Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Coke-bewyse oor suikertaks ‘te dik vir ’n daalder’

Coca-Cola het glo vir die parlement gelieg toe hy met mening baklei het teen suikerbelasting, sê navorsers.

Drie akademici het vir die nuutste uitgawe van die gesondheidstydskrif Globalization and Health gedoen wat parlementslede duidelik nié gedoen het nie: die fynskrif en bronverwysings van Coca-Cola se voorleggings gaan lees . . .

’n Argieffoto van een van Coca-Cola se advertensieveldtogte.

Die akademici Gary Jonas Fooks en Simon Williams, albei verbonde aan die Aston-Universiteit in Birmingham, Brittanje, en die Australiër Gary Sacks van die Wêreldgesondheidsorganisasie kom tot die gevolgtrekking dat belanghebbendes in Suid-Afrika se suikerbelasting-raadplegingsproses baie kreatief geraak het.

Van die blapse wat Coca-Cola ’n skakering rooier kan laat, sluit in:

Oordrewe rekeningkunde: Coca-Cola het bepaalde rekeningkundige tegnieke gebruik om die uitwerking wat die suikerbelasting op indiensneming, inkomste en die BBP sou hê te vererger. Syfers van ’n Oxford Economics-verslag is voorgehou waarin geraam is dat die belasting tot tussen 62 000 en 72 000 werksverliese kan lei. In der waarheid het die verslag gesê dit kan lei tot 60 600 en 70 700 werksverliese.

Halwe waarhede: Coca-Cola het aangevoer dat Mexiko, waar ’n suikerbelasting ingestel is, die verbruik van koeldranke met net 17 kilojoules verminder het. Die navorsing waarop die inligting gegrond is, stel dit egter duidelik dat Mexikane al hoe minder kilojoules begin inneem het soos wat die belasting wasdom bereik het. Dié inligting is weerhou in Coca-Cola se voorlegging.

Bedenklike bronne: Die koeldrankreus het glo verslae se inligting voorgehou waarvoor daar min bewyse bestaan. In een so ’n navorsingstuk waarop Coca-Cola gesteun het, is bevind verbruikers neem minder kalorieë in wanneer hulle ’n koeldrank saam met ’n maaltyd drink.

In sy voorleggings aan die parlement het Coca-Cola ook sterk staatgemaak op inligting wat in ’n verslag vervat is, maar wat in opdrag van die bedryf self uitgevoer is.

’n Coke-advertensie van die 1950’s. Foto: Getty Images

Die akademici skryf dis darem nie net Coca-Cola nie. Hul gevolgtrekking uit die Suid-Afrikaanse deelnameproses as gevallestudie is dat verskeie korporatiewe maatskappye hul belange só bevorder.

“Die soort besware wat korporatiewe maatskappye lug teen regeringsbeleid en die bewyse wat hulle aanvoer om hul argumente te staaf, blyk geloofwaardig te wees wanneer dit afsonderlik gesien word, maar dit is uiteindelik teenstrydig en verwarrend wanneer dit in samehang met ander inligting beskou word.”

Die parlement se openbaredeelnameproses waaraan Coca-Cola deelgeneem het, was in 2016 en 2017.

Die belasting is uiteindelik in April 2018 in werking gestel en het luidens syfers wat die nasionale tesourie vroeër vanjaar bekend gestel het, R2,7 miljard vir die regering ingevorder.

Rapport het vroeër berig Coca-Cola het stilweg die formules van die meeste van hul koeldranke verander om die suikerinhoud minder te maak – en só belasting te vermy – deur onder meer kunsmatige versoeters in produkte soos Creme Soda en Iron Brew te gebruik wat nie voorheen die geval was nie.

Coca-Cola het ook die groottes van hul bottels verklein om koste te spaar en die belasting te verminder.

Coca-Cola Internasionaal het aan Rapport gesê hy staan by die navorsing wat in 2016 voorgelê is en by sy standpunt dat ’n belasting op gaskoeldranke wat suiker bevat nie die mees optimale beleid is om nieoordraagbare siektes soos diabetes te bestry nie.

“Ofskoon nie Coca-Cola of sy bottelary-filiale die suikerbelasting teenstaan nie, glo die maatskappy dat ’n diskriminerende belasting soos die heffing op suiker slegs aandag gee aan een aspek in mense se dieet.”

Meer oor:  Coke  |  Coca-Cola  |  Suiker  |  Belasting  |  Suikerbelasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.