Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Carling Black Label het goeie 2020 gehad

Dit lyk of Suid-Afrikaners, onder druk weens die Covid-19-inperkings, minder uitsoekerig oor hul bier in 2020 was – hulle het minder ingevoerde bier gekoop en ook probeer spaar deur die drank in bottels te koop wat vir kleingeld teruggeneem kan word.

Carling Black Label, Hansa en Castle - plaaslike produkte het in 2020 beter vertoon as AB InBev se ingevoerde biere. Foto: Kevin Sutherland, Bloomberg

Dit het die verkope van die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) se Carling Black Label gehelp. Gegeurde alkoholdrankies soos Brutal Fruit en Flying Fish was ook onder die jaar se topverkopers vir SAB.

SAB se moedermaatskappy, Anheuser-Busch InBev (AB InBev), het Donderdag sy resultate vir sy 2020-boekjaar, tot einde Desember, uitgereik. Hy maak nie volume verkope of inkomste uit spesifieke Suid-Afrikaanse produkte bekend nie.

Die jaarsyfers toon wel vir die eerste keer in jare ’n daling in die verkope van sy sogenaamde wêreldbiere, die drie biere wat hy wêreldwyd sterk bemark, naamlik Budweiser, Stella Artois en Corona. Die gekombineerde inkomste van dié drie biere was wêreldwyd 5% laer en 5,3% laer in lande buite hul eie tuismark (onderskeidelik die VSA, België en Mexiko). Dit beteken te midde van die Covid-19-pandemie het mense meer plaaslike bier gekoop.

Die hele groep se inkomste het met 3,7% tot nagenoeg $47 miljard gedaal, terwyl die volume verkope met 5,7% gedaal het – maar steeds ’n indrukwekkende 531 miljard hektoliter. Die groep se inkomste per hektoliter het met 2,1% gestyg.

Die groep se wins het met byna 53% tot $3,8 miljard getuimel. Sy verdienste per aandeel van $1,91 was ook 53% minder.

Die groep het ’n dividend van 50 eurosent per aandeel verklaar.

Die rede vir AB InBev se swak syfers is natuurlik geen verrassing nie. Kroeë en restaurante wêreldwyd was in 2020 weke lank, soms maande aaneen, onderhewig aan inperkingsregulasies vir die Covid-19-pandemie – dikwels heeltemal gesluit, of hulle moes vroeg sluit.

In Suid-Afrika was daar drie keer ’n algehele verbod op drankverkope of daar was beperkings op drankverkope oor naweke (soos wat tans weer die geval is).

Daarby is groot gebeure soos sokkertoernooie en musiekkonserte gekanselleer of verklein.

Drankverkope in kroeë en by groot geleenthede is van die grootste bronne van verkope vir die bierreus.

AB InBev sê egter mense het baie gou by die “nuwe werklikheid” aangepas en tuis begin onthaal. E-handel in drank het wêreldwyd skerp toegeneem.

In sekere lande, soos Brasilië, het AB InBev sy eie aflewerings behartig deur die platform Zé; elders het hy verhoudinge met e-handelaars versterk om te verseker dat sy produkte altyd aanlyn beskikbaar is.

AB InBev se aandeelprys op die JSE het Donderdag met 3,5% tot R907,10 gedaal.

Meer oor:  Ab Inbev  |  Sab  |  Anheuser-Busch Inbev  |  Bierbedryf  |  Drankbedryf  |  Drank  |  Bier  |  Brouerye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.