Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Comair gaan geld van Boeing eis

Comair gaan skadevergoeding eis van Boeing nadat die onttrekking van die Boeing 737 MAX die groep se vlootvernuwingsprogram ontwrig het.

’n Boeing 737 MAX.

Die vliegtuie is wêreldwyd aan diens onttrek nadat een van Ethiopian Air­lines se Boeing 737 MAX-vliegtuie op 10 Maart geval het. Al 157 mense aan boord is dood.

Dit was die tweede lugramp waarin ’n 737 MAX betrokke was. Die vorige was toe ’n vliegtuig van die Indonesiese Lion Air op 29 Oktober verlede jaar in die Java-see neergestort het. Al 189 mense aan boord is dood.

Voorlopige bevindings deur die Ethiopiese lugvaartowerhede toon dat die ongeluk waarskynlik verband hou met ’n outomatiese vlugbeheerstelsel. Dieselfde stelsel het vermoedelik bygedra tot die Lion Air-ongeluk.

Boeing is tans besig om die stelsels te verbeter en het intussen opgehou om nuwe 737 MAX-vliegtuie af te lewer.

Comair, wat op die JSE genoteer is, het agt van die vliegtuie bestel en het daarop gereken dat die nuwe vliegtuie sy bedryfskoste gaan verlaag.

Die lugdiens, wat vliegtuie onder die British Airways- en Kulula-handelsmerk bedryf, het op 27 Februarie sy eerste 737 MAX in ontvangs geneem en was veronderstel om die tweede op 18 Maart te ontvang. Die aflewering van die laaste vliegtuig was vir 2022 beplan.

Selfs voordat die vliegtuie wêreldwyd aan diens onttrek is en voordat die Suid-Afrikaanse Burgerlike Lugvaartowerheid ’n besluit kon neem, het Comair uit sy eie besluit om sy nuwe vliegtuig vir eers nie te gebruik nie. Dit word steeds nie gebruik nie.

Comair se aandeelprys was sedert die begin van die jaar onder druk en swakker tussentydse resultate wat op 20 Februarie bekend gemaak is, het nie gehelp nie.

Sedert die 737 MAX onttrek is, het die aandeelprys verder gedaal van net meer as R5,00 tot waar dit Vrydagmiddag gestaan het op R4,50.

Comair het aan Rapport gesê die groep is deurlopend in gesprek met Boeing en gaan alle koste van die groep eis wat aangegaan word omdat hulle nie die nuwe vliegtuie kan bedryf soos hulle beplan het nie.

Comair het nie uitgewei oor die tipe en omvang van onvoorsiene uitgawes nie, maar Rapport het verneem dat dit die parkeergelde kan insluit vir die vliegtuig wat hulle wel in ontvangs geneem het, asook die huur van ’n plaasvervanger en verwagte besparings wat nie gerealiseer word nie.

Die 737 MAX is ’n gewilde produk vir Boeing en volgens berigte lewer die maatskappy tans 52 van hulle per maand. Die plan was om produksie teen Junie te verhoog tot 57 per maand en later tot 63. Pleks daarvan het Boeing ná die rampspoedige ongelukke aangekondig dat produksie van die 737-familie van vliegtuie ingekort word tot 42 vliegtuie per maand.

Meer oor:  Boeing  |  Comair  |  Lugdienste  |  Boeing 737 Max 8  |  Vliegtuigongeluk  |  Vliegtuie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.