Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Checkers se kaart groei ‘Xtra’ vinnig tot 5 m. klante

Checkers het binne ’n jaar meer as 5 miljoen klante ingeteken op sy lojaliteitskaart, Xtra Savings.

Checkers se lojaliteitskaart, Xtra Savings, het binne ’n jaar meer as 5 miljoen intekenare gekry. Foto: Verskaf

Volgens Neil Schreuder, hoof van strategie en innovering van die Shoprite-groep, maak dit hiervan die beloningsprogram van sy soort wat die vinnigste in Suid-Afrika groei.

Daar is groter beloningsprogramme in Suid-Afrika, maar hulle bestaan al etlike jare.

Volgens Schreuder kom dié groei neer op meer as 15 000 klante per dag wat sedert sy bekendstelling in Oktober verlede jaar op die Xtra Savings-kaart ingeteken het.

Wie is die grootste?
  • Die Clicks ClubCard het einde Februarie vanjaar 8,4 miljoen aktiewe lede gehad. Die ClubCard is in 1995 bekend gestel en het in 2016 ’n herbekendstelling gehad.
  • Begin verlede jaar het Pick n Pay se Smart Shopper-kaart 7,2 miljoen aktiewe lede gehad. Sy nuwe lojaliteitsprogram is in 2011 bekend gestel.
  • Woolworths het in 2010 sy WRewards-program bekend gestel, maar het reeds in die voorafgaande vyf jaar ’n lojaliteitsprogram gehad. Volgens die konsultantegroep Truth het sy aktiewe lede ’n jaar of wat gelede 3,4 miljoen beloop.
  • Edcon het sowat twee jaar gelede nog die grootste lojaliteitsprogram onder kleinhandelaars gehad met 11 miljoen Thank U-lede. Die program is in 2012 bekend gestel.
  • TFG Rewards & More het in 2018 7,6 miljoen lede gehad. Dit is ook in 2012 bekend gestel.

Die konsultantegroep Truth, in samewerking met BrandMapp, het in Maart in ’n verslag gesê 72% van ekonomies aktiewe Suid-Afrikaners gebruik lojaliteitsprogramme.

Die verslag is saamgestel uit ’n peiling wat verlede jaar gedoen is.

Dit is ’n daling van 3 persentasiepunte teenoor die vorige jaar se peiling.

Sedert 2017 – toe dit ’n hoogtepunt van 79% bereik het – daal die gewildheid van lojaliteitsprogramme volgens Truth se peilings.

Van 2015 tot 2017 was daar ’n wesenlike toename in die gebruik van lojaliteitskaarte.

Truth skryf die daling toe aan die ekonomiese onsekerheid en die druk op verbruikersbesteding, wat verbruikerskeuses beïnvloed.

Daar was ’n groot daling in veral die gebruik van lojaliteitskaarte onder verbruikers tussen die ouderdom van 18 en 25 jaar.

Lojaliteitsprogramme is ook minder gewild onder laerinkomstegroepe. Die gebruik van lojaliteitsprogramme neem toe hoe ryker die huishouding raak.

Deelnemers aan die peiling het vir die eerste keer die vraag beantwoord hoekom lojaliteitsprogramme nié gebruik word nie. Een van die redes is dat dit te moeilik is om te verstaan en nog een is dat dit te moeilik is om die punte te verhaal.

Van die frustrasies met lojaliteitsprogramme is dat te veel bestee moet word om belonings te verdien en dat die aanbiedinge nie relevant is nie.

Nog ’n belangrike rede is dat die punte verval voor dit gebruik kan word.

Volgens die verslag moet Checkers se Xtra Savings-program dopgehou word.

Twee-derdes van respondente aan die peiling het gesê ’n lojaliteitsprogram beïnvloed waar hulle inkopies doen.

Schreuder het verwys na marknavorsing Nielsen wat toon dat Checkers die afgelope boekjaar R4 miljard se markaandeel van sy mededingers gewen het, en dat Xtra Savings baie hiertoe bygedra het.

Hy meen die program se sukses is te danke daaraan dat die aanbiedinge aan intekenare regstreeks op hul kaarte gelaai word sodat dit maklik by die kasregister verhaal kan word.

Baie ander lojaliteitsprogramme is grensloos kompleks met punte wat verdien word of aanbiedinge wat self op kaarte gelaai moet word om te kan gebruik.

“Ons klante hoef nie deur ’n vuur te loop om die voordele van die program te ontvang nie. Daar is geen rede om na ’n kiosk te gaan om punte af te laai of om ’n app af te laai om aanbiedinge te ontvang nie.”

Lede het tot op hede promosies gekry wat op R1 miljard se besparing neerkom, sê hy.

  

Die 6 kaarte wat die meeste gebruik word

Deelnemers aan Truth se peiling moet aandui watter lojaliteitsprogramme hulle die meeste gebruik.

Die topses in volgorde wat die meeste gebruik word:

1. Clicks se ClubCard

2. Pick n Pay se Smart Shopper

3. Dis-Chem Benefit

4. Woolworths WRewards

5. FNB eBucks

6. Edcon Thank U

Op die vraag sonder watter lojaliteitsprogram verbruikers nie kan klaarkom nie, val kleinhandelaars uit die bus. Die eerste ses plekke word deur banke en versekeraars gevul.

FNB eBucks is boaan dié lys, gevolg deur Standard Bank UCount en Discovery Vitality.

Die voordele wat die gewildste is, is kontantbelonings gevolg deur afslagbewyse.

Meer oor:  Edcon  |  Tfg  |  Dis-Chem  |  Pick N Pay  |  Clicks  |  Shoprite  |  Woolworths  |  Kleinhandelaars  |  Inkopies  |  Kleinhandel  |  Huishoudelike Besteding  |  Lojaliteitsprogram  |  Verbruikersbesteding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.