Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vier van Steinhoff betrek, toon ondersoek
Steinhoff het sy maandelikse vorderingsverslae aan die kommissie, asook die name van die betrokke individue, vertroulik kragtens art. 212 van die Maatskappywet voorsien.

Die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) het ’n voldoeningsertifikaat aan Steinhoff uitgereik nadat vier mense geïdentifiseer is wat by beweerde oortredings betrek word.

Dit kom nadat die kommissie op 29 Januarie ’n nakomingskennisgewing aan Steinhoff uitgereik het om binne ses maande individue te identifiseer wat betrokke was by boekhoukundige ongerymdhede en strafregtelike aanklagte teen hulle aanhangig te maak.

Steinhoff sê die nakomingsertifikaat is op 11 September ontvang.

Asogaren Chetty, hoof van toesig en wetstoepassing van die kommissie, het einde Augustus op die parlementêre sitting oor Steinhoff gesê vier name is aan die kommissie verskaf van mense wat by beweerde oortredings betrek word. Hy mag nie die name bekend maak nie.

Dit blyk nou uit ’n vorderingsverslag wat die kommissie aan die parlementêre komitees verskaf het dat ’n “spesifieke saak teen die individue” geopen is.

Dit is reeds bekend dat Heather Sonn, voorsitter van Steinhoff, in Augustus ’n strafregtelike aanklag by die Valke ingedien het. Dit is egter nie bekend waaroor hierdie aanklag handel en teen wie dit geopen is nie.

Steinhoff het sy maandelikse vorderingsverslae aan die kommissie, asook die name van die betrokke individue, vertroulik kragtens art. 212 van die Maatskappywet voorsien.

“Die CIPC het die versoek om vertroulikheid aanvaar omdat die openbaarmaking van hul identiteit en die maandelikse verslae se inhoud die polisie se strafregtelike ondersoek in gevaar kon stel,” het Chetty gesê.

Kragtens die nakomingskennisgewing moes Steinhoff binne ses maande:

1. Die individue identifiseer wat betrokke was by die vervalsing van rekeningkundige opgawes van die maatskappy; verwante eenhede en afdelings; assosiaatmaatskappye; gesamentlike ondernemings; of filiale.

2. Strafregtelike sake by die polisie open, ongeag in watter geografiese gebied, teen die individue wat geïdentifiseer is.

3. Siviele stappe doen teen die individue kragtens art. 77 van die Maatskappywet (wat handel oor die aanspreeklikheid van direkteure en voorgeskrewe beamptes) en sekere dele van art. 162 (waarkragtens direkteure tot wetsoortreders verklaar kan word) en soortgelyke wetgewing in ander jurisdiksies waar maatskappy; verwante eenhede en afdelings; assosiaatmaatskappye; gesamentlike ondernemings; of filiale bedrywig is.

Dit is nie duidelik hoe hierdie vereiste nagekom is nie.

Dit is reeds bekend dat Steinhoff die handelshof in Amsterdam versoek het om Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, te heg by ’n groepsgeding wat daar deur die beleggersvereniging VEB begin is. Dit is nie duidelik uit die CIPC se vorderingsverslag of Steinhoff ook siviele stappe gedoen het teen die ander individue wat geïdentifiseer is nie.

Die CIPC stel dit in die vooruitsig dat die verslag van PwC, wat na verwagting teen Desember grootliks voltooi gaan wees, “nog individue by name gaan identifiseer” en die bedrae gaan toon wat die grondslag van verdere siviele optrede teen dié individue kan vorm.

Die CIPC het aanbeveel art. 214 (wat handel oor vals verklarings, roekelose gedrag en nienakoming) saamgelees met art. 216 (wat handel oor boetes) moet ook op eksterne maatskappye van toepassing gemaak word.

Steinhoff is ’n eksterne maatskappy omdat hy in Nederland geregistreer is.

Die CIPC gaan voort om maandeliks met Steinhoff te vergader tot einde Februarie 2019 om nakoming verder te monitor. Einde Februarie is gekies omdat dit ’n maand is nadat Steinhoff se geouditeerde jaarstate vir 2018 na verwagting uitgereik gaan word.

Meer oor:  Steinhoff  |  Cipc  |  Markus Jooste  |  Heather Sonn  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.