Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
By Woolies is die keiser nog kaal (maar heel mollig)

Roy Bagattini, Woolworths se betreklik nuwe uitvoerende hoof, kon nog nie hond haar-af maak om die groep se klereverkope reg te ruk nie.

Voetgangers loop verby ’n David Jones-winkel in Sydney.

Uiteraard word verkope afgerem deur die Covid-19-pandemie, die gepaardgaande druk op verbruikers se geldsake, en boonop die feit dat meer mense steeds van die huis af werk.

Bagattini, wat die leisels in Februarie 2020 by Ian Moir oorgeneem het, het verlede jaar gesê Woolies het te veel klerereekse, weet nie wie sy belangrikste klante is nie, en verander sy modes te stadig. Hy het gewaarsku dit sal ’n rukkie duur om die tendense om te keer – en in die 26 weke tot 27 Desember, die eerste helfte van die groep se boekjaar, het dit beslis nie gebeur nie.

Woolies se klereverkope het met 11,2% gedaal. Gelukkig eet mense nog lekker van Woolies se rakke af en het kosverkope in dieselfde tyd met 10,9% gestyg.

Vir die hele groep, ingesluit sy twee grootste markte, Suid-Afrika en Australië, het verkope in die halfjaar met 5,3% gestyg. Die laaste ses weke van 2020 – die tydperk wat Swart Vrydag en Kersfees insluit – het verkope aansienlik gelig; in die voorafgaande 20 weke was die verkope net 3,5% hoër.

Die groep se sake word steeds erg geraak deur die Covid-19-pandemie, met baie minder mense wat winkel toe kom, veral in middestede en groot winkelsentrums.

Suider-Afrika

Die groep sê die tweede golf infeksies knou Suid-Afrikaners se besteebare inkomste en vertroue verder.

  • Kos

Woolworths Food se verkope het in die laaste ses weke van die jaar met 12% opgeskiet.

Vir die hele ses maande het dit met 10,9% gestyg, met vergelykbare winkels (dié wat ook in die 2019-halfjaar oop was) ’n stewige 9,4% hoër. Dit toon verkope is nie regtig skeefgetrek deur die opening van nuwe winkels nie.

Die verkope is wel aangehelp deur ’n styging van 7,1% in die waarde van goedere wat verkoop is. Dit is gegrond op gemiddelde prysstygings van 4,8% – heelwat meer as die inflasiekoers van 3,3% vir die jaar – maar ook omdat mense luukser produkte gekoop het.

Aanlyn kosverkope het met 158,4% opgeskiet, maar verteenwoordig steeds slegs 2,2% van Woolies se kosverkope. Dis aangehelp deur die groep se klik-en-kom-haal-opsie wat vroeg tydens die eerste inperkingstyd ingestel is, en sy eerste afleweringsdiens, wat nou plek-plek getoets word.

Die handelsruimte vir kosverkope is met 0,4% vergroot.

  • Mode, skoonheid en huisware

Woolworths Fashion, Beauty and Home is geraak deur treurige Swart Vrydag-verkope, iets waarna mededingers soos Truworths en Mr Price ook die afgelope weke verwys het.

Die nuwe uitvoerende hoof wat Woolworths Dinsdag aangekondig het, Roy Bagattini (56) is ’n oud-Suid-Afrikaner. Hy was voorheen derde in bevel by die Amerikaanse maatskappy Levi Strauss & Co.

Statistieke Suid-Afrika het ook verlede week daarop gewys dat November se verkope 1,2% laer in huidige randwaarde as in November 2019 was. As prysstygings uitgelaat word, wat dus die volume verkope weerspieël, het dit met 4% gedaal.

Woolworths sê die feit dat mense minder formele drag koop (omdat hulle nog van die huis af werk en minder aandgesellighede bywoon), het sy syfers in die halfjaar afgetrek.

Oor die ses maande het die verkope met 11,2% geval, met ’n daling van 11% in verkope in vergelykbare winkels. Die waarde van verkope het met 2,4% gestyg.

Aanlyn verkope van klere het met 118,8% opgeskiet en verteenwoordig nou 4% van alle verkope in Suid-Afrika.

Die handelsruimte vir klere is met 1,9% verklein.

k
  • Finansiële dienste

Die kredietboek van Woolworths Financial Service het in die ses maande met 2,2% gedaal. Woolies maak nou voorsiening vir die afskrywing van 4,1% se slegte skuld, teenoor 3,3% in 2019.

  

Australië en Nieu-Seeland

’n Streng inperking van 12 weke lank in die staat Victoria, waartydens alle nie-noodsaaklike winkels toe was, het die verkope in Australië negatief geraak. Victoria sluit Melbourne, Australië se tweede grootste stad, in.

In dié land was Swart Vrydag en Kubermaandag in die laaste ses weke van die jaar egter baie suksesvol.

  • David Jones
Voetgangers loop verby ’n David Jones-winkel in Sydney.

Verkope in die afdelingswinkel David Jones het in die 26 weke met 8,8% geval, en met 10,5% in vergelykbare winkels.

As winkels in Victoria egter uitgesluit word, het David Jones se verkope met 5,9% gegroei.

Aanlyn verkope het met 55% gestyg, wat 17,7% van alle verkope verteenwoordig.

  • Country Road

Die groep het net in die laaste ses weke van die jaar verkoopsgroei van 6,7% beleef, grootliks danksy nuwe reekse klere – ook kantoordrag.

Vir die hele ses maande was die verkope weer eens weens die inperking van Victoria 5,2% laer, en 2,4% laer in vergelykbare winkels. As Victoria uitgesluit word, het die verkope met 8,2% gestyg.

Aanlyn verkope het met 52,5% gestyg en verteenwoordig nou byna ’n derde, 31,6%, van alle verkope.

In syfers

Die groep se verdienste per aandeel vir die ses maande gaan tussen 70% en 80% hoër as in 2019 wees.

Dit sluit in die A$21 miljoen wins wat behaal is danksy die verkoop van die David Jones-manswinkel in Bourkestraat, Sydney. Woolworths het einde Desember aangekondig dat hy sy vlagskipwinkel in Sydney, die Elizabethstraat-gebou van 11 verdiepings, verkoop. Die transaksie is egter nog nie in die halfjaar voltrek nie.

Die groep se wesensverdienste per aandeel gaan na verwagting 50% tot 60% hoër as in 2019 wees.

Die hoë syfers weerspieël grootliks die heronderhandeling van huur van David Jones-winkels en rekenkundige aanpassings.

’n Beter aanduiding van Woolies se bedryfsprestasie is die aangepaste verwaterde wesensverdienste per aandeel, wat met tussen 17% en 22% gaan styg.

Die volledige halfjaarsyfers word op 25 Februarie uitgereik.


Meer oor:  David Jones  |  Woolworths  |  Roy Bagattini  |  Kleinhandelaars  |  Klerebedryf  |  Kruideniersware  |  Klerekleinhandel  |  Kos  |  Kleinhandel  |  Klere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.