Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
By SAL koop hulle om te huur

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het bestuurders geskors omdat die lugdiens onder meer toerusting aangekoop het teen R13 miljoen – en dit nou weer huur teen R500 per uur.

Naomi Kwinda, bestuurder van veiligheidskontrakte by die SAL, is geskors. Foto: Facebook

Die skorsing van Nontsasa Memela, hoof van aanskaffing by die lugdiens se tegniese afdeling (SAAT), en Naomi Kwinda, ’n aanskaffingspesialis by die SAL, is al ’n jaar tevore aanbeveel nadat die prokureursfirma ENS Africa ’n ondersoek gedoen het.

Dissiplinêre stappe is egter glo gestuit deur Dudu Myeni, voormalige direksievoorsitter, en Musa Zwane, die hoof van SAAT wat as uitvoerende hoof van die SAL waargeneem het, verneem Rapport.

Die SAL het nou uiteindelik rigting gekry nadat Kenneth Pillay, voorheen ’n direkteur by die nasionale tesourie, einde April as verkrygingshoof by die SAL aangestel is.

Tlali Tlali, woordvoerder van die SAL, het bevestig dat Memela en Kwinda geskors is. Hy sê dissiplinêre stappe sal binnekort volg.

Nontsasa Memela, hoofaanskaffingsbeampte by SAL Tegnies, is ook geskors. Foto: Twitter

Een van die groteske vergrype wat ENS in hul ondersoek ontbloot het, was die aankope van mobiele krageenhede vir vliegtuie wat geparkeer staan.

ENS het bevind dis deur SAAT aangekoop vir R13 miljoen en kort daarna vir minder as R3 miljoen aan ’n private kontrakteur verkoop wat dit weer aan Swissport verkoop het. Swissport huur nou dieselfde eenhede aan die SAL teen R500 per uur.

Memela is die hoof van die afdeling wat dié transaksies behartig het.

Sy het by navraag aan Rapport bevestig sy is twee weke gelede geskors, maar wou op regsadvies nie verder kommentaar lewer nie.

Kwinda het weer onder die aandag van die ondersoekers gekom weens haar luukse leefstyl terwyl sy net R26 000 per maand verdien.

ENS het aan die SAL aanbeveel dat hulle ’n hofbevel moet bekom om insae in haar bankrekeninge te bekom omdat sy vermoedelik “kommissie” ontvang het vanaf kontrakteurs.

Hiermee het sy glo ’n Harley Davidson-motorfiets, verskeie eiendomme en ’n Range Rover gekoop.

In ’n kontrak wat sy met ’n veiligheidskontrakteur gesluit het, het sy volgens ENS handtekeninge vervals.

Te veel vlieëniers

Intussen onderhandel die SAL om van minstens 100 van sy vlieëniers ontslae te raak.

Luidens ’n bulletin wat die SAL-vlieëniersvereniging dié week aan sy lede gestuur het, is daar ’n oorskot vlieëniers.

Volgens vlieëniers sal sowat 40 waarskynlik vyfjaarkontrakte met ander buitelandse lugdienste sluit, terwyl heelparty van die mees ervare, ouer kapteins sal verkies om met vervroegde pensioen af te tree.

Die kontrak is in 2008 onderteken en van 2011 af sonder enige prosedures net jaarliks hernu. Die waarde van die hernuwingskontrakte was sowat R130 miljoen en die totale kontrak sowat R383 miljoen.

Kwinda het in April verlede jaar net ’n skriftelike waarskuwing hieroor ontvang. Sy is Maandag ingelig dat sy geskors is.

Kwinda het nie op versoeke om kommentaar gereageer nie.

Zwane is in Maart vanjaar saam met Phumeza Nhantsi, die SAL se finansiële hoof, geskors. Die SAL het toe gesê hul skorsings volg ná ’n gekwalifiseerde ouditverslag deur die ouditeur-generaal (OG) omdat SAAT se hele inventaris nie geverifieer kon word nie.

Die OG het ook onreëlmatighede in instandhoudingsuitgawes en bates gevind wat nié in die finansiële state weergegee is nie.

Vuyani Jarana, uitvoerende hoof van die SAL, het kort ná sy aanstelling gesê die lugdiens se grootste gebreke is aan die bestuurs- en finansieskant. Hy het toe gesê ’n behoorlike aanskaffingspesialis is nodig om dié afdelings reg te ruk.

Pillay is vervolgens aangestel met die taak om binne die volgende drie jaar ’n besparing van R3 miljard te bewerkstellig.

Rapport verneem hy het in sy eerste twee maande R100 miljoen bespaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.