Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wiese: Verslag wys gronde vir eis van R59 mjd.

Die inligting verbaas hom nie, maar dit bevestig die bedrog waarop sy reuse-eis van R59 miljard teen die Steinhoff-groep gegrond is, het Christo Wiese, voormalige voorsitter en grootste aandeelhouer van die groep, gesê.

Christo Wiese, voormalige voorsitter van Steinhoff. Foto: Getty Images

Dit was sy kommentaar op die eerste inligting oor die bevindings van die forensiese ondersoek na ongerymdhede in Steinhoff se boeke, wat die groep Vrydag in ’n mediaverklaring uitgereik het.

Die bevindings toon dat transaksies van meer as R100 miljard sedert 2009 aangegaan is met verwante partye wat voorheen as onafhanklik voorgehou is. Die transaksies het Steinhoff se wins en die waarde van sy bates wesenlik oordryf.

’n “Senior uitvoerende bestuurder” het die instruksies vir dié transaksies aan ’n klein groepie topbestuurders gegee om te struktureer en te implementeer.

Wiese het die grootste aandeelhouer in Steinhoff geword nadat die groep ’n paar jaar gelede sy belang in Pepkor gekoop het. Ná die ineenstorting van die maatskappy se aandeelprys in Desember 2017 het hy die belang in Steinhoff verloor en kort daarna as voorsitter bedank.

Wiese se Titan-groep-maatskappye het daarna in April verlede jaar ’n eis van R59 miljard teen twee Steinhoff-maatskappye – wat onderskeidelik in Suid-Afrika en in Nederland geregistreer is – aanhangig gemaak.

Die eerste eis is gebring om ’n ooreenkoms van 2015 te kanselleer waardeur Wiese se Titan-groep aandele in Steinhoff gekry het nadat Pepkor by hom en ander aandeelhouers gekoop is. Hulle eis dat die geld terugbetaal word.

Die tweede eis hou verband met ’n kapitaalinspuiting wat die Titan-groep Steinhoff in 2016 met die verkryging van Mattress Firm in Amerika gegee het.

Wiese het Maandag gesê hy het nie toegang tot die uitvoerende opsomming van die forensiese verslag nie, maar hy het Vrydag die mediaverklaring van 11 bladsye oor die bevindings van die verslag gesien wat Steinhoff uitgereik het.

Hy meen hoewel die inligting nie werklik nuut is nie, word ’n paar punte in die verklaring gemaak wat insiggewend is. “Die eerste is dat die bedrog al baie, baie jare gelede begin het,” het hy gesê.

Die verklaring toon dat die bedrog al in 2009 begin het omdat een van die fiktiewe of onreëlmatige transaksies wat geïdentifiseer is, in daardie jaar voorgekom het.“Alle aanduidings is egter dat dit al vroeër begin het,” meen Wiese.

Hy het gesê die tweede interessante punt is dat die bedrog deur ’n “klein kabaal” van mense gepleeg is.

“Almal spekuleer nou wie die uitvoerende mense is en die meeste mense aanvaar al wie dit is, maar die name moet maar mettertyd bekend gemaak word.”

Of die inligting sy eis gaan bevoordeel, sê hy: “Ons eis is gegrond op bedrog. Ons het dit al laasjaar in April gesê nadat die voorsitter van die maatskappy op die jaarvergadering gesê het daar is duidelike tekens dat die winste en bates oor die jare oordryf is. Hierdie bevestig dit net.”

Wiese se eis is tans die grootste wat bekend is.

Tekkie Town

Tekkie Town se voormalige stigter en eienaars, Braam van der Huyssteen, Bernard Mostert en ander, eis hul onderneming van Steinhoff terug.

“Ons is nou in ’n posisie waar grootskaalse bedrog bevestig word deur ’n ouditverslag. Ons het een doel voor oë en dit is om geregtigheid te sien seëvier deur ons besigheid terug te kry,” sê Van Huyssteen.

“Daarvoor vertrou ons op die regsproses en hopelik sal Steinhoff nou  die eerbare ding doen deur die proses te bespoedig en te vergemaklik.

“Die verslag behoort in detail  die betrokkenes en omvang van die bedrog bloot te lê. Daarna sal die reg sy gang gaan. Soos ek ’n jaar gelede gesê het, ek is nie God of die regter nie.”

Mostert sê die inligting wat Vrydag uitgereik is, is “ uiters skokkend en teleurstellend”.

Hy sê hul transaksie was regstreeks met Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, en die mees senior bestuurslede.

“As ons geweet het dat daar R100 miljard se vals wins en inkomste en bates in Steinhoff was, sou ons nooit ons transaksie aangegaan het nie.

“Wat aan ons belowe is, was nie waar nie, en wat aan ons gegee is, was waardeloos.”

Hulle het ’n aandele-ruiltransaksie in 2016 met Steinhoff aangegaan en hul aandele is feitlik niks werd nie. Tekkie Town word nou deur ’n filiaal van Steinhoff, Pepkor, besit.

Hy is teleurgesteld en ontnugter omdat Steinhoff praat van regstellende stappe, maar niks laat blyk dat hy Tekkie Town aan hulle gaan teruggee nie.

Hy sê Van Huyssteen het Tekkie Town opgebou van een winkel tot ’n nasionale winkelgroep en het die transaksie met Steinhoff aangegaan omdat hulle nuwe geleenthede gesoek het.

“Geld was nie vir Braam of my of enigiemand die motivering nie, maar ons was deur geleenthede gemotiveer. Dis ontnugterend dat daai geleentheid weggevat is.”

Hy meen Steinhoff moet besluit om die transaksie met hulle te kanselleer sodat hulle hul onderneming kan terugkry, omdat dit vertroue sal gee in die herstelproses wat Steinhoff belowe gaan kom om dit wat verkeerd is, reg te stel.

Mostert het die naweek in ’n verklaring ’n beroep op oudpersoneel van Tekkie Town gedoen om te vergewe. “Maar dit beteken nie ek wil nie hê die dade moet ongestraf wees nie,” sê hy.

As iemand tronkstraf kry, moet dit van so aard wees dat so iets nie weer gebeur nie: “Ons het al te veel gesien sulke goed gebeur en gebeur net weer.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Pwc  |  Christo Wiese  |  Markus Jooste  |  Winkelgroepe  |  Bedrog  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.