Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Clicks-klante los rooi lippe, maar drink vitamiene
Clicks ClubCard se lede het met 500 000 gegroei in die boekjaar. Foto: Nellie Brand-Jonker

Grimering het swak verkoop tydens die inperking die afgelope maande omdat mense maskers moet dra, maar vitamiene, aanvullings en huishoudelike toestelle het goed verkoop.

Dit is van die tendense wat Clicks die afgelope maande in sy winkels beleef het.

Vikesh Ramsunder, uitvoerende hoof van die groep, sê gesondheidsprodukte het die sterkste omsetgroei in die boekjaar tot einde Augustus getoon. Dit sluit in vitamiene en aanvullings wat verbruikers vir die voorkoming van siektes koop en om hul immuniteit te verhoog. Vitamiene en aanvullings het meer as 23% gegroei. “In ’n pandemie wil mense nie siek word nie, so hulle begin fokus op voorkomende gesondheidsorg.”

Handreinigers styg skerp

Die winkelafdeling vir skoonheidsprodukte en persoonlike sorg is geraak deur die vereiste om maskers te dra, mense wat van die huis werk en die beperking op verkope op vlak 5 van die inperking. Dié afdeling se verkope het met 4,7% gestyg.

Ingesluit in die afdeling is die produkkategorie seep wat ’n uitsonderlike vertoning gelewer het en die omset het met 58% gegroei weens die vraag na handreinigers, sê hy.

Tuisbly bring verkope

Die winkelafdeling vir algemene handelsware, wat lank tydens die inperking nie verkope kon doen nie, het “bevredigende groei” van 8,8% getoon.

Dit is danksy mense wat van die huis gewerk het. Dit het gelei tot ’n groter vraag na elektriese toerusting wat insluit huishoudelike toestelle wat met 20% gestyg het.

Geen griep, verkoue

Apteke het die swakste gevaar van sy winkelafdelings met verkope wat net met 3% gestyg het in die boekjaar en glad nie gestyg het in die laaste halfjaar vergeleke met die ooreenstemmende tydperk nie.

Dit word toegeskryf aan die feit dat daar nie juis ’n verkoue- en griepseisoen in die winter was nie vergeleke met die vorige jaar wat ’n baie groot seisoen was. Hy sê die verspreiding van die siektes is beperk deur die inperking, mense wat van die huis gewerk het, skole wat gesluit was en minder internasionale reise.

Winkelsentrums vermy

Nog ’n tendens wat die pandemie meegebring het, is dat verbruikers groot winkelsentrums begin vermy het.

Die feit dat 74% van die groep se winkels in kleiner winkelsentrums geleë is, het gehelp om die wesenlike daling in besoekers in groot winkelsentrums in die land teen te werk.

Mense het egter ook verkies om hul medisyne by winkels naby aan hul huise te koop of om dit te laat aflewer.

Dit het daartoe gelei dat Clicks se apteke effens markaandeel verloor het en onafhanklike apteke deur dié inkopietendense tydens die inperking bevoordeel is.

Nog ’n rede daarvoor is dat die apteke tuisaflewering van medisyne gedoen het.

Clicks het nog ’n betreklik klein markaandeel van die koerier-apteekmark, sê hy.

Daarom gaan Clicks van begin November ’n afleweringsdiens vir medisyne van sy winkels af aanbied.

Die groep se farmaseutiese groothandelaar UPD het ook baat gevind by die sterker groei wat onafhanklike apteke getoon het omdat die maatskappy ook medisyne aan hulle verskaf.

UPD se verkope van medisyne aan onafhanklike apteke het met 16% gestyg terwyl die verkope aan Clicks net met 3,8% gestyg het.

Inperking help koste bespaar

Omdat Clicks se winkels oop was tydens die hele inperking en UPD ook kon handel dryf, het die groep se omset sterk met 9,6% tot R34,4 miljard gestyg.

Die groep se wins het sterker met 12% tot R1,8 miljard gestyg.

Ramsunder sê dit is weens uitgawes wat minder gegroei het as wat kleinhandelverkope gestyg het.

Koste is besnoei op dinge soos geen reise wat plaasgevind het nie en handelsure wat korter was.

Volgens hom is daar ook baie bespaar op oortyd omdat winkelsentrums korter ure oop was.

“Aptekers is ’n groot uitgawe en ons kon geld bespaar op aflosaptekers.”

Die winsgroei van UPD van 13% het bygedra tot die groep se sterk winsgroei.

Kerstyd in die tyd van korona

Hy glo Swart Vrydag gaan vanjaar groter wees omdat “platsak verbruikers goeie promosies soek”.

Swart Vrydag maak deel uit van die belangrikste kwartaal vir kleinhandelaars in die jaar en van feestydverkope.

Clicks het reeds begin met ’n promosieveldtog voor Swart Vrydag – “Hoekom wag vir Swart Vrydag”.

Ander winkelgroepe gaan ook promosies verleng om ’n stormloop na winkels op Swart Vrydag te voorkom midde in die pandemie.

“My grootste vrees is dat mense ophou om versigtig te wees en infeksies so gaan laat styg. Dit sal ’n wesenlike invloed op die ekonomie hê.”

Hy sê Clicks het nog landwyd een of twee winkels per week wat toegemaak moet word oor infeksies, maar dit het afgeneem teenoor ’n tyd gelede.

Hy sê al hul voorraad vir die Kerstyd is reeds in die winkels.

“Ons het ons bestellings reeds vroeg in April geplaas omdat ons geweet het daar gaan ontwrigting in verskaffingskettings wees weens die pandemie. Ons is gereed vir Kerstyd en Swart Vrydag.”

Promosies word al meer

Die lojaliteitsprogram ClubCard se lede het met 500 000 toegeneem ondanks minder besoekers die afgelope paar maande tydens die inperking in winkels. Daar is nou 8,6 miljoen lede.

Inkopies deur klante het 78% van die verkope verteenwoordig.

Die persoonlike aanbiedings aan lede van Clicks Clubcard is een van die groep se strategieë vir groei op lang termyn, sê hy.

“Die versterking van lojaliteit deur die skakeling met klante en persoonlike aanbiedinge is noodsaaklik om langtermyngroei te ondersteun. Die databasis van ClubCard-lede is ’n strategiese voordeel wat ’n platform verskaf waarop ons ons klanteskakelingstrategie kan bou.”

In Maart is begin met myClubCard se persoonlike aanbiedings op Clicks se app. Die app is al deur 1,1 miljoen klante afgelaai.

Ramsunder sê besparings word al hoe belangriker vir verbruikers gegewe die moeilike ekonomiese toestande.

Promosies het in die boekjaar met 15% toegeneem. Verkope op promosie beloop nou 40% van omset.



Meer oor:  Clicks  |  Covid-19  |  Apteek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.