Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Clover-transaksie kry laaste regmerkie
Clover, bekend vir sy suiwelprodukte, het die groen lig gekry vir 'n oorname transaksie. Foto: Clover

Clover mag uitgekoop word deur die konsortium beleggers onder leiding van die Israelse Coca-Cola-botteleerder Central Bottling Company (CBC).

Die Mededingingskommissie het Vrydag aanbeveel dat die verkryging van Clover deur die nuutgestigte Milco goedgekeur word. Die Mededingingstribunaal bekragtig gewoonlik net sodanige aanbevelings.

Milco bestaan onder meer uit International Beer Breweries, ’n filiaal van CBC, IncuBev en die private-ekwiteitsfirma Ploughshare Investments. CBC sal 60% van Clover besit, IncuBev 8%, Ploughshare 11%, die Clover-bestuur 6% en ’n bemagtigingsvennoot 15%.

Die Mededingingskommissie gee toe dat mense weens die samesmelting hul werk kan verloor omdat daar oorvleueling tussen CBC se belange in die land en Clover bestaan.

Die kommissie wys daarop dat Gat Givat Haim (Gat Foods), ’n filiaal van CBC, sap en sapkonsentraat in Suid-Afrika versprei. Daarby beheer Ploughshare Investments vir Coca-Cola Peninsula Beverages, die maatskappy wat Coca-Cola-produkte in die Wes- en Noord-Kaap vervaardig en versprei.

Daarom stel die kommissie sekere voorwaardes. Dit sluit in:

  • Geen werknemers mag vir ’n sekere tyd afgelê word nie (daar word nie gesê vir hoe lank nie).
  • ’n Aantal nuwe, permanente poste moet binne ’n bepaalde tydperk vanaf die samesmelting geskep word.
  • ’n Fonds vir die heropleiding van werknemers ter waarde van R10 miljoen moet geskep word.
  • Indien enige nuwe vakatures ontstaan, moet voorkeur gegee word aan mense wat hul werk ná die samesmelting verloor het.

Clover en Milco het tot dié voorwaardes ingestem.

Die bemagtigingsvennoot is op die oomblik nog die Kaapse beleggingsbeheerfirma Brimstone. Brimstone het vroeër aangekondig hy onttrek hom aan die transaksie ná besware deur die pro-Palestynse organisasie Boycott Divestment Sanctions South Africa. Hy het in April gesê hy onderhandel met ’n ander party wat as bemagtigingsvennoot wil intree, maar sedertdien is niks verder gesê nie.

Die goedkeuring deur die Mededingingstribunaal, wat oor die volgende weke verwag word, sal die laaste stap wees voordat Clover denoteer.

Clover word vir R25 per aandeel verkoop.

Meer oor:  Clover
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.