Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Clicks-baas skrik nie vir moeilike tye
Clicks se nuwe uitvoerende hoof, Vikesh Ramsunder. Foto: Verskaf

Die moeilike marktoestande skrik nie die Clicks-groep se nuwe uitvoerende hoof af nie en die uitbreiding van winkels gaan versnel word.

“In hierdie moeilike omgewing beplan Clicks om te kapitaliseer op geleenthede en om die uitbreiding van sy winkels te versnel,” sê Vikesh Ramsunder, wat pas sy eerste stel resultate as uitvoerende hoof uitgereik het.

Ramsunder werk al 25 jaar vir die Clicks-groep en was die bedryfshoof van die Clicks-winkels voordat hy ’n paar maande gelede as uitvoerende hoof aangestel is. Hy het oorgeneem by David Kneale wat 13 jaar die hoof was.

Ramsunder neem oor te midde van baie moeilike handelstoestande. Hy is tevrede met die afgelope halfjaar se resultate, want Clicks se belangrikste produkkategorieë wen steeds markaandeel. Hy meen dit was ’n “naatlose oorgang” en byna net ’n uitbreiding van sy vorige pos.

Normaalweg open die groep sowat 25 tot 30 nuwe Clicks-winkels per jaar. Volgens hom gaan 41 nuwe winkels in die huidige boekjaar geopen word.

Die groep het in die halfjaar tot einde Februarie 17 nuwe Clicks-winkels en 18 apteke geopen.

Die groep het nou 680 Clicks-winkels en 528 apteke.

Die groep se omset het met 6,2% tot R15 miljard gestyg en die bedryfswins het skerper met 11% tot R1 miljard gestyg.

Dit was in ’n omgewing van lae inflasie, trae ekonomiese groei en verbruikersbesteding wat onder druk gebly het.

“Ten spyte van die moeilike toestande het die groep markaandeel gewen, marges uitgebrei, sterk kontant geskep en die betaling aan aandeelhouers verhoog.”

Lees ook: Clicks se Kneale tree na 13 jaar af

Hy skryf dit toe aan die markte waarin Clicks bedrywig is – medisyne en skoonheidsmiddels – wat in sulke moeilike toestande grootliks bestendig bly.

Daarom wil die groep voordeel trek uit die geleenthede in die moeilike omgewing en sy winkeluitbreidings versnel.

Verkope het met 8,5% gestyg. “Die groei is hoofsaaklik vanweë die mededingende pryse en aanloklike promosies in die moeilike verbruikersomgewing.”

Op die oog af lyk dit of die verkope in Clicks se apteke in die afgelope halfjaar tot einde Februarie stadiger gegroei het as verlede jaar – groei van 8,9% teenoor 20%.

Ramsunder sê verlede jaar se syfer het ook die uitwerking getoon van die Netcare-apteke wat onder die kleinhandelaar se vlerk gekom het.

Boonop was inflasie verlede jaar hoër vergeleke met amper geen inflasie in die afgelope halfjaar nie.

Oor sy belangrikste fokus in die eerste paar maande as uitvoerende hoof, sê hy: “Dit was beslis om deur die moeilike handelstoestande te maneuver; te hou by die strategie en nie daarvan af te wyk nie en die span se fokus op die verbruikers en hul behoeftes te hou.”

Vergeleke met die vergelykende omsetgroei in winkels wat sterk was op 4,5%, het die vergelykende koste skerper met 5,4% gestyg.

Huur is een van ons grootste uitgawes en ons wil dit ten minste op inflasie hou. Dit was tipies in die afgelope jare bo inflasie.
Vikesh Ramsunder

Oor hoe hy koste in die komende halfjaar in bedwang gaan hou, sê Ramsunder dat die grootste fokus in winkels is om doeltreffendheid te verbeter en marges te verhoog.

Volgens hom gaan marges verhoog word deur meer van Clicks se eie-handelsmerkprodukte te verkoop. Die verskuiwing na eie-handelsmerkprodukte het reeds in die halfjaar die groep se marges help verhoog. Die groep wil uiteindelik die verkope van dié produkte tot bo 30% opstoot, en dit is nou op byna 23%.

Volgens Ramsunder gaan hulle ook met onderhandelings met verhuurders begin om beter huurverhogings te kry.

“Huur is een van ons grootste uitgawes en ons wil dit ten minste op inflasie hou. Dit was tipies in die afgelope jare bo inflasie.”

Personeel in winkels gaan ook beter bestuur word, maar dit beteken beslis nie afleggings nie. Volgens hom voeg die groep 600 tot 1 000 nuwe personeellede elke jaar by.

Die groep het sy tussentydse dividend met 15% tot 118c per aandeel verhoog.

Clicks se aandeelprys het in ’n stadium Woensdagoggend nadat die resultate uitgereik is, stewig met 11% tot R196 gestyg. Dit het later byna 5% hoër as die vorige sluitingsprys op R185 verhandel.

Meer oor:  Clicks  |  Resultate  |  Maatskappye  |  Kleinhandel  |  Inflasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.