Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Capitec betaal geen dividend, selfs al styg wins
Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec Bank.Foto: Verskaf

Capitec Bank het nie ’n slotdividend uitgekeer nie ten spyte daarvan dat hy ’n winsgewende jaar agter die rug het.

In die boekjaar tot einde Februarie was sy wins voor belasting 14% hoër as in die vorige boekjaar op R8,06 miljard.

Capitec het sy resultate Dinsdagoggend vroeg op die JSE se nuusdiens, Sens, bekend gemaak.

Die bank sê die besluit om nie ’n slotdividend te verklaar nie, is in reaksie op die Reserwebank se versoek hieroor te midde van die Covid-19-pandemie.

“Dit is die eerste keer in die 20 jaar dat Capitec bestaan, dat ons nie ’n slotdividend uitkeer nie,” sê Gerrie Fourie, uitvoerende hoof. Hy het Dinsdagoggend die bank se resultate op ’n aanlyn voorlegging bespreek.

Die land se ander groot banke – Absa, FNB, Nedbank en Standard Bank – het besluit om wel hul dividende, wat hulle reeds verklaar het voordat die Reserwebank dié versoek gerig het, uit te betaal.

LEES OOK: Covid-19: Banke tob oor bonusse, dividende

Capitec het nou sowat 13,8 miljoen aktiewe rekeninge in sy afdeling vir kleinhandelbankdienste.

Dit is sowat 21% meer as ’n jaar gelede en verteenwoordig groei van sowat 200 000 kliënte per maand sedert Maart 2019.

Saam met sakerekeninge staan die getal aktiewe rekeninge op bykans 13,9 miljoen.

Capitec het Mercantile Bank gedurende 2019 oorgeneem. Al dié sakerekeninge het dus na hom oorgeskuif.

LEES OOK: Capitec en Mercantile nou amptelik een

Gedurende 2019 het 6,7 miljoen van sy kliënte digitale bankdienste gebruik – 29% meer as teen die einde van die vorige boekjaar.

Hiervan gebruik 3,3 miljoen die bank se app (2,2 miljoen teen die einde van die vorige boekjaar) en 4,9 miljoen gebruik USSD-kodes (4,1 miljoen).

Die inkomste uit transaksiegelde op digitale dienste het met 14% tot R6,46 miljard gestyg. In die afgelope boekjaar is 327 miljoen aanlyn transaksies gedoen; 69% meer as in die vorige boekjaar.

Die bank sê hoewel die transaksiegelde vir digitale dienste laer is as dié wat hy hef vir transaksies in ’n tak, is dit baie meer winsgewend en boonop is dit geriefliker vir kliënte.

Capitec sê heelwat van sy kliënte verkies steeds om eerder ’n tak te besoek. Die bank het nou 852 takke landwyd nadat hy in die afgelope boekjaar 12 nuwe takke geopen het. Sowat 7,8 miljoen kliënte besoek elke maand dié takke; 18% meer as in die vorige boekjaar.

Lenings

Capitec se bruto leningsboek het met 17% tot R65,4 miljard gestyg.

Lenings wat meer as drie maande agterstallig is en waar

regstappe gedoen is om die geld in te vorder, het op Capitec se boeke met 30% tot R7,4 miljard toegeneem. Fourie skryf dié toename egter toe aan nuwe IFRS 9-reëls wat vereis dat alle lenings steeds op die state aangedui moet word as daar meer as ’n 5%-kans is dat die bank wel die uitstaande geld sal kan invorder.

5,1 miljoen van Capitec se kliënte het nou saam R87,5 miljard se deposito’s by die bank; 23% meer as in die vorige boekjaar.

Kliënte het R4,7 miljard se rente in die jaar tot einde Februarie verdien (R3,9 miljard in die vorige boekjaar).

Fourie sê kliënte stel ook baie belang in Capitec se kredietkaart. Die bank het nou 578 488 kliënte wat kredietkaarte by hom het; 30% meer as ’n jaar gelede.

Die bank se bruto kredietkaartboek beloop nou R5,8 miljard; 61% meer as die R3,6 miljard ’n jaar gelede. In die afgelope boekjaar het Capitec sowat 17 000 nuwe kredietkaarte per maand uitgereik.

Die grootste limiet wat Capitec nou op ’n kredietkaart toelaat, is R250 000. Voorheen was dit R150 000.

Begrafnispolisse

Fourie sê Capitec is besonder opgewonde oor hoe goed sy afdeling wat begrafnispolisse verkoop, gevaar het. Hy het in die afgelope boekjaar 1,1 miljoen polisse verkoop.

Dié produk is in Mei 2018 bekend gestel. Hy het nou reeds altesame 1,6 miljoen polisse verkoop.

Nuwe produkte

Fourie sê die bank ondersoek verskeie nuwe produkte.

Een hiervan is om ongesekureerde lenings te bied wanneer mense motors koop.

Capitec het reeds ’n ooreenkoms met We Buy Cars gesluit.

Die bank het ’n klein tak in een van We Buy Cars se pakhuise geïnstalleer. Kliënte wat in ’n motor belang stel, kan dus onmiddellik finansiering daarvoor reël.

Die bank ondersoek ook produkte om ongesekureerde lenings te bied vir spesifieke doelwitte, soos huisverbeterings of onderrig.

Syfers

Die bank se wesensverdienste en wesensverdienste per aandeel het met 19% tot onderskeidelik R6,27 miljard en R54,28 toegeneem.

Capitec se aandele het teen 10:00 Dinsdag bykans onveranderd teen R1 070,28 op die JSE verhandel.

Meer oor:  Capitec  |  Reserwebank  |  Gerrie Fourie  |  Covid-19  |  Dividend
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.