Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Burger-probleme keer nie Famous Brands se wins
Die Wimpy-restaurant in Sandton City, Johannesburg.

Suid-Afrikaners se liefde vir Debonairs Pizza, Wimpy, Steers, Mugg & Bean en Fishaways het verseker dat Famous Brands ’n winsgewende halfjaar agter die blad het.

Hulle is egter nie lus om altyd dieselfde pizza of burger te bestel nie en skroom nie om na ander restaurante te gaan as hulle glo daar is ’n beter aanbod teen ’n beter prys nie.

Famous Brands sê hoewel die intrede van internasionale restaurantgroepe na die Suid-Afrikaanse mark verlangsaam het, bly mededinging in dié sektor straf.

Sy wesensverdienste per aandeel het ondanks dié uitdaging, en die probleme wat hy in Brittanje by sy filiaal Gourmet Burger Kitchen (GBK) ervaar het, steeds met 10,6% tot R1,88 gestyg. Dit is vir die halfjaar tot einde Augustus teenoor die ooreenstemmende halfjaar in 2017.

Hy het wel ’n basiese verlies per aandeel van R5,72 gely teenoor die basiese wins per aandeel van R1,71 in die ooreenstemmende tydperk.

Sy inkomste vir die halfjaar het met 5,4% tot R3,58 miljard en sy bedryfswins met 3,9% tot R421,8  miljoen teenoor ’n jaar tevore gestyg.

Verkope het by al sy restaurante, wat Fego Caffé, Milky Lane, Tashas, Salsa Mexican Grill, Lupa Osteria en Turn ’n Tender insluit met 7,3% gestyg.

Famous Brands het geen dividend verklaar nie.

Darren Hele, uitvoerende hoof van Famous Brands, sê in ’n verklaring hoewel die maatskappy se verskeie restaurantgroepe hulself reg skud vir die feesseisoen wat voorlê, gaan verkope waarskynlik nie so geil wees as voorheen nie.

Aan die een kant is die skoolvakansie ’n week korter as voorheen en aan die ander kant is verbruikers onder druk.

Hele sê die groep verwag hul restaurante wat kitskos verkoop is dié wat steeds goed sal presteer.

In ’n poging om mense te lok om ongeag die moeilike ekonomiese omgewing waarin Suid-Afrikaners hulle tans bevind steeds kitskos te koop, sê Famous Brands hy het deur sy portefeulje hard daaraan gewerk om tuisaflewerings van kos te verbeter.

Boonop sê hy hy gaan nie skroom om self in die toekoms nuwe produkte bekend te stel nie. Hy gee egter geen spesifieke besonderhede nie.

Famous Brands verteenwoordig tans 25 verskillende restaurantgroepe met 2 874 restaurante in Suid-Afrika, die res van Afrika, die Midde-Ooste en Brittanje.

Hy het in die halfjaar 79 nuwe restaurante oopgemaak waarvan 59 op kitskos fokus, 16 restaurante is waar mense eerder aansit vir ete en vier Mr Bigg Stuff-restaurante in Nigerië is.

GBK

Famous Brands het die waarde van GBK met R873,9 miljoen (voor belasting) afgeskryf.

Hy het op 24 Oktober aangekondig hy het besluit GBK gaan om ’n vrywillige maatskappyreëling, iets soortgelyk aan sakeredding, aansoek doen.

Famous Brands het GBK in 2016 vir R2,1 miljard gekoop.

Dié groep het in die halfjaar ’n bedryfsverlies van £2,6 miljoen gely teenoor ’n bedryfswins van £872 000 in 2017.

Famous Brands se aandeelprys het Maandag kort na verhandeling reeds met 2% tot R98,50 gedaal.

Omgewing

Famous Brands sê hy is deeglik bewus daarvan dat mense bekommerd is oor die nadelige bydrae wat restaurante tot die omgewing maak.

Hy sê teen Desember 2018 gaan geen van sy restaurante meer plastiekstrooitjies gebruik nie.

Hy beywer hom ook om teen 2025 net eiers in sy restaurante te gebruik van hoenders wat nie in hokkies aangehou word nie.

Meer oor:  Debonairs  |  Wimpy  |  Famous Brands  |  Gourmet Burger Kitchen  |  Restaurante  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.