SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Maatskappye
Capitec lok halfmiljoen nuwe kliënte in 2 maande

Al hoe meer Suid-Afrikaners bank by Capitec.

Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec.Foto: Elvira Wood

Dié bank, wat oorspronklik self net op digitale dienste gekonsentreer het, sê ’n gebalanseerde fokus is wat tot soveel as 500 000 kliënte in die eerste twee maande van die jaar na hom gelok het.

Dit was hoeveel kliënte in Januarie en Februarie vanjaar Capitec-rekeninge oopgemaak het.

Capitec, wat sy resultate vir die jaar tot einde Februarie Donderdag bekend gemaak het, het nou 11,4 miljoen aktiewe rekeninge.

Dit is ’n toename van 15,3% teenoor ’n jaar tevore.

Sy inkomste uit transaksiegelde het met 26% tot R6,5 miljard gestyg in die jaar tot einde Februarie.

Die bank het in die vorige boekjaar elke maand gemiddeld 14 000 nuwe aansoeke vir kredietkaarte ontvang.

Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec, het ná die bekendmaking van die resultate in ’n onderhoud aan Netwerk24 gesê hy is veral beïndruk met die 5,2 miljoen bankkliënte wat Capitec nou het – 16,4% meer as in die vorige boekjaar.

’n Bankkliënt is ’n persoon wat sy of haar salaris by die bank deponeer.

Onthou, ’n bank verdien die meeste van sy inkomste uit transaksies wat kliënte doen uit ’n rekening waarin hul salaris gedeponeer word. Dié groei is dus baie belangrik vir ons.
Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec

“Onthou, ’n bank verdien die meeste van sy inkomste uit transaksies wat kliënte doen uit ’n rekening waarin hul salaris gedeponeer word.

“Dié groei is dus baie belangrik vir ons.”

Fourie sê hulle skat dat tussen 60% en 70% van nuwe kliënte voorheen by ander banke was.

“Ons kan dit uit hul ouderdom sien, en ook wanneer hulle hul hoofrekening na ons skuif en versoek om byvoorbeeld debietorders te skuif.”

Fourie sê ook die bank is lankal nie meer net ’n bank vir kliënte uit die laerinkomste-groepe nie.

Sowat 25% van sy kliënte wat hul salarisse by Capitec deponeer, verdien meer as R10 000 per maand.

Gebalanseerde produkprofiel

Fourie sê wat Capitec die afgelope paar jaar geleer het, is dat ’n bank wat in Suid-Afrika wil funksioneer, ’n gebalanseerde produkprofiel moet hê.

“Ons sien dat ons kliënte digitaal bank, maar ook ons takke gereeld besoek,” sê Fourie.

“Mense moet ook nie dink jy kan net bankdienste via ’n app aanbied nie.

“Baie Suid-Afrikaners het nog nie slimfone nie. Hulle gebruik ouergenerasie-selfone waar ’n boodskapdiens gebruik word vir bankdienste.

“As jy dus ’n suksesvolle bank in Suid-Afrika wil bedryf, moet jy dienste op al hierdie verskillende platforms bied,” sê hy.

Capitec het nou 840 takke. Dit is 14 meer as ’n jaar gelede.

Meer as 300 van dié takke doen sake op ’n Sondag.

Capitec het ook nou meer as 5 000 kitsbanke landwyd.

Skuld en Viceroy

Op die vraag wat hy nóú vir die kortverkoper Viceroy Research sou wou sê, lag Fourie net. “Ons resultate spreek vanself.”

Viceroy het einde Januarie 2018 ’n verslag oor Capitec uitgereik waarin daarop gesinspeel is dat Capitec sy boeke bekook en lenings roekeloos aan arm verbruikers toestaan.

Capitec sê 87% van sy lenings is op datum teenoor die 84% van 2018.

Lenings wat meer as drie maande agterstallig is, is nou minder as 8%. Capitec se berekeninge wys net sowat 5% daarvan sal moontlik in die toekoms afgeskryf moet word.

Die bank sê sy leningskriteria raak al hoe strenger.

Dividend styg

Capitec hou nie net sy kliënte gelukkig nie, maar ook sy beleggers.

Die bank se wesensverdienste per aandeel het met 19% tot R45,77 gestyg.

Hy het ’n slotdividend van R17,50 per aandeel verklaar. Dit is óók 19% hoër as ’n jaar tevore.

Beleggers was Donderdag duidelik beïndruk met Capitec se resultate.

Sy aandeelprys het teen 14:00 met 1,8% tot R1 313,60 op die JSE gestyg.

capitec

Meer oor:  Viceroy  |  Capitec  |  Gerrie Fourie  |  Bankdienste  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.