Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Capitec, Transnet-oues Maandag in hof oor aandele
’n Ysterertstrein van Transnet tussen Sishen en Saldanha. Die Transnet Tweedevastevoordeelfonds, een van sy pensioenfondse, wil Capitec-aandele teen ’n afslag van 10% by ’n Gupta-verwante maatskappy koop as deel van die poging om verlore geld weens staatskaping terug te kry.Foto: TRANSNET

Die dispuut oor of die bankgroep Capitec wettig mag weier dat Capitec-aandele aan ’n Transnet-pensioenfonds verkoop word, word Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor.

Die Transnet Tweedevastevoordeelfonds (TTVVF), wat ’n belangstellende party in die saak is, sê in ’n verklaring Coral Lagoon Investments en Ash Brook Investments het ’n saak teen Capitec Bank Holdings gemaak om hom te dwing om toestemming te gee dat Coral Lagoon sy aandele in Capitec aan die TTVVF kan verkoop.

Die verkoop van die aandele is sodat Coral se aandeelhouer, Regiments Capital, aan die skikkingsooreenkoms tussen hom en die TTVVF kan voldoen. Dit spruit op sy beurt uit die omstrede staatskapingsverwante transaksies wat Regiments Capital met die TTVVF aangegaan het, waarvoor die TTVVF sy geld wou terugeis.

Regter Bashier Vally sal terselfdertyd argumente aanhoor oor wie vir die regskoste verantwoordelik is in die teenaansoek wat die TTVVF vroeër teen Capitec gebring het. Dit was om ’n verklarende bevel te kry dat Capitec geen reg het om te voorkom dat Coral Lagoon 810 230 Capitec-aandele aan die pensioenfonds verkoop nie. Capitec het vroeër in ’n beantwoordende verklaring toegegee dat hy geen reg het om Coral Lagoon te keer om die aandele aan die TTVVF te verkoop nie.

Teen Vrydag se aandeelprys van sowat R1 351 per Capitec-aandeel, is Coral Lagoon se Capitec-aandele meer as R1 miljard werd.

Capitec het eers geweier om Coral Lagoon toe te laat om sy aandele aan die TTVVF te verkoop want hy was besorg dit sal die bank se bemagtigingstatus in gedrang bring. Coral Lagoon en Ash Brook Investments was van sy swartbemagtigingsaandeelhouers.

Dié saak van die TTVVF hou nie regstreeks verband met die groepseis van ’n kwynende aantal Transnet-pensioenarisse teen dié fonds en Transnet weens die karige pensioenverhogings wat hulle sedert die begin 2000’s ontvang het nie. ’n Skikkingsooreenkoms oor beter pensioenvoordele is bereik en daar word nou gewag vir ’n hofdatum om die skikking te bekragtig.

Die TTVVF voer wel in sy betooghoofde in die Coral Lagoon-saak aan dat as die geld wat hy uit die skikking met Regiments terugkry as bonusse aan pensioenarisse uitbetaal sou word, sal elkeen die ekwivalent van meer as vier maande se pensioen kan ontvang.

In die TTVVF se betooghoofde in die Coral Lagoon-saak sê hy hy het 46 955 pensioenarisse wat ’n gemiddelde jaarlikse pensioen van R32 198 ontvang, oftewel ’n maandelikse pensioen van R2 683,17. Hy gee toe dat sy lede op ’n gevorderde ouderdom is en duisende van die fonds se begunstigdes nie oor ’n jaar meer sal leef nie.

Die TTVVF se belang by Coral Lagoon se aansoek is dat hy die Capitec-aandele teen ’n afslag van 10% by Coral Lagoon kan koop. Hy verwag om ’n wins van sowat R600 miljoen te maak.

Die fonds voer aan dat Capitec hom in Augustus in ’n brief probeer boelie het om hom aan die skikkingsooreenkoms met Regiments te onttrek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.