Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Christo Wiese: ‘Dis nog nie aftreetyd nie’

Hy is nie die tipe ou wat aftree nie, sê Christo Wiese, wat ná dekades as voorsitter van die Shoprite-groep gaan uittree.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA ? APRIL 28: Former Steinho
Christo Wiese tydens 'n onderhoud by sy huis in Clifton in April 2018. Foto: Gallo Images/Edrea du Toit

Wiese het Vrydagoggend vroeg van ’n winderige Clifton in Kaapstad, waar hy woon en sedert die begin van die inperking ook sy kantoor het, oor die groep se aankondiging die vorige dag gesê hy beskou dit nie as die einde van sy pad met Shoprite nie.

“Dit is die regte tyd en ons het die regte persoon gekry.

“Ek is glad nie hartseer nie. Dit was ’n wonderlike ervaring en ’n wonderlike 40 jaar. Maar aan alles kom ’n einde.”

Hy het op 10 September 79 jaar oud geword.

Of dit deel is van ’n stelselmatige beweging na aftrede, het hy gesê: “Ek probeer my lewe so ’n bietjie herrangskik, maar ek is nie in ’n aftree-rat nie. Ek is nog baie aktief en geniet alles wat ek doen.”

Ondanks die ineenstorting van Steinhoff wat daartoe gelei het dat hy ’n groot deel van sy rykdom, wat hy met Pepkor opgebou het, verloor het, het hy nog talle belange in ander ondernemings en direkteurskappe.

Hy bly aan as direkteur van Shoprite, waarin hy die tweede grootste aandeelhouer ná die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) is, maar die grootste stemreg het.

Of dit moeilik is om met al die belange en direkteurskappe die stokkie oor te gee en af te tree, het hy gesê: “Ek is een van daardie mense wat maar in die saal sal bly tot ek nou regtig fisiek dit nie meer kan doen nie, want ek weet nie wat anders ek sal doen nie. Ek bly maar besig, dit maak my die gelukkigste.”

Hy het baie ervaring om te deel

“Ek geniet dit om met jonger mense te werk en ondernemings te bou met mense wat meer energie as ek het. Maar dan het ek weer die ervaring wat opmaak daarvoor om saam met hul energie nuwe ondernemings te bou en te ontwikkel.”

Wiese het begin Julie gesê hy werk weens die pandemie ook van sy huis af.

’n Skermgreep van ’n webuitsending in September van die Shoprite-groep se jaarresultate wat deur Wiese geopen is.

Dit het sy daaglikse rit van 40 minute na die ou Pepkor-gebou in Parow, waar hy steeds ’n kantoor het, vir eers tot ’n einde gebring het.

Wiese het in die 1960’s by Pep Stores betrokke geraak toe hy in 1967 as uitvoerende direkteur aangestel is.

In November 1979 het Pep Stores ’n klein kruidenier met agt winkels in die Wes-Kaap gekoop. Dit het as Shoprite bekend gestaan.

Wiese het in 1981 die voorsitter van die destydse Shoprite geword. (Volgens Shoprite se webtuiste was hy sedert 1991 voorsitter van die huidige maatskappy.)

Hy was tot in 2014 die grootste aandeelhouer van Pepkor voordat hy dié belang vir een in Steinhoff verruil het.

Of hy nog enigsins na sy kantoor in Stellenbergstraat in Parow terugkeer, het hy gesê hy doen dit steeds, maar “tot die Covid-ding heeltemal bedaar het, probeer ek maar so ver as moontlik van die huis af werk”.

“Ek sien mense hier en ek is maar meestal op die telefoon soos almal van ons.”

Hy is die voorsitter van die nominasiekomitee wat besluit het oor ’n plaasvervanger en is baie gelukkig met Wendy Lucas-Bull wat hom gaan opvolg.

In die aankondiging Donderdag het hy gesê haar “kundigheid, ervaring en leierskap sal tot wesenlike voordeel van die direksie en die groep wees”.

“Ek gaan saam met haar werk en sal nog ’n jaar of twee in die direksie bly. Sy is ’n baie ervare sakevrou en ek sien uit daarna om saam met haar te werk.”

Sy is voorsitter van Absa-groep en het al in talle direksies in die private en openbare sektor gedien.

LEES OOK: Shoprite kry opvolger vir Christo Wiese ná dekades

Wendy Lucas-Bull wat Christo Wiese as voorsitter van Shoprite opvolg.

Oor die eerste vrou wat as voorsitter gaan dien en hoe hy daaroor voel, het hy gesê: “Dit maak sin. Ek is 100% tevrede daarmee.”

Die opvolger is die afgelope jaar gesoek ná ’n dramatiese jaarvergadering verlede jaar waarop gewone aandeelhouers hom probeer uitstem het.

Sowat 61% van hulle het teen sy herverkiesing gestem. Tog is hy danksy sy spesiale hoë-stem-aandele herverkies.

Die stemdraende aandele van Wiese het ’n interessante geskiedenis wat spruit uit die ontknoping van ’n beheerstruktuur jare gelede, naamlik Pepgro se aandeelhouding in Pepkor en die ontknoping van Pepkor van sy aandeelhouding in Shoprite en Tradehold in 2000.

Dit het tot drie aparte genoteerde groepe Pepkor, Shoprite en Tradehold gelei.

Lees meer oor die geskiedenis van die aandele in die meegaande artikel.

Hoewel Wiese sedert die ineenstorting van Steinhoff einde 2017, waarin hy die grootste aandeelhouer en voorsitter was, baie van sy Shoprite-aandele moes verkoop, is hy steeds die aandeelhouer met die grootste stemreg danksy dié spesiale aandele wat hy hou.

Sekere aandeelhouers het verlede jaar hard gespook om iemand te kry in die direksie wat die voorsitter kan word en onafhanklik van Wiese is.

Shane Watkins, beleggingshoof van die batebestuurder All Weather Capital, wat verlede jaar ’n direkteur vir die Shoprite-groep benoem het, het gesê Wiese het “oordrewe invloed”.

Ander aandeelhouers het te kenne gegee dit gaan ook oor sy ouderdom wat vrae laat ontstaan oor sy energievlakke en of hy nog sy rol kan vervul.

Ander was bekommerd oor die gebeure rondom Steinhoff wat vrae laat ontstaan het oor Wiese se vermoë om effektief toesig te hou oor die bestuur van ’n maatskappy en om in die beste belang van die aandeelhouers op te tree.

LEES OOK: Hier is die redes vir die teenkanting teen Wiese

Shoprite wil wegdoen met die stem-aandele en het verlede jaar gesê hy het breë ondersteuning in beginsel vir die kansellering van die spesiale stem-aandele gekry.

Verlede jaar is ’n transaksie aangekondig van R3,3 miljard om die spesiale stem-aandele van hom terug te koop.

Aandeelhouers was egter heftig daarteen gekant en het gesê dit is ’n “buitensporige prys” wat aangebied word.

LEES OOK: ‘Buitensporige’ prys sink Shoprite se plan

Of hy weer planne het om die stemdraende aandele te probeer verkoop, het hy gesê daar is geen planne op die oomblik nie “maar ’n mens weet mos nooit hoe die wêreld kan ontwikkel nie”.

Bykomende bronne: Bloomberg

Meer oor:  Shoprite  |  Pepkor  |  Wendy Lucas-Bull  |  Christo Wiese  |  Supermark  |  Winkelgroep  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.