Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Chinese motorreus wil R1,2 mjd. in Oos-Kaap belê
Die Chinese motorvervaardiger Beijing Automobile International Corporation se luukse sportnutsvoertuig, die BJ40. Foto: BAIC

Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) en die Chinese motormaatskappy Beijing Automobile International Corporation (BAIC) het dié naweek ’n ooreenkoms gesluit en so die bou van nog ’n motorvervaardigingsaanleg in die Oos-Kaap ’n tree nader aan die werklikheid gebring.

Dié ooreenkoms is vir ’n belegging van R1,2 miljard om klein, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s) in die Oos-Kaapse motorbedryf te ontwikkel om die nuwe aanleg van R11 miljard te ondersteun.

Sakhumzi Somyo, Oos-Kaapse LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme, sê die memorandum van verstandhouding wat Saterdag in Kaapstad deur die twee partye onderteken is, sit die prosesse aan die gang om tot 10000 werkgeleenthede in die motorbedryf-waardeketting te skep.

Wie is BAIC?

Die Beijing Automobile International Corporation (BAIC) is byna 60 jaar gelede begin en is vandag op vier na die grootste motormaatskappy in China.

Hy het in 2014 2,4 miljoen voertuie verkoop.

BAIC monteer reeds halfvervaardigde bakkies in Zimbabwe en het ’n handelaar in Madagaskar.

Die motorvervaardigingsaanleg, wat in die Coega-nywerheidsontwikkelingsone gebou sal word, sal in die eerste fase van die projek heeltydse werk aan sowat 1 000 mense gee.

Somyo sê die motorbedryf is steeds een van die grootste werkgewers in die Oos-Kaap, maar dat swart ondernemings se toetrede tot die waardeketting oor die jare heen moeilik was om te verwesenlik.

Somyo meen die ondertekening van die ooreenkoms kom op die regte tyd omdat die regering volstoom wil voortgaan met radikale ekonomiese transformasie om ekonomiese eienaarskapspatrone in die provinsie te verander.

Die Chinese motorgroep het belowe dat minstens 60% van die inhoud van die voertuie wat hy beoog om by sy nuwe aanleg in Coega te vervaardig, teen die vierde jaar van produksie uit plaaslik vervaardigde inhoud sal bestaan.

Somyo meen dit is ’n buitengewone verbintenis vir ’n nuwe toetreder tot die mark.

Volgens Somyo is ander motorvervaardigers se gemiddelde plaaslike inhoud op 35%, al is hulle al dekades in die land betrokke.

’n Nywerheidspark word naby BAIC se aanleg beplan, waar verskaffers van motoronderdele en -komponente hul ondernemings kan vestig. Hulle sal nie net aan BAIC lewer nie, maar ook aan ander motorvervaardigingsaanlegte in die gebied en aan die uitvoermark.

Ses verskaffers van China en Suid-Afrika het reeds lewensvatbaarheidstudies gedoen en belangstelling getoon om onder meer motorsitplekke, -buffers, -paneelborde en -binneruimafwerking in die nywerheidspark te vervaardig. Die park kan in 2018 in werking gestel word en minstens 600 werkgeleenthede kan geskep word

Meer oor:  Nywerheidsontwikkelingskorporasie  |  Nok  |  Coega  |  Port Elizabeth  |  Motors  |  Chinese
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.