Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Clicks ‘het genoeg Sasria-dekking’

Clicks het sy stem gevoeg by dié van die meeste genoteerde maatskappye wat verseker hulle het deur die South African Special Risks Insurance Association (Sasria) voldoende dekking vir verlede week se onlusteskade.

Clicks moes medisyne van Johannesburg na Durban vlieg toe die N3 gesluit was weens geweld.

Die apteekgroep sê hy het ook ander korttermynversekering vir onder meer voorraadverliese en sake-onderbreking.

Soos die meeste maatskappye wat nog somme maak, sê Clicks hy kan nog nie die randwaarde van die skade bepaal nie.

Altesame 47 winkels van die Clicks-groep, 38 van hulle met apteke, kon nog nie ná die plundery heropen word nie. Dit sluit 15 winkels in waar inentings toegedien is.

Die maatskappy het Vrydag in ’n Sens-verklaring gesê 54 Clicks-winkels en twee verspreidingsentrums, een van Clicks en een van sy groothandelaar, UPD, is geplunder en beskadig, van hulle deur brande. Dit verteenwoordig 6% van die groep se winkels landwyd.

Altesame was 365 winkels in die groep, 339 van Clicks en 26 van The Body Shop, Dinsdag – die hoogtepunt van die geweld in KwaZulu-Natal en Gauteng – gesluit.

Dit het 127 inentingsplekke ingesluit.

Clicks het tans landwyd 280 inentingsplekke wat oop is.

Die maatskappy sê omdat sy verspreidingsentrums geplunder is en paaie gesluit was, is medisyne in ’n stadium van verspreidingsentrums in Kaapstad, Gqeberha en Centurion na Johannesburg geneem en toe vanaf die O.R. Tambo-lughawe na Durban gevlieg.

Die UPD-verspreidingsentrum sal na verwagting weer op 26 Julie in bedryf gestel word en die Clicks-verspreidingsentrum ’n week later.

Soos ander winkelgroepe noem Clicks dat hy sy besteding aan private veiligheidsdienste verhoog het om sy verspreidingsentrums te beskerm. Ander bykomende koste is vir lugvervoer.

Die groep beskou dié bykomende uitgawes nie as “wesentlik” nie en Clicks sal daaroor verslag doen wanneer hy weer resultate uitreik.

Clicks se direksie spreek sy “opregte dank” uit aan almal wat gehelp het om die groep se geriewe te beskerm en te herstel en om voorraad aan te vul.

Clicks het Donderdag gesê mense wat voorskrifte het vir chroniese medisyne by ’n apteek wat nog toe is, kan hier gaan kyk watter apteek nou daardie voorskrif sal kan verskaf.

LEES OOK: Clicks heropen tientalle takke vir inentings ná onluste

Mense wat sukkel met chroniese medisyne, kan ook Clicks se hulpsentrum by 0860 254 257 kontak.

Meer oor:  Clicks  |  Apteke  |  Inentings  |  Kleinhandelaars  |  Entstof-Program  |  Plundery En Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.