Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Cell C wil tot 960 mense aflê

Cell C beplan om tot 960 werknemers, oftewel 40% van sy totale werksmag van nagenoeg 2 500 mense, af te lê, het die sukkelende diensverskaffer Vrydag aan Netwerk24 bevestig.

Cell C gaan gebuk onder berge skuld.

TechCentral het eerste berig Cell C het sy werknemers Vrydag van die beplande afleggings in kennis gestel.

“Cell C kan bevestig dat die moeilike besluit geneem is om met junior bestuurslede en halfgeskoolde personeel te konsulteer oor die implementering van ’n herstruktureringsplan om die onderneming in pas te bring met sy nuwe bedryfsmodel,” het ’n woordvoerder aan Netwerk24 gesê.

Cell C is reeds ’n jaar lank besig met die implementering van ’n grootskaalse omkeerplan om weer winsgewend te raak.

Hy gaan tans gebuk onder ’n groeiende skuldlas wat reeds meer as R8,7 miljard beloop.

“Cell C het vir baie jare onderpresteer en aansienlike verliese gely. Een van die boustene van die omkeerstrategie is ’n fokus op bedryfsdoeltreffendheid,” sê die woordvoerder.

Dit sluit in die drastiese besnoeiing van uitgawes.

Teen einde Mei vanjaar is 30 senior bestuurslede ook in ’n afsonderlike herstrukturering afgedank.

Die jongste konsultasieproses ingevolge art. 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, lig personeel in oor die moontlikheid van nog afleggings.

“Nog geen finale besluit is geneem nie en die doel van die konsultasieproses is om insette te kry vir oorweging voordat ’n finale besluit geneem word.”

Cell C het die afgelope jaar ook geen nuwe aanstellings gemaak nie, en alle vakante poste is gevries.

Die maatskappy het in die boekjaar tot einde Desember sy uitgawes met ’n stewige 18% besnoei, onder meer deur minder aan instandhouding van sy netwerkinfrastruktuur te bestee.

Cell C het in die laaste twee jaar met MTN ooreengekom om meer van sy netwerkinfrastruktuur te huur eerder as om sy eie op te rig.

Al hierdie strategieë noodsaak dit dat Cell C sy bedryfsmodel en organisatoriese struktuur in heroënskou neem, sê die woordvoerder.

“Die maatskappy reken die huidige bedryfsmodel het mettertyd ’n aantal ondoeltreffendhede tot gevolg gehad. Dit dra by tot die bedryfs- en finansiële uitdagings waarmee die ondernemings tans te kampe het.”

Die diensverskaffer is steeds besig om met rolspelers te onderhandel om bykomende kapitaal te bekom om sy skuld te help delg.

Die voorlopige herkapitalisering van Cell C deur die nuutgestigte maatskappy Gatsby, is in Mei deur die Mededingingkommissie goedgekeur.

Brett Levy, mede- uitvoerende hoof van Blue Label Telecoms, word volgens inligting van die registrateur van maatskappye gelys as die enigste direkteur van Gatsby.

Blue Label besit reeds ’n belang van 45% in Cell C.

Nicola White, hoof van beleggers- en mediaverhoudinge by Blue Label, het voorheen aan Netwerk24 gesê minstens 13 verskillende partye is by die herkapitalisering van Cell C betrokke.

Meer besonderhede hieroor word binne die komende weke verwag.

Meer oor:  Cell C  |  Data  |  Selfoonmaatskappye  |  Tegnologie  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.