Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Checkers g’n Woolies, maar soek meer van sy klante
Sjef Gordon Ramsay en sy dogter Matilda wat ’n reeks klaarvoorbereide kos vir Checkers ontwikkel het. Die produkte se verkope oortref verwagtinge. Foto: Verskaf

Checkers wil nie Woolies wees nie, maar gaan sy monopolie op rykes aftakel, het Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof van die Shoprite-groep, gesê.

Engelbrecht het by ’n beleggingsaanbieding oor die groep se resultate vir die afgelope boekjaar die sluier verder gelig oor die ses aandrywers vir groei waarop hy as nuwe uitvoerende hoof gaan fokus.

Engelbrecht het die begin van die jaar oorgeneem by Whitey Basson, wat byna vier dekades lank in die pos was.

Hy meen hy is verkeerd aangehaal in ’n berig wat verwys het daarna dat hulle soos Woolworths wil word.

“Dis nie wat ek gesê het nie. Ek het gesê ons wil meer van hul klante hê. Daar is nogal ’n verskil.”

Hy het gesê van die 1,9 miljoen ryker klante kom na Checkers toe, maar nie eksklusief nie.

Dit is dié 1,9 miljoen mense, wat van LSM 8 tot 10 is, wat hulle wil hê moet meer by Checkers kom kruideniersware koop.

“So ja, ons gaan hierdie monopolie in wat ons noem die premiumvoedselhandel aftakel,” het hy gesê.

Volgens hom het Checkers die pas waarteen sy markaandeel groei wesenlik versnel.

Hoekom jaag ons hierdie klante? Hulle is vier keer meer winsgewend as ons gemiddelde klant in terme van mandjiegrootte.
Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof van Shoprite

In Junie is die hoogste markaandeel nog vir die groep aangeteken.

Vir Checkers spesifiek het hulle net in Junie hul markaandeel met 0,8% gegroei. “So ons maak vordering in die gedeelte van die verbruikersbeursie wat ons wil kry.”

Checkers se verkope het met 10,8% tot R38,5 miljard in die 52 weke tot 2 Julie gestyg.

Hy het gesê die groei in die teikenmark van LSM 8 tot 10 is ondersteun deur die uitbreiding van die afdeling se klaarvoorbereide geriefskos en vars produkte.

Dié aanbod het oor die afgelope jaar verdubbel, met 100 nuwe produkte wat by die klaarvoorbereide kosreeks gevoeg is.

Verkope het verdubbel sedert die halfjaar, volgens hom.

“Hoekom jaag ons hierdie klante? Hulle is vier keer meer winsgewend as ons gemiddelde klant in terme van mandjiegrootte.”

Hy ontken hulle boots net die leier in die mark, naamlik Woolworths, na.

Volgens hom het die Oh My Goodness-reeks vir kinders se kos, wat deur die internasionale sjef Gordon Ramsay en sy dogter bemark word, verwagtinge oortref.

Die najaag van die ryker klante vir Checkers is deel van die ses aandrywers vir groei.

Nog een is om sy privaat etiket-produkte uit te brei.

Volgens hom kry die verkope van die produkte momentum en groei dit vinniger as waarteen totale verkope groei.

Die afgelope ses maande is 341 nuwe produklyne bygevoeg en die verkoop van privaat etikette het amper 15% van totale verkope in Suid-Afrika uitgemaak.

Dit is laer as die gerapporteerde nasionale gemiddelde van 18,5%, wat dui op aansienlike groeipotensiaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.