Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Capitec dra nou 66% van PSG se waarde by
Kliënte voer transaksies uit op van Capitec se kitsbanke.

Capitec Bank dra nou 66% van die beleggingsmaatskappy PSG se waarde van sy bates by vergeleke met 51% verlede jaar.

PSG besit ook groot belange in die genoteerde maatskappye Curro, PSG Konsult en Zeder wat onderskeidelik in private skole, batebestuur en landbou betrokke is.

Die waarde van sy belang in Capitec het einde Februarie R50 miljard beloop teenoor R29,5 miljard aan die einde van sy boekjaar verlede jaar.

Die groep se totale waarde van sy bates beloop R74,9 miljard. Dit is ’n sprong van 22% sedert ’n jaar gelede en dit is hoofsaaklik danksy Capitec se aandeelprys wat die afgelope jaar baie skerp gestyg het.

PSG-groep se ander bates sluit in sy belange in PSG Konsult (wat 11% bydra); Curro (8%); PSG Alpha (6%) en Zeder (4%).

Piet Mouton, uitvoerende hoof, het in ’n verklaring gesê die groep het bevredigende resultate in moeilike toestande getoon.

Capitec bly ook die grootste bydraer tot sy herhalende verdienste.

Die groep dui sedert 2010 aan beleggers aan wat sy deel beloop van die verdienste van die maatskappye waarin hy belê is, al word minder as 20% gehou. Die maatskappy het in sy jaarverslag van 2010 verduidelik dis om ’n “meer realistiese en eenvoudige manier te gee om PSG se finansiële vertoning te evalueer”.

Volgens hom het die herhalende verdienste per aandeel met 9% tot R10,86 gestyg ná ’n prysenswaardige vertoning van Capitec, PSG Konsult en Curro, wat teengewerk is deur PSG Alpha en Zeder se swakker vertonings.

Hy sê die toestande was veral moeilik in die tweede helfte van die jaar omdat verbruikers steeds onder druk is en aandeelmarkte negatiewe opbrengste getoon het.

“In hierdie konteks is PSG-groep in die algemeen tevrede met die onderliggende beleggings se vertoning.”

Hy meen die groep is goed geposisioneer vir ’n herstel in die ekonomie. “Maar wat nou nodig is, is stabiliteit en duidelikheid oor beleid om volhoubare groei aan te moedig, wat veral maatskappye sal help wat in hul aanvangsfase is.”

’n Slotdividend van 304c (2018:277c) is verklaar, wat ’n verhoging van amper 10% is.

Dit is PSG se beleid om tot 100% van sy beskikbare vrye kontant as ’n gewone dividend te verklaar, waarvan ’n derde met die tussentydse resultate en die res met die finale resultate verklaar word.

“Ondanks duidelike probleme is die groep steeds positief oor Suid-Afrika en die geleenthede wat dit bied,” het hy gesê.

Meer oor:  Psg  |  Capitec Bank  |  Piet Mouton
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.