Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Capitec wil nóg personeel aanstel

Capitec Bank het nou ongeveer 12,6 miljoen aktiewe rekeninge. Dit is sowat 20% meer as ’n jaar gelede en verteenwoordig groei van sowat 200 000 kliënte per maand sedert Januarie 2019.

’n Kliënt trek geld by een van Capitec se kitsbanke.

Dit is luidens die maatskappy se nuutste syfers vir die halfjaar tot einde Augustus. Hiervan is 5,6 miljoen bankkliënte teenoor die 5,2 miljoen einde Februarie vanjaar.

’n Bankkliënt is ’n persoon wat sy of haar salaris by die bank deponeer en nie net ’n lening of spaarrekening by die bank het nie.

Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec, het Donderdag by die JSE in Sandton, Johannesburg, die bank se resultate met belanghebbendes bespreek.

Hy het herhaaldelik daarop gewys dat die bank se syfers wys dat kliënte se gedrag die afgelope ses maande beduidend verander het.

Capitec, wat sedert sy ontstaan ’n groot fokus op digitale bankdienste gehad het, sien nou wesenlike groei in dié dienste. In die halfjaar het 6,8 miljoen van sy kliënte digitale bankdienste gebruik. Dit is ’n toename van 45% teenoor dieselfde ses maande ’n jaar gelede.

Hiervan gebruik 2,9 miljoen die bank se app en 4,7 miljoen gebruik USSD-kodes.

Minder mense besoek ook Capitec se takke.  Waar 6,4 miljoen kliënte takke in die ooreenstemmende ses maande besoek het, het dié syfer nou tot 6 miljoen gedaal.

Fourie sê dat Capitec se takke self baie op digitale dienste fokus. “Ons plaas kitsbanke en selfdiensterminale in ons takke. Dit help ons personeel om eerder op produkte te fokus as om transaksies uit te voer,” sê hy.

Hoewel digitale bankkoste baie minder is as wat dit kos om ’n transaksie in ’n tak uit te voer, het Capitec steeds 12% méér uit transaksiegeld verdien. In die ses maande tot einde Junie het hy R3,53 miljard uit transaksiegeld verdien.

’n Digitale transaksie by Capitec kos R1 terwyl dit volgens Fourie in takke “wissel” afhangende van wat die transaksie behels.

Nuwe app

Capitec se kliënte kan uitsien na ’n nuwe app wat in Oktober bekend gestel word.

Die app gaan verskeie nuwe funksies bied. Kliënte gaan dit onder meer kan instel sodat dit by hul persoonlike voorkeure pas. “Jy kan sekere funksies op die skerm plaas waar jy dit wil hê. Jy kan ook jou uitgawes in kategorieë plaas,” sê Fourie.

Lenings

Capitec se bruto leningsboek het met 17% tot R60,25 miljard gestyg. Dit is teenoor die voorafgaande ses maande.

Lenings wat tot drie maande agterstallig is, het in die halfjaar met 11% tot R2,16 miljard gedaal.

Lenings wat meer as drie maande agterstallig is en waar regstappe gedoen moes word om die geld in te vorder, het op Capitec se boeke meer as verdubbel tot R6,991 miljard. Fourie skryf dié toename egter toe aan nuwe IFRS 9-reëls wat vereis dat alle lenings steeds op state aangedui moet word as daar meer as ’n 5%-kans is dat die bank wel die uitstaande geld sal kan invorder.

Capitec het voorheen dié soort lenings afgeskryf.

Wat ongesekureerde lenings betref, sê Fourie die bank hou ’n oog op waarvoor mense dié lenings gebruik.

“Wanneer ’n kliënt aansoek doen vir ’n lening word ’n rede gegee. Ons gaan kyk dan later wanneer daardie transaksies uitgevoer word of die geld wel vir dié rede gebruik is. Ons data wys dat ons kliënte oor die algemeen wel die geld gebruik vir die doel waarvoor dit geleen is,” sê hy (sien grafika hieronder).

4,7 miljoen van Capitec se kliënte het nou saam R81,4 miljard se deposito’s by die bank. Dit is groei van 23% teenoor ’n jaar tevore.

Kliënte het R2,3 miljard se rente in die halfjaar tot einde Augustus verdien. Dit is teenoor die R1,86 miljard se rente van ’n jaar tevore.

Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec.

Banksektor

Wat betref die huidige stand van sake in die banksektor, waar baie banke personeel aflê eerder as aanstel, sê Fourie Capitec beplan om vanjaar nog sowat 600 mense aan te stel.

“Ons is veral op soek na ingenieurs, bedryfswetenskaplikes en masjienleerdeskundiges. Ons kort net by hoofkantoor ten minste 150 personeellede,” sê hy.

Fourie sê die tendens in die banksektor om te herstruktureer is bloot om by tegnologie aan te pas.

“Mense wil nie meer tradisionele kanale gebruik om te bank nie. Banke moet hierby aanpas.”

Hy sê gesien hoe Suid-Afrikaners bank en die toeganklikheid tot internetbankdienste, gaan banktakke nog vir ’n lang tyd bestaan. Al wat gaan verskil is die dienste wat binne die takke gebied word.

Dividend styg

Capitec hou nie net sy kliënte gelukkig nie, maar ook sy beleggers. Die bank se wesensverdienste het met 20% tot R2,943 miljard of R25,45 per aandeel gestyg.

Hy het ’n tussentydse dividend van R7,55 per aandeel verklaar. Dit is 20% hoër as ’n jaar tevore.

Fourie sê Capitec se besluit om in Maart sy bankgelde te verlaag het duidelik eerder ’n positiewe as ’n negatiewe uitwerking op sy winsmarges gehad. Hoewel die bank minder uit dié geld verdien het, het hy meer kliënte gelok, wat die vermindering teengewerk het.

Die bank se kliënte het volgens Capitec R227 miljoen minder aan bankgelde in die ses maande betaal.

Sy aandeelprys het teen 10:00 Donderdag met bykans 1% tot R1 263,25 op die JSE gedaal.

k
Meer oor:  Capitec  |  Gerrie Fourie  |  Bankbedryf  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.