Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Comair het noodplan ingeval SAL-staking uitbrei

Comair, wat British Airways en Kulula bedryf, sê hy het ’n gebeurlikheidsplan indien sy personeel aan die verwoestende staking by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gaan begin deelneem.

Comair bedryf Kulula en British Airways in Suid-Afrika.

Die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) het Woensdag bevestig dat hul plan vir ’n sekondêre staking om die ganse lugvaartbedryf te betrek van stapel gestuur word.

Kennisgewings vir die sekondêre staking is reeds oorhandig aan sowel Comair as Air Chefs.

Numsa het ook ’n beroep op werkers in die lugvaartbedryf gedoen om in solidariteit met hom te staak en lede van die vakverbond Saftu was reeds betrokke by die betogingsaksie by die SAL se Airways Park Woensdag.

Comair het Woensdag aan Fin24 bevestig dat Numsa nog nie deur al die stappe is om wel te kan begin staak by dié lugdiens nie.

“Voordat Numsa ’n staking kan begin, moet hy eers ’n geheime stemming van sy lede hou en daarna 48 uur se kennis gee aan Comair,” het die lugdiens aan Fin24 gesê.

“Comair het nog nie die vereiste 48 uur-kennisgewing ontvang nie.”

Die maatskappy het ook bevestig dat daar planne ingestel is om sy bedrywighede aan die gang te hou al sou die staking voortgaan.

“Comair het gebeurlikheidsplanne sou ons grond- en/of kajuitpersoneel kies om hul staakreg uit te oefen.”

Numsa en Sacca staak nou al vir ses dae by die SAL.

Phakamile Hlubi-Majola, Numsa-woordvoerder, het Woensdag aan Netwerk24 gesê die vakbonde se vertroue in die SAL se bestuur is gebreek nadat die lugdiens ’n belowende loonaanbod van 6,5%, “wat die staking sou beëindig het”, ter elfder ure Dinsdagaand teruggetrek het.

Onderhandelinge duur tans voort en die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) is ook tans betrokke.

Hlubi-Majola sê sy hoop die voortdurende vergaderings dra vrugte, maar sy is nie meer hoopvol nie.

Die vakbond reken die lugdiens word deur bankrotskap in die gesig gestaar, of hy nou verhogings aan sy werknemers toestaan of nié.

As daar nie ’n aanbod is wat wys die lugdiens sal verander nie, sal Numsa nie sy staking stopsit nie, het Hlubi-Majola gesê.

“Ons staak om die lugdiens van homself te red.”

– Fin24, bygewerk

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.