Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
CMH verminder personeel met 24% weens inperking

Combined Motor Holdings (CMH) is swaar getref deur die staat van inperking, maar gaan steeds ’n dividend aan beleggers uitbetaal nadat hy Maandag sy halfjaarresultate uitgereik het.

First Car Rental
First Car Rental is 'n huurmotorgroep wat aan CMH behoort. Foto: Twitter

Die groep wat First Car Rental, asook motorhandelaars vir 17 verskillende motorhandelsname bedryf, sê hy het ’n groot slag agter die rug na aanleiding van die inperking wat hom vir maande verbied het om sake te doen.

CMH sê hy kon van 27 Maart tot 12 Mei glad nie sake doen nie.

Daarna kon slegs ’n derde van sy bedrywighede hervat, hoofsaaklik in die afdeling vir onderdele.

Dis eers op 8 Junie dat CMH weer oop was vir sake en teen daardie tyd is die skade al aangerig.

CMH sê in ’n verklaring op sy webtuiste dat die inperking beteken het sy resultate vir die ses maande tot einde Augustus “glad nie” meer lyk soos die vorige jaar se halfjaar nie.

Maar die direksie is “trots” dat die maatskappy geen bykomende lenings aangegaan het tydens die inperking om kop bo water te hou nie.

Sy kontantposisie het blykbaar hoofsaaklik die maatskappy aan die gang gehou, tesame met verskeie kostebesparings.

CMH het sy arbeidsmag met 24% gesny.

Maar die wat oorgebly het moes ook verminderde salaris vir die hele boekjaar aanvaar.

Van 1 April moes personeel wat R7 000 per maand verdien het 7,5% van hul salaris prysgee. Die skaal werk opwaarts tot en met die bestuurslui wat 20% van hul salaris moes prysgee.

Maar dis nie net slegte nuus nie.

CMH sê dat al is sy motorverkope nog nie op vlakke van voor die inperking nie, is daar hoop vir sy motorverhuringsonderneming.

Hierdie afdeling het die swaarste gekry, reken CMH, aangesien geen reise onderneem is tydens die inperking nie. Toerisme sukkel steeds om aan die gang te kom sedert die bedryf eers teen middel Augustus oopgestel is.

Maar CMH sê sy afdeling het oorleef waar ander nie het nie.

Dit beteken hy het nou markaandeel gewen teenoor sy voormalige mededingers wat hom sal help om in die maande wat kom weer op dreef te kom.

Sy verlies beloop R14,26 miljoen vir die ses maande tot einde Augustus.

Dis teenoor ’n wins van meer as R90 miljoen in die ooreenstemmende tydperk in 2019.

Sy wesensverdienste per aandeel het van R1,20 tot ’n wesensverlies van 14c per aandeel getuimel.

Die maatskappy het wel steeds ’n dividend van R1 aangekondig.

CMH het dus ’n 63,9%-styging in sy dividend aangeteken ondanks sy treurige finansiële resultate.

Die maatskappy sê dit is hoofsaaklik moontlik omdat hy nie in Februarie ’n dividend uitbetaal het nie, en nou daarvoor wil vergoed.

SowatR74 801 998 gaan vanuit inkomstereserwes uitbetaal word as deel van die verklaring van die dividend, en beleggers kan die betaling op 15 Desember verwag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.