Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Comair gaan aflê te midde van reis-krisis
Comair, wat Kulula en British Airways in Suid-Afrika bedryf, gaan begin met grootskaalse afleggings.

Comair, wat Kulula en British Airways in Suid-Afrika bedryf, gaan werknemers aflê te midde van die korona-krisis, wat mense oorsese en plaaslike reise laat uit- of afstel.

Die maatskappy sê in ’n verklaring hy het Maandag met ’n art. 189-proses ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge begin. Daar is geen aanduiding van hoeveel mense Comair ontslae wil raak nie.

Die afleggings is nie regstreeks Covid-19 se fout nie, maar Wrenelle Stander, uitvoerende hoof van Comair, gee toe dit vererger die maatskappy se bestaande probleme. “Die lugdiens het vlugte gekanselleer en gekombineer in reaksie op laer vraag. Ons sal aanhou om ons bedrywighede by die snel veranderende situasie aan te pas.”

Sy sê hoewel die maatskappy se inkomste in die eerste ses maande van sy boekjaar met 3% gegroei het, kan hy nie styging van 14% in koste volhou nie. Dit spruit uit beleggings wat onderpresteer het en onderhoudskoste wat aansienlik gestyg het.

SAL Tegnies (SAAT) se onvermoë om Comair se vliegtuie bevredigend in stand te hou, het beteken hy moes die duurder dienste van Lufthansa Technik aanskaf.

Die maatskappy sê die oorskuif het hom duur gekos.

Stander sê Comair beskou sy personeel as sy grootste bate en is diep bedroef dat afleggings dreig. “Ons gaan voort om kostebesparingsmaatreëls groepwyd in te stel om die impak op ons personeel te versag.”

Dit kom nadat Comair reeds in die eerste helfte van sy boekjaar ’n verlies gely het.

Die maatskappy het ’n wesensverlies van R564 miljoen aangeteken in die ses maande tot einde Desember, vergeleke met ’n wesensverdienste van R126 miljoen in die vorige jaar.

Dit was voordat die Covid-19-uitbreking tot reisbeperkings en grootskaalse ontwrigting in die lugdiensbedryf begin lei het in Maart.

’n Groot rede vir hoekom Comair so sukkel is danksy die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL). Die SAL het in versuim om ’n betaalskedule te eerbiedig wat as deel van skadevergoeding vir teenmededingende gedrag aan Comair verskuldig is.

Die R1,1 miljard-skadevergoeding, wat die SAL in maandelikse paaiemente moes afbetaal vanaf 28 Februarie 2019 tot 28 Julie 2022, het in Desember opgedroog nadat die SAL op 5 Desember in sakeredding geplaas is.

Die SAL se sakeredders het egter nou al vir ’n tweede uitstel vir hul sakereddingsplan gevra, nou om rede dat die ontwrigting van Covid-19 ’n moontlike herstrukturering nog verder bemoeilik.

Die SAL se sakereddingspraktisyns het vroeg in Maart aangekondig dat moontlik die helfte (sowat 2 379) van die SAL se werkers afgedank sal moet word as deel van sy herstrukturering.

Comair skryf verder ’n groot deel van sy verlies ook toe aan die voortslepende skandaal oor die foutiewe Boeing 737 Max, wat steeds nie mag vlieg nie.

Meer oor:  Kulula.Com  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Comair  |  Afleggings  |  Maatskappye  |  Lugdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.