Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Checkers steel nie óns klante, sê Woolies
Woolworths Food se data-insamelingstegnologie verseker dat hy persoonlike bemarking aan klante kan begin doen deur inligting oor hul produkkeuses in te samel, sê Ian Moir, uitvoerende hoof.

Die markaandeel wat Checkers kwansuis steel, kom nie van Woolies af nie, sê Ian Moir, uitvoerende hoof van Woolworths.

Moir het gereageer nadat Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof van die Shoprite-groep, vandeesweek gesê het Checkers se markaandeel neem toe.

Engelbrecht het gesê hulle wil meer van Woolies se klante afrokkel.

Maar volgens Moir het Woolworths Food se markaandeel óók toegeneem.

“Hul markaandeel groei dalk, maar nie ten koste van ons nie. Ons albei wen en dit is iemand anders wat verloor.”

Moir sê Woolworths het ook nie ’n monopolie op die bokant van die mark, oftewel die lewenstylgroepe LSM 8 tot 10, soos Engelbrecht gesê het nie.

“Ons het nie ’n monopolie nie en sal nooit so arrogant wees om dit te dink nie. Ons gaan ook nooit oorgerus word nie.

“Maar ek moet Shoprite bedank vir wat hy gesê het, want nou praat almal daaroor en my span wat vir kos verantwoordelik is, is meer gemotiveerd en aggressief.”

Moir sê Woolworths het oor baie jare ’n goeie onderneming op dié gebied opgebou en het die ervaring, die tegnologie en die vennootskappe met verskaffers wat nodig is daarvoor.

Woolies se kos is innoverend en van goeie gehalte.

Hy sê die verhoudings met die verskaffers wat deel is van die strategie, word sterker.

Baie het ons dit al probeer nadoen en het misluk.
Ian Moir, uitvoerende hoof van Woolworths

“Dit is eksklusiewe vennote van Woolies van wie ons innovering en beter gehalte kry as wat ander kan kry.

“Baie het ons dit al probeer nadoen en het misluk.”

Woolworths Food was weer die groep se ster in die 52 weke geëindig 25 Junie met ’n vertoning wat beter as die res van die mark was, sê Moir.

Woolworths Food is nou verreweg die grootste enkele bydraer tot verkope nadat sy verkope met 8,5% tot R27 miljard gestyg het.

Sy aangepaste bedryfswins het in dieselfde mate gestyg tot R1,9 miljard.

Mohr sê hulle het die bedryfswinsmarge stabiel gehou op 7,3%. “Dit is merkwaardig in ’n baie moeilike omgewing.”

Dit het plaasgevind ten spyte daarvan dat die bruto winsmarge gedaal het (van 25,5% tot 25,1%) omdat hulle volgens Moir in “pryse belê het” – ’n verwysing na die kleiner winsmarge op die produkte.

“Dit het ons beskerm,” sê hy.

Volgens hom het hul volumes van April af begin styg namate voedselinflasie begin daal het.

Voedselinflasie by Woolworths Food was oor die volle boekjaar 8,6%.

Dit toon met hoeveel volumes gedaal het, want in dieselfde winkels as wat verlede jaar oop was, het verkope net meer as 4% gestyg.

Meer oor:  Checkers  |  Woolworths  |  Ian Moir  |  Maatskappye  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.