Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Club of Rome kom Stellenbosch toe

Die internasionale leierskapgroep The Club of Rome hou later vanjaar vir die eerste keer sy jaarlikse konferensie in Suid-Afrika.

Die embleem van The Club of Rome.

The Club of Rome, welbekend vir die bepalende verslag in 1972 genaamd The Limits to Growth, gaan in November by die Spier-wynlandgoed buite Stellenbosch byeenkom.

The Limits to Growth word beskou as ’n klassieke werk in die omgewings- en volhoubaarheidsbeweging. Dit was die eerste gesaghebbende ondersoek na hoe lewensvatbaar onbeperkte ekonomiese groei is en die impak daarvan op die mens se ekologiese voetspoor.

The Club of Rome het destyds baie van die internasionale probleme voorspel wat vandag getrotseer moet word.

Die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir Toekomsnavorsing is die gasheer van die konferensie. Dié instituut se ontstaan is juis geïnspireer deur die Limits to Growth-verslag, sê dr. Morné Mostert, direkteur van die instituut, in ’n verklaring.

Die nou reeds beroemde eerste verslag, ‘The Limits to Growth’, van The Club of Rome in 1972.

Dit was nadat die bekende Suid-Afrikaanse sakemagnaat dr. Anton Rupert van dié verslag kennis geneem het dat hy die universiteit aanbeveel het om die instituut te begin.

Dr. Mamphela Ramphele van Suid-Afrika is mede-voorsitter van The Club of Rome.

Die temas waarop die konferensie sal fokus is klimaatsverandering en die impak daarvan in Suid-Afrika weens onder meer Eskom se lugbesoedeling in veral Mpumalanga; nuwe ekonomiese modelle en oplossings vir Suid-Afrika; nuwe finansieringsmodelle; en nuwe maniere van naasbestaan en beskawing te midde van voorvalle van vreemdelingehaat en konflik oor skaars hulpbronne.

Wat is The Club of Rome?

’n Toespraak van ’n suksesvolle Italiaanse nyweraar, Aurelio Peccei, oor sy kommer oor die tempo van ekonomiese ontwikkeling, die agteruitgang van die omgewing en verskille in welvaart, het in 1967 op die tafel van die Skotse wetenskaplike Alexander King beland.

King was so beïndruk dat hy Peccei gekontak het, en in 1968 het hulle ’n konferensie in Rome gereël waar 30 Europese wetenskaplikes, ekonome en sakelui vergader het. Die aanvanklike byeenkoms was ’n mislukking, maar daarvandaan het die organisasie ontwikkel as ’n denkleier in toekomsnavorsing.

Navorsers aan die Massachusetts Instituut vir Tegnologie in Amerika het The Club of Rome se eerste amptelike verslag, The Limits to Growth, in boekvorm opgestel. Dit is in meer as 30 tale vertaal en 16 miljoen eksemplare is al verkoop.

Die organisasie se lidmaatskap is beperk tot sowat 100 vooraanstaande kenners in ’n verskeidenheid sektore en dissiplines. Hy kry finansiering van ’n reeks internasionale organisasies en individue, maar maak nie op sy webblad bekend wie hulle is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.