Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Burger King vir 15% minder verkoop weens pandemie

Grand Parade Investments (GPI) gaan nou 15% minder kry vir Burger King en die vleisaanleg wat die hamburgerfrikkadelle vir dié kitskosrestaurante maak.

GPI verkoop sy volle belang in Burger King Suid-Afrika en Grand Foods Meat Plant aan Emerging Capital Partners (ECP).

Die transaksie is egter nie meer onderhewig aan waarborge oor Burger King se inkomste vir 2020 nie.

GPI verkoop sy volle belang in Burger King Suid-Afrika en Grand Foods Meat Plant aan Emerging Capital Partners (ECP), een van die grootste private ekwiteitsfirmas in Afrika.

Die nuwe prys is nou R570 miljoen vir Burger King en R23 miljoen vir Grand Foods Meat Plant, wat ook vleis vir Spur en The Grill Father verwerk. Die totale bedrag is R593 miljoen.

Die verkoop van Burger King en Grand Foods Meat Plant is in Februarie aangekondig, maar die staat van inperking wat weens die Covid-19-pandemie aangekondig is, het GPI genoop om die voorwaardes vir die transaksie te heronderhandel. Toe was die prys R670 miljoen en R27 miljoen, altesame R697 miljoen, maar waarborge oor inkomste was ook deel van die voorwaardes vir die transaksie.

GPI, wat die meesterlisensie verkry het om die Amerikaanse kitskosgroep na Suider-Afrika te bring, het die eerste tak van Burger King in 2013 in Kaapstad geopen. In die afgelope boekjaar was Burger King, met ’n wins van R11,7 miljoen, vir die eerste keer tot dusver winsgewend.

Burger King se deure was in die eerste vyf weke van die inperking toe, maar kon sedert Mei stelselmatig heropen. Restaurantverkope bly egter onder enorme druk, deels weens druk op verbruikers se geldsake en deels omdat baie mense steeds winkelsentrums vermy uit vrees dat hulle Covid-19 sal opdoen.

Mohsin Tajbhai, uitvoerende hoof van GPI, sê hulle is baie ingenome dat hulle die transaksie kon heronderhandel. “Hoewel dit ’n 15%-afslag op die aanvanklik aanbod is, meen ons dit is billik, gegewe die bykomende risiko en onsekerheid wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is. Die nuwe ooreenkoms kom neer op meer as R1 per aandeel in waarde aan GPI-aandeelhouers en is in pas met GPI se strategie om deur ’n beheerde verkoop van bates waarde te ontsluit.”

Ons ambisie bly dieselfde: Om Burger King-produkte nader aan verbruikers en plaaslike gemeenskappe in Suid-Afrika te bring.

’n Spesiale dividend sal aan aandeelhouers uitgekeer word. Die maatskappy gaan ook sy skuldvlakke verminder.

Paul Maasdorp, besturende direkteur van ECP, het ook sy tevredenheid met die nuwe ooreenkoms uitgespreek, gegewe die huidige ekonomiese konteks.

“Ons ambisie bly dieselfde: Om Burger King-produkte nader aan verbruikers en plaaslike gemeenskappe in Suid-Afrika te bring terwyl ons dit moontlik maak om dié ikoniese handelsnaam uit te bou wat indiensneming en produkaanbod betref.”

ECP het tans twee ander beleggings wat hy ten volle besit, albei in finansiële tegnologie. Dit is Mukuru, ’n firma wat geldoordragte moontlik maak, en Inter Africa Transport Forex (IATF), wat vervoermaatskappye help om hul koste beter te bestuur. Maatskappye in ECP se portefeulje verskaf tans werk aan 700 Suid-Afrikaners.

ECP het ook saam met MTN ’n belang in IHS Towers, die grootste firma wat selfoontorings oprig in Afrika.

GPI, wat sy wortels het in beleggings in die dobbelbedryf, het onlangs sy hoofkantoor in Kaapstad vir R90 miljoen aan die ontwikkelaar Aragon verkoop. Dié gebou huisves ook die eerste Burger King-tak in Suid-Afrika wat in 2013 geopen het.

Burger King het tans nagenoeg 90 restaurante landwyd.

Die nuus oor die transaksie het GPI se aandeelprys ná jare van druk op die belegging met 1,32% tot R2,30 laat styg.

Meer oor:  Emerging Capital Partners (Ecp)  |  Burger King  |  Gpi  |  Kitskos  |  Maatskappye  |  Restaurant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.