Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
China se Coega-aanleg skep só werk
Só lyk BAIC se kompakte sportnutsvoertuig X25 wat by BAIC se Coega-fabriek gemonteer sal word. Die eerste van die plaaslik vervaardigde voertuie sal einde vanjaar in die kleinhandel beskikbaar wees. Foto:

Die eerste voertuig uit Beijing Automotive Industry Company (BAIC) se nuwe fabriek in die Coega-nywerheidsone in Port Elizabeth sal voor einde vanjaar in Suid-Afrika te koop wees.

BAIC SA het die afgelope week op ’n glansgeleentheid in Coega gesê belangrike bouwerk in die eerste fase ter waarde van R2 miljard is ver gevorder en toerusting is gereed vir die finale montering (sogenaamde semi-knockdown omdat verskillende dele van die voertuig ingevoer en dan hier aanmekaar gesit word) van die kompakte sportnutsvoertuig X25.

Die eerste fase behels ’n kantoorgebou van 4 200 m², ’n monteer- en bakwerk-afdeling van 42 000 m² en die installering van robottoerusting. Konstruksie aan die verfwinkel van 21 000 m² sal binnekort begin.

Uiteindelik word ’n verskafferspark ook beplan wat komponentvervaardigers sal huisves.

BAIC beoog om uiteindelik 60% plaaslike inhoud in sy Suid-Afrikaans vervaardigde voertuie te hê, het Xu Heyi, voorsitter van die BAIC-groep, Dinsdag gesê. Die huidige gemiddeld in die bedryf is sowat 35%.

Meer as 30 onderdele wat plaaslik verkry word, is deel van vanjaar se planne. Dit sluit in toebehore vir die binnekant van die voertuie soos tapyte en sitplekke.

Die Coega-fabriek, die eerste wat BAIC buite China bou, behels ’n totale belegging van R11 miljard in die Oos-Kaap en is ’n vennootskap tussen BAIC en die Industrial Development Corporation (IDC). Die belegging is die grootste in ’n nuwe vervaardigingsfasiliteit in Suid-Afrika die afgelope 40 jaar.

’n Skaalmodel van BAIC se Coega-aanleg. Foto: egmont sippel

Busi Mabuza, voorsitter van die IDC, het gesê hulle verwag die belegging sal ’n positiewe invloed hê in die streek en tot bykomende beleggings en werkskepping lei.

Altesame 60% van die voertuie wat in Coega gebou sal word, sal na Afrika, die Midde-Ooste en Suid-Amerika uitgevoer word, met die oorblywende 40% vir die plaaslike mark, het Xu gesê.

Die fabriek sal uiteindelik 100 000 eenhede per jaar kan bou.

BAIC het tans 17 handelaars in Suid-Afrika. Die kleinhandelprys van die X25 wat hier gebou sal word, is nog nie bekend nie, maar die maatskappy sê dit sal goedkoper wees as om die voertuig in te voer. Dié kleinhandelprys begin in die omgewing van R220 000.

Die BAIC-mylpaal volg nadat voertuigvervaardiging ’n gevoelige slag toegedien is met General Motors wat einde 2017 vervaardiging in Suid-Afrika opgeskort het.

Vir die departement van handel en nywerheid is voertuigvervaardiging ’n belangrike sektor in sy aksieplan vir nywerheidsbeleid. Dit dra 6% tot die bruto binnelandse produk (BBP) by en 33% tot vervaardiging-BBP.

Xu Heyi, voorsitter van die BAIC-groep, het ter inhuldiging van die aanleg in Coega gloeiend oor die projek gepraat.

Dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, het vroeër vanjaar gesê die motorbedryf het die afgelope dekade R45 miljard se nuwe beleggings gelok en uitvoer is verhoog danksy ondersteuningsprogramme vir die bedryf.

Onder die beleggings tel BMW se R6 miljard in sy Rosslyn-aanleg vir produksie van die nuwegenerasie-BMW X3; Volkswagen SA wat sowat R3 miljard in sy Uitenhage-fabriek belê het vir die bou van die nuwe Polo Vivo en Polo; en Toyota se belegging van R6,1 miljard in sy Prospecton-fabriek in Durban om die Hilux en Fortuner te bou.

BAIC SA se belegging is deel van 26 bilaterale ooreenkomste ter waarde van R94 miljard wat in 2015 tussen Suid-Afrika en China onderteken is.

Tydens Dinsdag se geleentheid het pres. Cyril Ramaphosa en sy Chinese eweknie, Xi Jinping, via ’n regstreekse video-oorskakeling saam ’n knoppie gedruk om die eerste voertuig uit die fabriek van die monteerlyn te laat loop.

1 540 werkgeleenthede in die konstruksiefase is geskep en kontrakte ter waarde van R200 miljoen is met 73 klein, medium en mikro-ondernemings gesluit. Volgens BAIC sal 120 werkers teen einde vanjaar in diens wees.

¦ Lees wat sê Rapport se motorskrywer, Egmont Sippel, oor BAIC in Weekliks.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Idc  |  Coega
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.