Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Comair blaas nuwe lewe in sy direksie
Een van Kulula se vliegtuie. Foto: Kulula.com

Comair het nou nuwe bloed in sy direksie ná klagtes van aandeelhouers en selfs sy uittredende uitvoerende hoof, Lindsay Ralphs, dat die lugdiens nie vernuwe nie.

Vyf nie-uitvoerende direkteure en twee uitvoerende direkteure het die afgelope paar maande bedank. Die voorsitter, Pieter van Hoven, is ook vervang, maar bly as direkteur aan.

In ’n Sens-verklaring het die maatskappy die aanstelling van ses nuwe direkteure aangekondig. Die vier nuwelinge op die direksie is:

  • Kapt. Colin Jordaan, ’n voormalige hoofbestuurder van vlugbedrywighede by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en voormalige direkteur van die Burgerlugvaartowerheid. Jordaan, wat in 2015 afgetree het, is die eerste vlieënier wat op die SAL se direksie aangestel is.
  • Nompumelelo (Mpumi) Madisa, aangewese uitvoerende hoof van die logistiekfirma Bidvest. Sy sal Ralphs later vanjaar opvolg.
  • Farzanah Mall, ’n geoktrooieerde rekenmeester en konsultant. Mall het vantevore onder meer vir KPMG gewerk en was nasionale president van die Businesswomen’s Association.
  • Tebogo Mekgoe, uitvoerende direkteur van die advies- en-strategiemaatskappy Orenda en hoof van die Henley-sakeskool se MBA-program. Mekgoe het byna 17 jaar lank vir die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika gewerk, onder meer as bedryfshoof, en was hoofbestuurder van die OR Tambo- Internasionale Lughawe en die Oos-Londen-lughawe.

Ander skuiwe is ook aangekondig:

  • Naran Maharajh, reeds ’n direkteur en voorsitter van die ouditkomitee, is aangewys as die leidende onafhanklike, nie-uitvoerende direkteur. Sy aanstelling is onmiddellik van krag. Hy vervang Van der Hoven, wat op 9 Januarie skielik bedank het.
  • Kim Gorringe is aangestel as die maatskappy se nuwe maatskappysekretaris. Hy het meer as 30 jaar ervaring van regulatoriese en wetlike sake in die lugdiensbedryf en is tans Comair se uitvoerende bestuurder oor korporatiewe beheer, risiko en voldoening. Hy vervang Derek Borer op 16 Februarie.
  • Dr. Avsharn Bachoo is aangestel as inligtingshoof en sal op 1 Februarie sy pos inneem. Hy is ’n tegnologiestrateeg met kennis van onder meer digitale transformasie, data-ontleding en masjienleer en het al as konsultant vir onder meer Google, Microsoft en IBM gewerk.

Die aanstellings kom nadat Van Hoven se bedanking as voorsitter en Borer se bedanking uit die maatskappy onlangs aangekondig is. Erik Venter het in die middel van verlede jaar as uitvoerende hoof en Kirsten King as finansiële hoof bedank.

Martin Moritz, dr. Pieter Welgemoed en Rodney Sacks het ook onlangs as direkteure bedank. Moritz, Sacks, Van der Hoven en Welgemoed het onderskeidelik 40, 39, 46 en 25 jaar in die direksie gedien.

Comair bedryf Kulula en British Airways in Suid-Afrika.

Ralphs het op die maatskappy se jaarvergadering in Oktober verwys na die “ouderdomsprofiel” van die direksie en vernuwing sy prioriteit gemaak.

Charl Kocks, kundige in korporatiewe bestuur van Ratings Afrika, het onlangs aan Rapport gesê: “Die ouderdom van 70 is ’n waterskeiding vir ratsheid van begrip en die eise van nuwe tegnologiese verwikkelinge. Tweedens, om meer as tien jaar saam in ’n direksie te dien, het dikwels die gevolg dat een direkteur ’n ander direkteur se sienings antisipeer, en lei maklik tot groepdenke eerder as tot die ondersteuning van nuwe bestuursplanne.”

Comair reik eersdaags sy tussentydse resultate uit. Sy jaarsyfers het verlede jaar slegs ’n wins getoon danksy die skikking van R1,268 miljard wat die SAL aan Comair betaal het.

Die skikking met die SAL spruit uit ’n regstryd wat verband hou met die SAL se teen-mededingende aansporingskemas vir reisagente wat langer as 13 jaar gesloer het.

Die groep se wins voor belasting (die SAL-skikking uitgesluit) het in die boekjaar tot einde Junie 2019 met 82% tot R86 miljoen gekrimp weens stygende brandstofkoste en valutawisselings, benewens ekstra koste wat hy moes aangaan omdat sy Boeing 737 Max 8 nie kan vlieg nie.

Meer oor:  British Airways  |  Kulula  |  Comair  |  Lugdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.