Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Capitec wen 2,2 m. kliënte, en vlieg digitaal hoog

Capitec het tydens die inperking verlede jaar blitsvinnig geleer hoe om ’n bank van die huis af te bedryf.

Capitec het sowat 840 takke landwyd.

Gerrie Fourie, uitvoerende hoof, is wel een van daardie base wat liewer wil hê mense moet weer kantoor toe kom sodat strategie en kreatiwiteit beter ontsluit kan word.

Tog kon die bank wat nou as die grootste digitale bank in Suid-Afrika beskou word, daarin slaag om te midde van die inperking tot sewe nuwe produkte in die boekjaar tot einde Februarie bekend te stel.

Capitec se digitale strategie het juis gehelp dat hy in die laaste ses maande tot einde Februarie sy wesensverdienste met 18% tot R3,9 miljard kon verhoog, hoewel die Covid-19-pandemie se impak op die eerste halfjaar beteken het die basiese wesensverdienste vir die hele boekjaar is 27% laer op R4,6 miljard.

Volgens Fourie kon die bank se vlugvoetigheid en tegnologiefokus juis na vore kom in die inperking.

“Kliënte is nou meer as ooit gemotiveer om digitale kanale soos ons nuwe bank-app te gebruik om voordeel te trek uit laer transaksiegelde.”

In syfers

Capitec se boekjaar in syfers

  • Slotdividend van R16 per aandeel is verklaar, teenoor R7,55 ’n jaar gelede.
  • Kapitaaltoereikendheid het verbeter tot 37%.
  • Totale lenings het met 2% tot R64 miljard gekrimp.
  • Kredietkaartlenings het met 17% tot R6,8 miljard gegroei.
  • R7,5 miljard se verligting is tydens die drie en ’n halwe maande van streng inperking aan kredietkliënte verleen. Hiervan is die meeste al terugbetaal en nog R1,7 miljard is uitstaande.

Capitec, wat pas sy 20ste verjaardag gevier het, het sy getal kliënte met 14% tot 15,8 miljoen laat groei. Die gemiddelde groei was 160 000 per maand, en dit groei tans teen 200 000 per maand.

Fourie merk wel op dat kliënte baie versigtiger is om nuwe lenings aan te gaan. In die tweede helfte van die boekjaar was die netto inkomste uit lenings R222 miljoen minder as ’n jaar gelede.

“Die persepsie in die mark is dat krediet toeneem, maar dis nie wat ons sien nie. Mense is steeds baie versigtig.”

Wat ook opgeval het tydens die inperking is dat deposito’s toegeneem het. Mense het minder bestee en eerder geld gespaar.

Deposito’s het met 18% tot R107,1 miljard gegroei.

Capitec het teen Januarie ’n markaandeel van 9,4% in kleinhandelbankdeposito’s (gewone mense se spaargeld) gehad teenoor 8,2% ’n jaar gelede. Fourie meen dis danksy die groei in aktiewe kliënte, asook Capitec se mededingende koerse – R4,1 miljard se rente is in die boekjaar aan spaarders uitbetaal.

k

Capitec se nuwe produkte

  • Access Facility: ’n Nuwe gerief waardeur kliënte toegang kry tot R250 000 se lenings gekoppel aan die prima uitleenkoers, maar jy hoef niks te betaal as jy dit nie gebruik nie. Dit het al 159 000 kliënte gelok en dit verteenwoordig 28% van lenings wat Capitec in die laaste halfjaar toegestaan het.
  • Send Cash: ’n Funksie op die nuwe bank-app waarmee geld na familie of vriende gestuur kan word wat die kontant dan by enige Capitec-kitsbank of ’n winkel kan kry.
  • Scan to Pay: ’n Betaalfunksie op die slimfoon-app om kontaklose betalings te doen met ’n QR-kode, en dit is geïntegreer met bestaande skandeerbetaaldienste soos Zapper en SnapScan.
  • EasyEquities: ’n Funksie op die app waarmee Capitec-kliënte regstreeks in aandele of indeksfondse kan belê via EasyEquites se platform.
  • Huislenings: Capitec het ’n ooreenkoms met SA Home Loans gesluit waardeur Capitec-kliënte vir huislenings kan aansoek doen. Die aansoekproses is digitaal en kliënte kan die vordering met hul aansoek deurgaans monitor. Daar was al 24 423 aansoeke en meer as 300 huislenings is al goedgekeur. Die gemiddelde grootte van die huislenings is sowat R950 000.
  • Virtuele kaart: Dit is in November 2020 bekend gestel en R49,2 miljoen se transaksies is al gedoen.
  • Afstand-aansoeke: Mense kan nou op enige plek ’n nuwe rekening oopmaak en hul virtuele kaart binne minute op die bank-app aktiveer sonder om ’n banktak te besoek. Jy neem onder meer ’n selfie en skandeer self jou ID-kaart. Die opsie om jou fisieke bankkaart tuis te laat aflewer, sal binnekort bygevoeg word.
Meer oor:  Capitec  |  Gerrie Fourie  |  Bankbedryf  |  Covid-19  |  Inperkings  |  Lenings  |  Staat Van Inperking  |  Krediet  |  Koronavirus  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.