook ’n belang in die Golden Valley-casino in Worcester, maar het ná die einde van sy boekjaar sy 30%-belang in Sun Slots aan Sun International verkoop.

Hoewel dié transaksie beteken R55 miljoen se inkomste sal nie meer vir GPI invloei nie, sê Tajbhai hulle gaan ook ontslae raak van R50 miljoen se rente op skuld. Dit word dus as kontantpositief vir die groep beskou.

Ander transaksies

Die laaste deel van GPI se herstrukturering ná ’n paar moeilike jare is die verkoop van sy hoofkantoor in die middestad van Kaapstad. Tajbhai verwag dat dit in die lopende boekjaar gedoen sal word.

GPI het as deel van sy poging om skuld te verminder, ook 10% van sy belang in Spur vir R260 miljoen verkoop.

Meer oor:  Dunkin' Donuts  |  Burger King  |  Grand Parade Investments  |  Gpi  |  Restaurante  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.