Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Chaos’: Krisis in hawens weens krakers kring uit

Hoewel Transnet die bron geïdentifiseer het van die kuberkrakery wat sy IT-stelsels verlam, staan die land se hawens steeds byna botstil.

Die Durbanse hawe. Foto: Getty Images

Kuberkrakers het Donderdag toegeslaan op Transnet se IT-stelsels en die staatsonderneming verlam.

Transnet sê vragdokumente word sover moontlik met die hand verwerk om weer ’n vloei van goedere te probeer bewerkstellig.

Gavin Kelly, uitvoerende hoof van die Padvervoervereniging (RFA), het egter aan Netwerk24 gesê dit is ’n onbegonne taak. “Dis letterlik onmoontlik om alles met die hand te verwerk.

“Ons kan doodeenvoudig nie meer goedere in- of uitvoer nie.”

Transnet se webwerf en telefoonlyne werk steeds nie, en die werklike omvang van die skade is nog onbekend. Transnet wou nie meer besonderhede deel nie.

Kelly het egter gesê daar heers ’n chaos in die hawens.

“Vragmotors staan kilometers ver tou om vraghouers af te laai en op te laai, maar dit kan nie gebeur nie.”

Die grootste probleem is dat die skepe wat wag om goedere te kom aflaai besig is om bes te gee.

“Hulle gaan nie vir altyd buite die hawens sit en wag nie. Hulle sal na hawens in ander lande vaar.”

’n Mens kan nie ’n week lank alle handel van ’n land tot stilstand bring sonder ernstige gevolge nie.
Gavin Kelly

En dít is die groot probleem, reken Kelly: Suid-Afrika maak tonne geld uit sy status as die “poort na Afrika”, maar daai dae is dalk verby.

“Ons is nie meer dié bestemming vir die in- en uitvoer van goedere na Afrika nie.

“Eers het jy ’n week waar alles brand, en nou dít.”

Hy reken maatskappye sal nou ernstig begin kyk na hawens in ander lande om goedere na die vasteland te bring.

Suid-Afrika is ’n netto invoerder van goedere – sonder vragskepe wat sy hawens volhou, sal die land se ekonomie ernstig begin kwyn.

Transnet is besig om voedsel en ander bederfbare goedere te prioritiseer vir die verwerking van dokumente met die hand, maar die oorgrote meerderheid goedere gaan nou net op die hawens ophoop.

Transnet het belowe die probleem sou teen Maandag opgelos wees, maar Kelly het gesê hy het vertroulik verneem dat die maatskappy die situasie eers teen volgende Maandag onder beheer sal kry.

“’n Mens kan nie ’n week lank alle handel van ’n land tot stilstand bring sonder ernstige gevolge nie,” sê hy.

“Dit gaan ’n groot, groot effek hê.”

Meer oor:  Handel  |  Transnet-Kuberaanval  |  Hawens  |  Staatsonderneming  |  Kuberkrakers  |  Invoer  |  Uitvoer  |  Vervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.