Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Clicks: ‘Só kan ons met inentings help’

Clicks kan tussen 600 000 en 700 000 inentings per maand in sy 601 apteke en 192 klinieke doen.

Clicks
Clicks is aggressief besig om uit te brei, met die opening van 40 winkels en 36 apteke wat oor die volgende paar maande beplan word.

Sy groothandelsafdeling, UPD, het die vermoë en infrastruktuur om entstof te help versprei, ook dié wat teen baie lae temperature vervoer en geberg moet word, het Vikesh Ramsunder, uitvoerende hoof van die Clicks-groep, Donderdag met die bekendmaking van die groep se halfjaarresultate gesê.

Hy sê Clicks werk nou met die departement van gesondheid en ander instellings saam om steun vir die entstofprogram te verskaf, deur Clicks selfs sowel as deur UPD.

In dié stadium staan Suid-Afrika se entstofprogram basies stil, maar mense van 60 jaar of ouer kan al vir inentings registreer.

Tot op hede is 62 Clicks-apteke geregistreer om gesondheidswerkers te help inent.

“Die entstofprogram sal na verwagting die herstel van die ekonomie aanhelp,” sê Ramsunder.

Hy beskou dit steeds as ’n wesentlike gevaar dat ’n derde vlaag infeksies kan uitbreek in die maande wat kom.

Dít terwyl daar meer as twee weke ná die Paasnaweek steeds geen teken is van ’n skerp styging in Covid-19-gevalle landwyd nie, hoewel provinsies soos die Vrystaat ’n oplewing beleef.

Clicks verwag nie om ’n wins te maak uit inentings nie, net om gelyk te breek, maar Ramsunder sê die prys sal deur die regering vasgestel word.

Musica

Intussen het Clicks bevestig dat die laaste 11 Musica-winkels hul deure op 31 Mei sluit. R4 miljoen se voorraad was nog teen einde Februarie op Clicks se boeke, maar hy voorsien nie dat afskrywings nodig sal wees nie – baie voorraad is op konsessie aanvaar.

Ramsunder sê dis ’n hartseer dag vir Clicks dat ’n ikoniese Suid-Afrikaanse handelsnaam sterf wat meer as vyf dekade vermaak aan verbruikers verskaf het.

“Ons het al jare gelede besef die sakemodel is nie meer volhoubaar nie,” sê Ramsunder. “Ons het Musica se sluiting egter op ’n verantwoordelike en gefaseerde manier behartig om die impak op aandeelhouers, werknemers en verskaffers te beperk. Amper al Musica se werknemers is binne die groeiende Clicks-kettingwinkelgroep opgeneem.”

Musica het einde Januarie nog 516 werknemers gehad, tans moet net 53 nog by Clicks-winkels geplaas word.

LEES OOK: Fluit-fluit, Musica se deuntjie is uit

Lesers het voorheen goeie herinneringe oor hul belewenis by Musica gedeel, maar baie het besef stromingsdienste het die winkels oudmodies gemaak.

Musica het in die ses maande nog R33 miljoen se verkope behaal, maar dis 71,1% minder as in dieselfde ses maande tot Februarie 2020.

LEES OOK: Só voel lesers oor sluiting van Musica

Clicks se halfjaar

Clicks het stewige resultate vir die halfjaar tot einde Februarie aangekondig.

Die groep se totale omset het met 7,6% tot R18,1 miljard gestyg en sy bedryfswins met 9,7% tot R1,4 miljard.

Clicks trek voordeel uit verbruikers wat steeds baie vitamiene en gesondheidsprodukte koop om gesond te probeer bly, met verkope hiervan ’n hele 24,7% hoër. Verkope by apteke in hospitale styg ook goed.

Aan die ander kant verloor Clicks wins omdat mense minder grimering koop omdat baie mense steeds van die huis af werk en maskers dra wanneer hulle uitgaan.

Die voeteval in groter winkelsentrums is ook steeds baie laer as voor die Covid-19-pandemie, wat Clicks-winkels in sentrums benadeel.

In syfers

Die syfers vir Clicks se halfjaar tot einde Februarie lyk soos volg:

  • Omset styg met 7,6% tot R18,1 miljard.
  • Bedryfswins styg met 9,7% tot R1,4 miljard.
  • Bedryfswinsgrens styg van 7,4% tot 7,5%.
  • Wesensverdienste styg met 8,1% tot R920 miljoen.
  • Verwaterde wesensverdienste per aandeel styg met 9,5% tot 371c. As Musica uitgesluit word, sou die syfer met 14,1% gestyg het.
  • ’n Tussentydse dividend van 142,5c per aandeel word uitgekeer.

    Kleinhandel

    Omset in winkels as Musica uitgesluit word – dus grootliks Clicks, maar ook The Body Shop en Claire’s en verkope van die sportaanvullingsreeks GNC – het met 7,2% tot R12,8 miljard gestyg. Daarvan was 4% die vergelykbare verkope, dus van winkels wat ook in dieselfde helfte van die vorige boekjaar oop was.

    Vikesh Ramsunder, Clicks se uitvoerende hoof.

    Prysstygings is gemiddeld tot 3,2% beperk.

    Clicks noem wel dat sy winsgrens in winkels gedaal het omdat die mengsel produkte wat mense koop verander het.

    Die “winkel” wat die vinnigste groei, is Clicks se aanlyn verkope, wat met 167% opgeskiet het.

    Groothandel

    UPD, Clicks se groothandelsafdeling, het sy omset met 9% tot R8,1 miljard gelig. Dit kan aan meer verkope by hospitale weens die pandemie toegeskryf word. Die groep wen ook markaandeel in die groothandel, van 27,2% in Februarie 2020 tot 30,6% vanjaar.

    UPD se grootste kliënt het sy kontrak vir vyf jaar verleng.

    Clicks-apteke verteenwoordig R3 miljard van UPD se omset.

    Nuwe winkels

    Clicks het die afgelope ses maande 17 nuwe winkels oopgemaak en het nou altesame 760 winkels.

    Die groep het in Februarie sy 600ste apteek oopgemaak en dit toe intussen ook al verbygesteek – daar is nou 601 apteke.

    Met soveel winkelruimte beskikbaar weens die sluiting van ander winkels, gryp Clicks die kans aan om uit te brei. Die groep wil voor einde Augustus 40 nuwe winkels (36 van hulle met apteke) oopmaak en 40 winkels opknap.

    Kapitaalbesteding van R745 miljoen word vir die res van die jaar beplan.

    Ramsunder sê al dié nuwe winkels is in geriefsentrums naby woonbuurte. Clicks is reeds in 199 van die 200 grootste winkelsentrums in die land.

    Die Covid-19-pandemie het die voeteval by winkelsentrums laat daal en dié by geriefsentrums laat styg. Dis egter moeiliker om plek te kry.

    Ramsunder sê hulle het meer as ’n dekade gewag om plek te kry in die Nicolweg-winkelsentrum in Sandton.

    Hy sê hulle verlustig hulle nie daarin dat plek oopgegaan het weens die sluiting van ander ondernemings nie, maar benut wel die geleentheid ter wille van toekomstige groei.

    Vooruitsigte

    Clicks verwag dat dinge maar uitdagend sal bly gegewe dat die land steeds deur Covid-19 geraak word.

    Die groep verwag dat sy verwaterde wesensverdienste vir die voljaar, tot einde Augustus, tussen 8% en 13% hoër as in 2020 gaan wees.

    Dié voorspelling geld vir as daar nie weer streng inperkings vir ’n derde vlaag infeksies kom nie. Dit neem ook nie enige impak van Clicks se deelname aan die entstofprogram in ag nie.

    Meer oor:  Upd  |  Musica  |  Clicks  |  Apteke  |  Inentings  |  Skoonheid  |  Covid-19  |  Kleinhandelaars  |  Entstowwe  |  Gesondheid  |  Kleinhandel  |  Koronavirus  |  Derde Vlaag
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.