Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Christo Wiese voorgetrek deur Steinhoff, kla eiser

’n Skuldeiser van Steinhoff voer aan dat Christo Wiese, voormalige grootste aandeelhouer, voorgetrek word in die voorgestelde skikking van die groep met die aandeelhouers wat eise teen hom ingestel het.

Christo Wiese, billionaire and chairman of Steinho
Conservatorium het in September suksesvol in die hooggeregshof in Kaapstad toegetree tot die eis wat Wiese se ondernemings Thibault en Titan teen Steinhoff ingestel het vir die verlies wat gely is met die ineenstorting van die groep se aandeelprys. Foto: Getty Images

Die Amerikaanse maatskappy Conservatorium sê dit is hoekom hy onlangs teen die voorgestelde skikkingsooreenkoms gestem het en hoekom hy ook die reëlingskema gaan teenstaan wat Steinhoff in November in Britse howe gebring het om skuldeisers se goedkeuring vir die voorstel te kry.

Steinhoff wil skik met die partye wat eise teen hom ingestel het omdat die voortslepende regsgedinge ’n skadu gooi oor sy kanse om te oorleef.

Die voorgestelde skikkingsooreenkoms is in Julie uitgereik. Dit moet eers die goedkeuring van al Steinhoff se skuldeisers, aan wie honderde miljarde rande geskuld word, kry. Nadat hulle dit goedgekeur het, sal die aandeelhouers met wie Steinhoff wil skik, die geleentheid kry om daaroor te stem.

Indien die skuldeisers nie die vereiste goedkeuring gee nie, gaan die moontlikheid van ’n likwidasie oorweeg word, sê Steinhoff in ’n verduidelikende dokument oor die reëlingskema wat onlangs uitgereik is. 

Steinhoff kon onlangs nie die vereiste goedkeuring van 100% van twee groepe skuldeisers kry nie en die reëlingskema betrek net vir hulle. 

LEES OOK: Likwidasie: Steinhoff-eisers kry ‘eers in 2031’ iets

Die twee reëlingskemavergaderings vind 15 Desember plaas waar hulle oor die skikkingsvoorstel moet stem.

In die verduidelikende dokument sê Steinhoff hy is reeds deur twee verwante krediteure ingelig dat die reëlingskema teengestaan gaan word. Dit is waarskynlik Conservatorium en ’n verwante krediteur.

Wie is Conservatorium?

Conservatorium het in September suksesvol in die hooggeregshof in Kaapstad toegetree tot die eis wat Wiese se ondernemings Thibault en Titan teen Steinhoff ingestel het vir die verlies wat gely is met die ineenstorting van die groep se aandeelprys.

LEES OOK: Hieroor gaan twis oor Wiese se eis teen Steinhoff

Conservatorium verteenwoordig sewe van die agt banke wat in 2016 ’n reuse-lening verskaf het aan die Nederlands geregistreerde maatskappy Upington, waarvan Wiese in daardie stadium die meerderheidsaandeelhouer was en waarin ander partye soos Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, ook belange gehad het.

Die geld is deur Upington van die banke geleen om Steinhoff-aandele te koop om sodoende finansiering aan die groep te verskaf vir die verkryging van die kleinhandelmaatskappye Mattress Firm en Poundland.

Conservatorium voer aan Upington het Steinhoff-aandele, tesame met die verwante eise wat aan die aandele gekoppel is, as sekuriteit vir die lening gegee.

Steinhoff se kantore in Stellenbosch. ’n Reëlingskemavergadering op 15 Desember waarop skuldeisers oor die skikkingsvoorstel moet stem, is dalk gedoem. Foto: Edrea du Toit

Nadat Steinhoff se aandeelprys einde 2017 ineengestort het toe ongerymdhede met sy boeke aangekondig is en Jooste bedank het, het Upington in gebreke gebly om die uitstaande bedrag te betaal, wat sowat 1 miljard beloop het (R18,5 miljard teen vandag se wisselkoers).

Conservatorium het in die hofsaak aangevoer ná Steinhoff se ineenstorting het Wiese die reg op die eise aan sy Titan-maatskappy oorgedra.

Conservatorium voer aan dat hy die eienaar is van die regte om ’n eis teen Steinhoff in te stel.

Wat het verander?

In die gewysigde skikkingsvoorstel wat Vrydag in die verduideliking oor die reëlingskema uitgereik is, word die twee eise wat Wiese se ondernemings teen Steinhoff ingestel het, nou anders behandel as in die aanvanklike skikkingsvoorstel.

In die oorspronklike skikkingsooreenkoms is voorgestel dat die voorgestelde skikkingsbedrag vir albei opsygesit word en net uitbetaal word wanneer die dispuut tussen Wiese en Conservatorium, oor wie die eienaarskap van die eise hou, uiteindelik besleg is.

Ingevolge die hersiene voorstel het Steinhoff besluit om die skikkingsbedrag van die een eis aan Titan te betaal, ten spyte daarvan dat Conservatorium dit betwis dat Wiese daarop geregtig is. Die skikkingsbedrag wat hier ter sprake is, beloop R7,9 miljard.

Die skikkingsbedrag vir die ander eis (wat sowat R1,5 miljard beloop) word steeds opsygesit totdat die dispuut tussen Wiese en Conservatorium opgelos is.

Conservatorium is van mening dat Steinhoff nie sy eis in die voorgestelde skikking billik hanteer nie.

Conservatorium se siening is dat albei die eise geldig betwis word, soos die hooggeregshof in Kaapstad in September bevestig het toe die maatskappy verlof gekry het om tussenbeide te tree in die eise wat Wiese se ondernemings teen Steinhoff gebring het.

Conservatorium sê dit is duidelik ’n kwessie wat deur ’n hof besleg moet word.

Daarom word die gewysigde voorstel tot nadeel van Conservatorium beskou.

“Conservatorium is bekommerd dat Wiese se eise deur Steinhoff bevoordeel word, ten koste van hom,” sê Michael-James Currie, ’n senior prokureur, en John Oxenham, ’n direkteur van Nortons. Nortons is Conservatorium se regsverteenwoordigers in Suid-Afrika.

“Conservatorium is van mening dat Steinhoff nie sy eis in die voorgestelde skikking billik hanteer nie.”

Steinhoff sê in die verduideliking oor die reëlingskema die wysiging bied ’n mate van buigsaamheid om spesifieke teenpartykwessies op te los.

Dit hou waarskynlik verband met die hantering van twee vooruitbetalings wat die groep in Oktober en November 2017 aan ondernemings van Wiese (wat toe voorsitter van die direksie was) verskaf het as deel van ’n beoogde transaksie met die Shoprite-groep. Dié transaksie het ná Steinhoff se ineenstorting deur die mat geval, maar die Wiese-ondernemings moet nog 200 miljoen (R3,7 miljard in vandag se wisselkoers) terugbetaal. ’n Skikking oor een van die vooruitbetalings, wat R2,3 miljard beloop het, is in Februarie 2018 bereik.

Wiese wou by navraag nie kommentaar lewer nie omdat dit met regsgedinge verband hou.

Meer oor:  Steinhoff  |  Upington  |  Christo Wiese  |  Markus Jooste  |  Meubelhandel  |  Sakeredding  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.